Mellet Moll en Nini Bennett gesels met Johan Coetzee van Naledi
Die Afrikaanse poësiegemeenskap het die afgelope klompie jare toenemend van Naledi kennis geneem. Die opwaartse kurwe wat hierdie onafhanklike uitgewery toon, val op. Ook die moeite wat gedoen word met omslae en drukkwaliteit. Hierdie tendens het veral ná die pandemie duidelik geword. Waar heelwat vooraanstaande uitgewers van Afrikaanse poësie hulle rieme moes styftrek na die pandemie, het Naledi van krag tot krag gegaan. Die meeste van ons het ook mettertyd bewus geraak van die persoon agter hierdie uitgewer: Johan Coetzee. Hy bly egter vir die meeste van ons ’n enigmatiese figuur. Die lang, skraal en bruingebrande man wat tydens boekbekendstellings in die agterhoede staan en luister, seker maak dat die gaste gemaklik is, die kollig vermy, en wat beleefd groet wanneer verbygangers sy geselskap opsoek. Ons het met Johan gesels sodat lesers van poësie hom beter leer ken. Johan was besorgd of hy werklik die kollig van ’n onderhoud met Versindaba verdien, maar het uiteindelik geredelik ingestem.
Mellet Moll (MM)
Goeiedag, Johan. Die mense op Versindaba weet min van jou af. Kan jy jouself dalk bekendstel: wie is jy, waar kom jy vandaan, waar was jy op skool, waar en waarin het jy studeer, en wat was die pad wat jy geloop het tot en met die totstandkoming van Naledi?
Johan Cotezee (JC)
Hallo, Mellet. Vir die mooi opmerkings in jou inleiding en die eer wat julle my aandoen sê ek baie dankie.
Lynthia Julius sê in haar artikel in Sondag 6 Augustus se Rapport Weekliks: “Jy moet leer om jou bek in jou gat te steek”. Ek vereenselwig my daarmee. Ek praat ook nie maklik oor myself nie. Ek het nie veel om op te roem nie.
Op Laerskool Jozua Naudé het ek geleer dat my dade die praatwerk moet doen: van Gr 1 tot matriek (aan Roodepoort Hoërskool) was ek die vinnigste oor die 100 meter en ek het in verskeie ander sportsoorte uitgeblink. Sport was die rede waarom ek skool toe gegaan het.
Met klaswerk het die onderwyser se lat die praatwerk gedoen. Ek was ietwat moedswillig en het slegs dít geleer wat vir my mooi en belangrik was in plaas van dít wat ek moes. Ander, volgens my, onbenullige akademiese feite, het soms by my verbygegaan.
Dit is nie toevallig dat ek die bundel Kitaar my Kruis van Adam Small reeds gekoop het toe ek op hoërskool was nie. Ek kan omtrent al die gedigte tot vandag toe woordeliks onthou.
My pa was ’n sersant in die polisie en het gereeld met vinielplate by die huis aangekom. Ek het elkeen seker 500 keer geluister. Musiek speel steeds ’n belangrike rol in my lewe. In standerd ses het my pa met André P. Brink se Kennis van die aand by die huis aangekom. Op bevel van ’n oom met ’n swart hoed en pak klere moes dit van die rakke verwyder word. My pa het gesê ek kan die boek maar lees. Daar was later amper nie meer ’n boek in Roodepoort se biblioteek wat ek nog nie gelees het nie. Vandag ken ek steeds amper elke titel. My grootstes was Nikos Kazantsakis se Zorba the Greek en sy Christ Recrucified, asook Solzhenitsyn se One day in the life of Ivan Denisovich en The Gulag Archipelago.
Ek is ’n dromer, maar ek hou baie daarvan om dinge te doen. Ek was al in 22 lande. Met my fiets langs die Malawimeer afgery. Die Alpe baie kere gestap. In mere in Finland geswem. Was met ’n boot onder die Iguazu in Argentinië en het reeds 29 keer valskerm gespring. Perd gery op Lagos se strand.
