Holleeg
Die esdoorn groei
al vir jare hier
op familiegrond – geërf toe ouer-saad
hier geval het – reik ver
tussen hoë toppe deur
en beur hoog in die takke
die elevato-ruimtes in
die enkeling se blare ruis
in die lugstrome waar hy saam sing
met sy jabroer-rysgenote
in ‘n massa-asem eentonig
aanhoudend dieselfde wysie
want die heersende wind bespoel hul blarebrein.
Van voor af beskou
is die vier voet wye stam imposant
–geklee in ‘n liggrys bas
met vertikale donker strepe –
inderdaad agtenswaardig
en indrukwekkend:
‘n swierig ge-eksposeerde pak klere
maar loop jy reg rondom, na agter,
besef jy die stam is dolleeg-hol:
geen pit
of kern:
dis weggevreet deur swamme
en nou ’n blyplek vir reptiele, slange.
Pretensieus en ruggraatloos
in jaknikker-vergaderings:
smaaklik goed geklee maar bot leeg
net afskynsels van ‘n ander skynsel- of kollig
sonder ‘n eie oeuvre, invalshoek of stem
om iets niveau-kreatief
te sê of begeesterend te besleg
: ’n leë aardse skedel-dop
sonder barisfeer: net hol klanke
die animus se binnegoed is weg.
© Meyer van Rensburg, 2023