Ode aan ’n tikmasjien
Jy was my troue maat deur dertien dun
boekies, en toe raak jy verouderd, geen
tiklinte meer. Ek het die stad platgeloop.
Jou toe maar weggesmyt, trane wegpinkend,
in ons woonstelblok se woonstelblokomringde
agterplasie. Daar was geen roudiens, net ’n gekoer,
sag, bo in ’n belombra (later stomp afgesaag),
maar ek sal jou nooit vergeet nie, nee nooit,
my liewe Olivetti Lettera 22, trots Italiaans.
Lof swaai ek jou toe, beskeie grys obsolete,
jy was draagbaar, toeritsbaar, dierbaar, myne.
Wilma Stockenström. Hierdie mens, 2013.
In die film Midnight in Paris beweer ’n karakter tereg: “Nostalgia is denial – denial of the painful present … the name for this denial is golden age thinking – the erroneous notion that a different time period is better than the one one’s living in – it’s a flaw in the romantic imagination of those people who find it difficult to cope with the present.” Daar is tans die bittersoet herlewing in retrokulture met die vervaardiging van artefakte, gebruiksitems en modes uit die jaar toet. Die relieke uit die verlede keer terug, en vintage is nou vir sommige meer gewild as modern. Binne die postmodernisme se versnipperende en plunderende effek van vorige tydsgewrigte bestaan daar weer ’n terughunkering na die modernisme. ’n Paar maande gelede, met die koms van ChatGPT en kunsmatige intelligensie, het die konsep analoognostalgie opnuut onder die soeklig gekom. Dominic Schrey, ’n PhD-student aan die Karlsruhe Instituut van Tegnologie, se proefskrif is in boekvorm gepubliseer as Analoge Nostalgie in der digitalen Medienkultur – en hierdie boek was dadelik ’n kommersiële sukses. Alhoewel daar semantiese en tegnologiese verskille in die definisies van analoog en digitaal bestaan, dui analoognostalgie in kort op die verlange na ou tegnologieë en artefakte versus die moderne, digitale tegnologieë van ons tyd. Ek het in ’n vorige blog verwys na die metadigter en pionier in netwerkletterkunde, Sasha Stiles, wat onder meer analoognostalgie betrek in haar navorsing en poësie (https://versindaba.co.za/2023/06/15/nini-bennett-artificialis-ars-poetica/)
“Ode aan ’n tikmasjien” is reeds tien jaar gelede gepubliseer, maar die vers hou ’n besondere bekoring in vir lesers in 2023 – die huidige tydsgees dra immers swaar aan analoognostalgie.
Ook in Afrikaanse bundels wat onlangs verskyn het, vind hierdie nostalgie beslag. Tom Dreyer se verrassende digdebuut, Nou in infrarooi is ’n voortsetting van die spel met analoogmetaforiek rondom die gebruik van retrolense, -filters en kamerategnieke in sy oeuvre. Dreyer se fokale verbeeldingskrag neem die leser ’n paar dekades terúg in die tyd – en die nostalgie is tasbaar. Hy verwys in sy gedigte onder meer na lens flare, daardie betowerende stralingsgloed wat so dikwels in analoogfotografie voorkom. In Dreyer se bundel kortprosa, Kodachrome, suggereer die titel reeds hierdie analoognostalgie, en verwysings na meganiese knypers wat sagte speelgoed in glaskaste vang, View-Masters, ensovoort kom voor. Dreyer se volgehoue bemoeienis met filmmakers soos Quentin Tarantino se werk bevestig hierdie analoognostalgie, want dié filmmaker is sinoniem met analoogfilmkuns soos die gebruik van selluloïedfilm. Die verse in Nou in infrarooi skommel op ’n anachronistiese tydlyn: Dreyer gaan vernuftig om met Middeleeuse tegnologie, moderne Wi-Fi, satelliettegnologie en die vintage-sjarme van die Russiese ruimtevaarders van die 1960’s – 1980’s. Tog is dit analoognostalgie wat die deurslag gee in dié bundel, soos die onderstaande vers ook getuig:
lettera 22
leonard cohen tik ’n laaste woord en slinger
sy olivetti in die blou foneem van hydra-hawe
waar dit bodem toe sink om onversteur te lê
terwyl die “lettera 22” onleesbaarder raak