Ek is my hele lewe lank ’n aktivis vir geregtigheid ongeag ras of geslagsvoorkeure. Reeds in die 1960’s het my pa ’n swart konstabel aan ons kombuistafel laat aansit vir koffie. In 1978 het ek my B.Th by Unisa gedoen. Toe reeds was daar swart studente wat goed genoeg was vir teologiese studies. Daar is ook reeds vroue toegelaat. Ons het selfs ’n Rooms-Katolieke non as dosent gehad. Vir nog baie jare daarna was Stellenbosch en Pretoria se teologiese skole steeds spierwit en net vir mans. Die grootste skade ooit in ons land was nie die politici nie, maar die kerk. Hulle het saam met die regering in dieselfde bed geslaap terwyl hulle eintlik die gewete moes wees.
Ek is hardkoppig en leef die een ding wat die lewe my geleer het: om nooit op te hou indien ek in iets glo nie. Ek fokus deesdae daarop om kind en compassionate te probeer wees.
Nini Bennett (NB)
Hallo, Johan. Ek het al die voorreg gehad om projekte saam met jou af te handel. Ek gaan akkoord daarmee dat jy ’n baie spesiale aanslag met mense het. Maar vertel ons meer van Naledi: hoe en wanneer het dit ontstaan, waarop was dit gefokus en hoe dit gekom het dat Naledi in sy huidige vorm tot stand gekom het?
JC
Dankie vir jou vraag, Nini. Ek het in Malcolm Gladwell se The Tipping Point gelees dat dit 10 000 uur neem om iets van substansie te bereik. Ek trek nou by 20 000 uur. Dis dus nou hoog tyd. Deur die jare was daar verkeie mense wat ’n geweldige bydrae gelewer het om ons tot hier te bring: mense soos my seun, my persoonlike binnekring, asook iemand soos Melt Myburgh. Daar was ook skrywers soos Roland de Vries, Daniel Louw, Lina Spies en Leon Wessels wat ’n rol gespeel het in ons vormingsjare.
Miskien is een van die belangrikste dinge wat met my gebeur het, die foute wat ek gemaak het en die lesse wat ek daaruit geleer het. Ek moes vroeër in my lewe reeds met my droom begin het om vir myself te werk en boeke uit te gee.
Sedert 1978 was ek nog altyd werksaam in die bestuur van die boekbedryf. Op ’n stadium was ek Perskor in Midrand se hoofbestuurder van hulle algemene uitgewery. Totdat ek 18 jaar gelede, in 2005, besluit het om ’n uitgewery te stig. Die naam het ek in my Noord Sotho-klas in standerd ses geleer: Naledi – ster.
Ek het die regte bekom van TO Honiball se trilogie, Oom Kaspaas; Adoons – hulle. Dit was die begin. Ek het geweet dat Waarom lewe ek van Viktor Frankl toe reeds baie jare uit druk was en het die regte gekry vir ’n heruitgawe. Daniel Louw van Stellenbosch Universiteit het dit opnuut vertaal en Nelson Mandela se storie bygewerk.
Toe luister ek een oggend na Hein Kruger op RSG se geldsake en hy vertel dat hy gereeld Warren Buffet se jaarvergadering in Omaha bywoon. By so ’n vergadering vra iemand vir Charlie Munger: “Waar begin mens om kinders oor geldsake te leer?” Sy antwoord: “Daar is net een boek: The Richest Man in Babylon.” Toe Hein by die ateljee uitstap bel ek hom en sê: “Kom ons vertaal die boek”.
Na reeds 10 herdrukke is die boeke wat ek saam met RSG uitgegee het, die begin van ons storie. Ons het meer as 50 000 van Amore Bekker se Tjailaresepte 1 en 2 verkoop. Baie ander RSG-boeke soos Wat sê die Prokureur? Sterre en Planete; Antoinette Pienaar se Antoinette sê; en Francois du Rand se Die Menslike Dieretuin.
Ons betrokkenheid by digkuns se verhaal begin by Randall Wicomb se begrafnisdiens waar Lina Spies my gevra het of ek haar bundel Sulamiet sal uitgee.
NB
As jy Naledi in sy huidige vorm moet beskryf, kan jy dalk vir ons lesers verduidelik wie en wat is Naledi en wie werk almal vir julle?
