Vermis
Wat oorbly, is die koffers met die dom hoeke, afgestomp
deur reise. Ek droom van hekke
wat bly toeskuif agter my, ek het die afstandkontroles
lank reeds verloor en taxis se toeters, sketterend,
die rugkante van mense
wapperende klere. Die wind is ongeduldig. Ek spaar
suinig aan herinneringe, maar die nalatenskap
is min; dis verlies wat nuwe leemtes opsoek
en volkome word. Die gaping tussen onthou en gebeur
word groter en die verweer is dun. Slotte swyg,
toegeroes in die vagevuur van tyd. Dooie sleutels word
weggegooi. Ook die strate word wyer en die loopgang
ontwykend. Die laaste skaduloop begin. Lywe
vloei weg sonder buitelyn of silhoeët soos astrale wesens
of diere wat in hulle digste kamoeflering sluimer. Teen
die lamppaal pryk ’n plakkaat met ’n foto van ’n vermiste
vrou en ek staar na die mense wat oopmond bly rondkyk en draai
my gesig weg want dis ék wat in vakante ruimtes
teen lang, dun pale skuil. Vermis
is nie incognito nie. Dan is ek oral en die mis word swaarder
en alles raak amorf soos ’n ou verdriet.
Onuitgesproke. Die wit duisternis van mis.
© Nini Bennett, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.