sponsduikers kom en sponsduikers gaan
en later vat marianne haar goed en trek
terug oslo toe sodat hy haar
vanuit montreal doeltreffender kan besing
dog periodieke terugkeer onderbreek sy dae
en in 2012 sien ook ek en jy daardie see die vae
ring van die hawe en mossies wat rinkink
op ’n gespanne aandagstreep
lê dit nog daar wonder jy die lettera
wat leonard al in ’61 in sy bad gedompel het
as toets of dit ook onder water werk
daar langs die hawehoof
hoor ons die gedempte slae van ’n olivetti traag
soos ’n aardtrilling deur die water propageer deur
die kaai en kasikas se kafee en aan deur die dorp
van kalk en bougainvillea
totdat ione in hul nisse rittel en radio’s speel
en ons dié merkers van die liefde leer:
leonard wag op sy stoep vol suurlemoene
op dit wat hy self laat gaan het
en hier is ons
en hier is ’n wigskrif van mossies teen die lug
Tom Dreyer. Nou in infrarooi, 2023.
Nostalgie het grotendeels die plek van epogmaking, wat kenmerkend was van die moderne kultuur, ingeneem. Dalk beweeg tegnologie te vinnig, daarom beweeg die mens terúg in die tyd om die verlede deur die onderskeie kultuurlense wat digitale tegnologie bied, te bekyk. Nostalgie word nie noodwendig gebore uit die verloop van tyd nie, maar word gekenmerk deur die oorgange in ’n kultuur. Historiese gebeure bestaan nie bloot as ’n kousale kroniek van gebeurtenisse nie, maar as ’n herlewing van die mens se kultuurverbeelding.
Ons bevind ons in ’n tyd van post-Covid ennui. Suid-Afrika en die res van die wêreld staan voor talle politieke en sosiale uitdagings. Mense ly toenemend aan tegnologiese uitputting, wat op sy beurt ’n vervreemdende uitwerking tot gevolg het. Met die koms van kunsmatige intelligensie en ChatGPT bevind die mens hom sonder twyfel op die drumpel van digitale ontsterflikheid. Te midde van al hierdie omwentelinge raak dit egter duidelik: Die wêreld het homesick geraak. Nostalgie verwys na die verlange om “huis toe te wil gaan”, maar dit is ook ’n verlange na dít wat nooit bestaan het nie. ’n Verlange na ’n beter tyd, want nostalgie is immers ’n sentiment van verlies en ontheemding.
Maar waarom is analoognostalgie relevant? Binne die kulturele geheue word elke belangrike tegnologiese vernuwing geboekmerk as ’n nostalgiese narratief van afname en verlies. Reeds in die 80’s, toe die laserskyf of CD (compact disc) die eerste keer sy verskyning gemaak het, het David Lander in Rolling Stone beweer dat die perfeksie van die suiwer klank van ’n laserskyf nié noodwendig die musiek van die ‘ware lewe’ vertaal of kopieer nie. Die aankoop en speel van vinyls is ondertussen besig om oral te herleef. Dit is nie net vlooimarkhippies wat hierdie plate smous nie – ook kettingwinkels verkoop nou platespelers, vintage-styl, maar met verbeterde tegnologie. Tog is dit die plaat, die artefak of ou nisproduk self wat die merke van die tyd en slytasie dra. Daar is iets uniek aan elke persoon se plate. ’n Plaat haak altyd op dieselfde plek(ke) vas en sommige raas soos ’n gruispad. Hierdie haakplekke dui op verwonding; dit dra onmiskenbaar die letsels van die lewe, in teenstelling met digitale musiek wat geen agtergrondgeraas het nie. Mense ken hulle plate op ’n intieme wyse en wéét wanneer die haakplekke kom. Met analoognostalgie word slytasie soos die grein, strepe en onderbrekings op films, of die genoemde omwentelinge en haakplekke van LP’s, verestetiseer. Dit is die nostalgiese spore van ’n vergange tyd van meganiese reproduksie; dit getuig van ’n aura van die lewe self wat vergesel word van onvolmaaktheid, egtheid en outentisiteit. Kritici verwys na hierdie slytasie as “tekstuele puin”. Al bogenoemde analoogmedia is intussen met selfoon- en digitale funksies vervang.