JC
Ek het gereeld na die Frankfurtse boekeskou toe gegaan. Só het ek agterkom dat die boekewêreld begin verander het. Ek het die musiekbedryf dopgehou en lank voordat Musica sou toemaak, dit sien kom. Dit het my laat besef dat die tradisionele boekwinkels dalk ook nie gaan oorleef nie, maar dat boeke altyd sal bly. Ons het dus ons besigheidsmodel hierop baseer en ’n virtuele boekwinkel geskep waarvan die oorhoofse koste baie laag is.
Ons het ’n kernspan waarvan Tertia Swart my bystaan met die logistieke aspekte. Die afgelope 15 jaar werk ons ontwerper, Karen Cronjé, en ’n span redigeerders op ’n vryskutbasis vir ons.
Ons gebruik ook kundige persone vir spesifieke projekte. So is Karen de Wet baie nou betrokke by ons projek saam met die SAAWK oor die Hertzogpryswenners. Vir ons digbundels is die spesialiskennis van kundiges onontbeerlik. Die grondslag van ons strategie in die poësie is die besef dat die kwaliteit ononderhandelbaar is.
MM
Dit was opvallend dat die pad wat Naledi geloop het beide suksesse en teleurstellings ingehou het. Die aanvanklike resepsie/ontvangs van julle publikasies was soms fel, maar met verloop van tyd was dit opmerklik dat julle bly voortbeur het totdat die ontvangs van julle publikasies verbeter het en ons iewers, miskien gedurende die afgelope 18 maande, tot die besef begin kom het dat Naledi ’n belangrike rolspeler geraak het wat vandag met erns bejeën word. Daar moes baie kritiek en teleurstellings gewees het langs daardie pad. Hoe het jy daardie kritiek verwerk en wat het uiteindelik die deurslag gegee dat Naledi hierdie kritiek oorkom?
JC
Ek kan nie ontken dat ons soms drooggemaak het met sekere aspekte van uitgewerswese nie. Soms het ons koste probeer bespaar en ander kere het ons probeer om té vinnig te veel te doen. Maar ons het ook in hierdie proses sekere dinge reg gedoen.
Persepsies is ook soms maar die moeder van alle fokops.
Hennie Aucamp se kosbare gedagte dat die voortbestaan van die onafhanklike uitgewer krities noodsaaklik is, mag nie vergeet word nie.
Blitsverkopers soos André Pretorius se Italiaanse Intermezzo is deur ons uitgegee. Hy het ook die Andrew Murray-prys gewen met Geloof Alleen – Reise deur die Kerkhervorming, nog ’n Naledi-publikasie.
Sommige van ons publikasies is ook in Nederlands vertaal en daar uitgegee.
Ons het ook verskeie Nederlandse vertalings uitgegee, byvoorbeeld Benno Barnard se Die Trouservies (Daniel Hugo die vertaler); Wium van Zyl se vertaling van Nooit meer slaap nie en Fanie Olivier se vertaling van De saak Alzheimer meer onlangs.
NB
Naledi het die afgelope jaar verskeie toonaangewende digbundels en poësieverwante boeke uitgegee. Dit sluit boeke in die SAAWK se huldigingsreeks oor Hertzogpryswenners in, nuwe digbundels van onder meer Marlise Joubert, Johann Lodewyk Marais, Hein Viljoen, Fanie de Villiers en vertaalbundels deur Rina Cascione, Louise Cilliers en Bester Meyer, met heelwat ander in die pyplyn, asook ’n belangrike akademiese publikasie deur Charl-Pierre Naudé. Waarom wend digters hulle toenemend tot Naledi, en wat maak Naledi anders as ander uitgewers?
JC
Dankie, Nini. Jy moet nie vergeet van De Waal Venter nie. Om by bogenoemde vraag aan te sluit: ek en Iris Bester het Adam Small se herdenkingsbundel Vi’ Adam Small uitgegee. Dit is een van die kosbaarste ervarings wat ’n uitgewer kon hê. Baie bekende digters het bygedra tot die projek.
