Naòmi Morgan en Bernard Odendaal, “Piaf & Brel: Luisterryk!”
I
Naòmi Morgan en Bernard Odendaal is ‘n gedugte vertaalspan. Eersgenoemde met haar kennis van Frans; laasgenoemde met sy kennis van Duits. Boonop is Odendaal ‘n gerekende digter wat die vertalings se stemkwaliteite kan reg inskat.
Bykans soos ‘n dirigent wat kan sing én dirigeer soos Natalie Stutzman:
https://www.youtube.com/watch?v=DB44ehylkbk Besoek 30 Augustus 2023
Die afgelope tyd het daar uiters belangwekkende vertalings verskyn in Afrikaans. Soos die onlangse vertaling van Kavafis deur Louise Cilliers.
http://joanhambidge.blogspot.com/2023/07/resensie-konstantinos-p-kavafis-van.html Besoek 30 Augustus 2023
Morgan en Odendaal se Piaf & Brel-vertalings neem ‘n mens op ‘n herinnering se wei soos Laurika Rauch se vertolkings van Brel, indertyd onder die bekwame regie van Taubie Kushlick: Jacques Brel is Alive and Well and Living in Paris in die tagtigerjare. Dit word ook beskou as die langste verhoogproduksie nóg. Ek het dit indertyd meegemaak.
https://www.youtube.com/watch?v=FwhgwzKMPgQ Besoek 30 Augustus 2023
Piaf beluister die uwe graag. In my motor het ek daardie groot dubbeldoor-CD wat die Mossie van Parys sommer dadelik nader bring. Dieselfde geld Jacques Brel met sy grinterige stem.
Die film oor Piaf was ‘n ramp. La vie en rose (2007). Verpak met clichés. Met ‘n Marion Cotillard wat maar sokkel.
https://en.wikipedia.org/wiki/La_Vie_en_Rose_(film) Besoek 1 September 2023
II
Nou vereers iets oor die kundige voorwoord wat heet Voorportaal:
Ons verneem dat die metrum van die oorspronklike Frans behou is en hierom is dit so goed vertolk as sanguitvoerings o.a. deur Herman van den Berg en Jolette Odendaal – ook op die voorblad van hierdie uitgawe sien ons hierdie sangpaar.
Brel en Piaf. Man en vrou. Sarkasme en ironie teenoor die vrou se ervaring van liefdesverlies en -verdriet. Albei besondere kunstenaars en die vertalers verwys tereg na die guru Hennie Aucamp wat besondere boeke oor die kabaret geskryf het soos o.a. Die lewe is ‘n grenshotel: ryme vir pop en kabaret (1977). “Sang is verhewigde spraak”, het Aucamp opgemerk. (11).
In Afrikaans is Coenie de Cilliers se liedere ‘n voorbeeld van hoe ‘n goeie lied die kwessie van verhewigde spraak beklemtoon. En met die régte musiek die sub-teks van woorde nog vérder ontgin.
Parys, die Vlaamse platteland en die nagklubkultuur word in Afrikaans deur verskeie kunstenaars vertolk, soos die reeds genoemde Laurika Rauch en Coenie de Villiers. Dan ook Jannie du Toit, die onvolprese Amanda Strydom, André Schwartz, Karin Hougaard, Helena Hettema …
III
Nou iets oor die vertalings. Die oorspronklike teks word links geplaas en die vertaling regs. Ek verwys in hierdie bespreking na ‘n paar treffers.
Kyk hoe eg Afrikaans word die klassieke “Amsterdam” (119) vertaal met bekende Afrikaanse woorde soos kaai, vaargebied, dronkmansbohaai, seebries …
Ek verwys na die eerste strofe:
Dans le port d’Amsterdam
Y a des marins qui chantent
Les rêves qui les hantent
Au large d’Amsterdam
Dans le port d’Amsterdam
Y’a des marins qui dorment
Comme des oriflammes
Le long des berges mornes
Dans le port d’Amsterdam
Y a des marins qui meurent
Pleins de bière et de drames
Aux premières lueurs
Mais dans le port d’Amsterdam
Y’a des marins qui naissent
Dans la chaleur épaisse
Des langueurs océanes
(…)
Heel vernuftig word die lied getransporteer in Afrikaanse rymwoorde:
Kaai lied vaargebied waai
kaai slap lap ontlaai
kaai kom om bohaai
kaai lig verlig aai.
