Totem
Teen die kranse, hoog op teen die Himalajas gewaar ek haar
waar sy haar welpies pleeg – deliberaat sigbaar aan my
tydens nagwake. Wispelturige noodlotskarakter;
vir sterflinge ’n gerug, ’n legende, ’n gesiglose skikgodin. Sy skadu
nader: hoe dikwels het ek nie oor haar gepeins
nie – die sneeuluiperd met oë wat verander van groen, grys,
die kleur van droef. My morbiede fassinasie, my donker
en bedwelmende infiltrasie van fragmenterende drome as
sy teen steil kranse sweef – haar arrogante afstand ten spyt is sy
deel van my, onafwendbaar ’n deelgenoot aan die lewe,
die medepligtigheid aan ’n skaduwee.
Verdwyn sy, plavei haar spore die ys met syagtige blomme.
Die pieke is geil, ’n avalanche – die bergspitse skud hul enorme las,
die vortex sneeu vind sy werwelwind na onder die kruine kreun
en reuse geomorfes kreukel en splyt, bruis in amberwolke grond
toe, ’n geborrel en -stuif van ys: geweldig is die inploffing, wit is
die kleur van verlorenheid dis nie ’n kleur nie dis ’n delusie in wit.
Beswyming. Die natuur ly aan kristalverdowing.
Die kranse vermurwe en die lig skyn hoog en skugter.
Nou konsentreer die son in ’n brandpunt
verblindend ’n vergrootglas wat die skril strale pylwaarts stuur – hoe klein is
alles nie deur God se loergat nie, die Bonsai-woude, die bloeisels
wat uit hul skyndood ontwaak, die mikrografiese lewe waarmee hy speel.
Ek maak my oë oop en seëvierend staan sy daar, 4500 meter bo seespieël.
Godin van die eensaamheid, meester van hoogtes en dieptes wat ligloop oor die kranse,
geluidlose sneeuvoet. Sy kyk dringend na my ons draai ons koppe in dieselfde
rigting ek voel my hart versnel want as sneeustof in die bergmeer skif,
skyn ’n sterrehemel in die donker water. Minder.
Minder as fraktale is ons.
© Nini Bennett, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.