Ek het Adam Small by sy huis gaan besoek. Ek het ook sy drama, Maria, Moeder van God uitgegee. Toe sê hy vir my hy wil hê ek moet al sy nuwe werk uitgee. Dit was vir my ’n voorreg om by hom en Rosalie te kon kuier.
Naledi is ’n uitgewer wat nie in ons kontrak vereis dat skrywers hulle volgende werk(-e) by ons uitgee nie. Skrywers moet na ons toe wíl kom oor wie ons is en wat ons doen.
MM
Digters met wie ek al gesels het wat hulle bundels deur Naledi uitgegee het, kan nie uitgepraat raak oor die respekvolle en mensgerigte wyse waarop hulle hanteer is tydens die volle verloop van die publikasieproses nie. Wil jy dalk hierop reageer? Is daar spesifieke beginsels wat nagestreef word?
JC
Ja, Mellet. Ons is nie voorskriftelik nie. Ons tree nie op as Grootbroer nie. Ons probeer van die begin van elke projek om met die skrywer ’n unieke pad te loop waarin die skrywer voel dat sy, of hy, ’n integrale deel daarvan is. Ek overrule soms iets dat ek darem kan voel of ek ook ’n belangrike rol het om te speel.
MM
Ek vermoed ’n uitgewery soos Naledi word vandag oorval deur manuskripte, en julle moet dan daardeur sif ten einde die manuskripte te identifiseer wat oor die potensiaal beskik om tot publikasie te lei. Dan is daar ook die uitdaging van manuskripte deur bekendes (byvoorbeeld musikante) wat nie noodwendig aan die literêre standaard voldoen nie, maar wat moontlik ’n ander afsetmark mog hê. Hoe hanteer jy al hierdie gevalle en die gepaardgaande dilemmas?
JC
Goeie vraag. Sonder huiwering sal ek in die eerste plek kyk wie die skrywer is.
Ons ontvang geweldig baie manuskripte. Ek doen ’n vinnige evaluering en indien daar tekens is van meriete dan stuur ek dit uit na ’n deskundige hekwagter vir keuring. Dit lei tot ’n besluit of ons voortgaan met die projek. Ek hoop gewoonlik dat die keurder ook teksbegeleiding kan doen, veral ten opsigte van digbundels, en die pad enduit saamstap.
NB
Dit kom voor asof Naledi ’n uitgewer is van beide boeke wat nie noodwendig groot letterkunde is nie, maar goeie verkopers is, maar dan ook literêre werk soos digbundels. Dit is alombekend dat laasgenoemde nie altyd winsgewend is nie, maar dat dit die statuur van die uitgewer in die literêre sisteem beïnvloed. Daar word dikwels gespekuleer oor wat gedoen kan word om die koste van laasgenoemde te verhaal. Opsies soos befondsing deur verskeie literêre befondsingsmeganismes en trusts, kruissubsidiëring en selfs gerugte dat sommige uitgewers ’n kontantdeposito van die voornemende digters vereis. Kan jy dalk die sluier lig hieroor, hoe word digbundels in Naledi befonds?
JC
Ons doen gereeld aansoek vir befondsing. Ons kan nie anders nie. 99% van alle digbundels word teen ’n verlies uitgegee. Ek is ’n hengelaar hier in Gansbaai. Ek hengel gereeld, maar vang nie altyd ’n vis nie, veral nie ’n grote nie. Maar November kom die groot kabeljoue.
Ons plaas ook druk op skrywers om self boeke te koop en te versprei. Ons doen dit egter nie met almal nie, want almal is nie in staat daartoe nie.
Ons het reeds voor COVID-19 opgehou om nuwe skrywers te vra om sommige uitgawes te betaal – meer as 4 jaar gelede.