En die klassiek “Ne me quitte pas”:
Ne me quitte pas
Il faut oublier
Tout peut s’oublier
Qui s’enfuit déjà
Oublier le temps
Des malentendus
Et le temps perdu
A savoir comment
Oublier ces heures
Qui tuaient parfois
A coups de pourquoi
Le cœur du bonheur
Ne me quitte pas
Ne me quitte pas
Ne me quitte pas
Ne me quitte pas
(…)
“Laat my by jou bly”:
Laat my by jou bly.
Laat ons liefs vergeet.
Mens kan als vergeet,
als laat agterbly.
Mens kan tyd vergeet:
tyd op stry verspeel;
tyd op swyg verspeel,
op wil-niks-meer-weet;
tyd wat ook kon staan
stil soos in ‘n kerk,
breed soos engelvlerk,
bang oor wat vergaan.
Laat my by jou bly.
Laat my by jou bly.
Laat my by jou bly;
laat my by jou bly.
(…)
(179)
Uitstekend vertaal. In klanke wat die desperaatheid opsom met die kommapunte: ruspose én sluiting. Pyn en hoop.
Hoe goed die ellende in Afrikaans opgevang word, kan ‘n mens sien in hierdie letterlike Engelse vertaling van Zafiris Gourgouliatos:
Do not leave me now
We must just forget
Yes, we can forget
All that’s flown beyond
Let’s forget the time
The misunderstands
And the wasted time
To find out how
To forget these hours
Which sometimes kill
The blows of why,
A heart full of joy.
Do not leave me now
Do not leave me now
Do not leave me now
Do not leave me now
(…)
http://www.zafiris.net/articles/Ne_me_quitte_pas.htm Besoek 1 September 2023
Dieselfde geld Piaf se klassiek “Rien de rien” (waarskynlik Charles Aznavour se lied, self ‘n briljante kunstenaar):
https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=rien+de+rien+piaf Besoek 1 September 2023
In die slot:
Net mooi niks.
Nee, hier gebeur daar nooit iets opwindends nie –
en ek verstaan dit nie.
Niks.
Ek sit met niks opwindends nie.
(21)
III
‘n Goeie liedvertaling moet dans in die nuwe taal. En dit het Uys Krige ten beste geïllustreer in Spaanse dans met sy vertalings van Neruda, Lorca én coplas.
Om ‘n gedig te transporteer uit ‘n Romaanse taalsisteem na ‘n Germaanse een stel bepaalde eise.
In die Franse teks hierbo, het jy geslote, nasale klanke teenoor oop, aai-klanke.
Goeie digters – soos alle liedskrywers – ontgin klanksisteme.
Krige dig immers in sy beroemde “Tram-ode”:
… daar’s ’n hawe in die vaal mis, Amsterdam.
Die herfsson gooi ’n goudvlek teen die tram.
God, dit moet nou lente wees in Swellendam!
Die sol y sombra (son en skadu) van die Spaanse mens kon hy opvang in sy vertalings.
Dieselfde geld die Franse chansons: die donker kant van die bestaan word beleef.
III
Imprimatur moet bepaald bedank word vir hierdie lywige publikasie met die bekende endnote en erkennings as Applous.
Hier kan die leser sien hoeveel mense en ondersteuners het agter die skerms saamgewerk om hierdie boek te laat gebeur.
Die bundel is inderdaad ‘n leesteks, maar hierdie leser kon telkens ‘n vertolking hoor van hetsy Brel of Piaf of een van ons eie ander chansonniers. Elke sanger, soos elke vertaling, lê die klem ánders en uniek. Dink maar aan al die verskillende weergawes van Händel se Umbra mai fu. Nathalie Stutzman en Fritz Wunderlich praat met my.
https://www.youtube.com/watch?v=WivrX29dufw Besoek 1 September 2023
Ne me quitte pas …
Rien de rien …
Goeie vertalers moet ons nooit verlaat nie.
Joan Hambidge
Bronne:
Krige, Uys. 1992. Spaanse dans. Johannesburg: Perskor.