MM
In organisatoriese teorie word daar dikwels verwys na die verskillende fases waardeur ’n onderneming ontwikkel, van ’n klein entrepreneuriese besigheid tot uiteindelik ’n volwaardige onderneming wat verskeie produkte en dienste lewer en verskeie interne prosesse hiervoor bestuur. Die teorie omskryf hoe so ’n onderneming groei en daar tydens elke groeifase nuwe krisisse ontstaan wat nie voorheen problematies was nie, juis omdat getalle en kompleksiteit toeneem, wat dit onder meer vir die entrepreneur toenemend moeilik maak om sy vinger op die pols van alle prosesse te hou. Ondervind jy dieselfde en watter soort krisisse moet jy deesdae mee deel wat dalk voorheen, toe julle uitsette kleiner was, nie problematies was nie?
JC
Koos Bekker het by Stellenbosch Universiteit ’n laboratorium begin vir ingenieurs in plaas van een vir joernaliste. Julle ingenieurs hoort in die uitgewersbedryf. Mellet, ek hoop jy doen jou derde D oor organisasiegroei aan die hand van Naledi as gevallestudie.
NB
Dit blyk dat daar nog vele ander digbundels in die pyplyn by Naledi is. Wil jy dalk vir ons sê na watter nuwe digbundels ons kan uitsien in die afsienbare toekoms?
JC
Clinton V. du Plessis se Joernaal kom binnekort uit en Louis Jansen van Vuuren se Moerasperd deur die nag verskyn binnekort. Louis kom Suid-Afrika toe en ek is seker lesers kan uitsien na groot kuiers saam met hom.
MM
Ter afsluiting, Johan. Vertel ons iets van jouself as mens. Wat maak jou gelukkig, waarvan hou jy en waarvan hou jy nie? Hoe spandeer jy jou vrye tyd?
JC
Ek hou nie van mashed potatoes nie. Ek was in die Valskermbataljon en het my voet gebreek en toe moes ek vir twee maande aartappels skil en mash maak.
Ek lees graag oor die kosmos. Ek het met my teleskoop destyds op verskillende aande gesien hoe die veranderinge op Jupiter lyk waar Shoemaker Levy dit getref het. O ja, en ek wil my besig hou met ’n oulike vrou totdat ek doodgaan. Maar ek soek haar nog. Ek weet sy is iewers.
MM & NB
Baie dankie, Johan, vir die tyd wat jy aan ons en die lesers van Versindaba afgestaan het, maar ook vir jou rol ter bevordering van Afrikaanse poësie. Mag dit goed gaan met jou en Naledi.
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.
Om saam met Johan te werk is ‘n fees
Dit is ‘n plek waar ek weet ek wil wees
Johan is die ster van Naledi en ‘n warm mens wat sigbaar omgee vir wat hy doen. Dit was so goed om hierdie onderhoud te lees!
Hulde aan Naledi en uitgever Johan Coetzee. Een interessant vraaggesprek waaruit professionele kunde, passie voor boeken en persoonlijke integriteit spreken. Daarenboven ken ik Johan als bijzonder aimabel en betrokken. Prachtig wat met vallen en opstaan is gerealiseerd in bijna twee decennia, in een boekenbedrijf dat telkens weer voor nieuwe uitdagingen zorgt.
Dankie vir die onderhoud. “[Mense] kan nie uitgepraat raak oor die respekvolle en mensgerigte wyse waarop hulle hanteer is [nie].” – Ek kan dit maar net weer herhaal. Dis baie waar. Naledi hele span verdien ‘n pluimpie!
Ek wil hierdie onderhoud iewers bêre, sodat ek op 99 nog my kop kan knik en sê ja, hy was my uitgewer!
Of dalk IS. Want daar is nog baie stories in my.
Ek is bevoorreg en dankbaar vir ‘n uitgewer soos Johan Coetzee. Dis met SUPER-trots dat ek wyd & syd verkondig dat ek ‘n Naledi-outeur mag wees! Naledi doen sy naam gestand en elke dag weet ek: reik na die maan dan val jy tussen die Sterre ✨en ek het langs die Naledi-ster geland! ✨En dis waar my “Olifant op ‘n sweefstok”-droom-publikasie waar geword het! ✨ Dankie Johan, Dankie Naledi! Dit voel of ek elke dag ‘n goue ster op my voorkop sien glinster✨✨
Hierdie onderhoud is ‘n merker in die tyd. Baie verrassende gegewens.