Analoognostalgie skep die gevoel van oorspronklikheid en natuurlikheid – en dat jy nader aan die werklikheid beweeg. Paradoksaal bied analoognostalgie in ’n era van digitale volmaaktheid die moontlikheid om hierdie tasbare tegnologiese verval op estetiese wyse te bewaar. Binne die kulturele verbeelding is dit moontlik om die hede op kritiese wyse deur die lens van die verlede te bekyk. Analoogmedia word, ironies genoeg, júis deur die gebruik van digitale tegnologie gerekonstrueer. Gister se nooit volprese nuwe toestelle is vandag se afgeleefde apparatuur en môre se uitgediende rommel, ’n konsep wat helder geïllustreer word deur Stockenström se “Ode aan ’n tikmasjien”. Retrokultuur is net so deel van ons digitale kultuurlandskap soos hoëdefinisie-skermtegnologie en blitsvinnige optiese vesel.
Organiese lewe – soos in die geval van analoogmedia – lei onafwendbaar tot disfunksionaliteit, verval en dood, in teenstelling met die ontsterflike moontlikhede wat digitale media bied. Dalk is die mens geprogrammeer om te sterf, daarom die belewenis van analoogmedia as eg en werklikheidsgetrou. Volgens die fotograaf en skrywer David Bate onthou ons inligting beter via analoogtegnologie. Só byvoorbeeld onthou jy die hardekopieë van ou foto’s beter as dié in digitale databanke. Skynbaar beskik digitale fotografie nie oor dieselfde bergingsvermoë wanneer dit by die menslike geheue kom nie. Geheue is gekoppel aan verwonding en pyn – en onvolmaaktheid.
Daar is mense wat (nostalgies) bly glo dat die verlede ’n beter plek was as nou, maar volgens die toekomskundige, Alvin Toffler is die toekoms nie beter of slegter nie, bloot anders. Tog ly ons almal aan “toekomsskok”: daardie duiselingwekkende gevoel wat die mens ervaar met die ontydige aankoms van die toekoms. Tegnologie se toekomsverandering is nie lineêr nie, maar eksponensieel. Tegnologiese verandering stel met ander woorde hoë eise aan die mens en iewers gaan almal vasskop teen hierdie verandering – selfs die grootste tegnokrate onder ons. Volgens die kontemporêre denker, Nicholas Taleb se fragiliteitsteorie lei die vooruitgang van tegnologie ook tot die groter broosheid/fragiliteit van dié tegnologie. As jou kindle, waarop jy 15 000 boeke geberg het, onklaar raak, loop jy die risiko om 15 000 boeke in ’n oogwink te verloor. Hierteenoor bestaan daar papirusrolle wat vir eeue in grotte “oorleef” het. Die digitalisering van boeke en musiek het die bergingsvermoë van inligting verbeter: met die druk van ’n knoppie kan hierdie inligting gerepliseer word, sonder om kwaliteit in te boet. Maar tegelykertyd het die aflaai en deel van musiek, boeke en films ook die doodskoot vir voormalige CD- en videowinkels beteken.
’n Mens kan inderdaad glimlag oor die eerste IT-gedigte in Afrikaans. Deur ’n retrolens bekyk, kry ’n mens patos met die mens wat hierdie rewolusionêre tegnologie soos “kompers” met ’n ongekende opwinding, wat aan toekomsfiksie herinner, bejeën. Prevot van der Merwe (1990) maak gebruik van rekenaarjargon in sy vers, “die hemel help ons”, om sy kommunikasie met ’n godheid te verbeeld. Pirow Bekker se rekenaargedig, “Kameraad” (1975) dui op die leemte wat ’n tuisrekenaar in die spreker se eensaamheid vul. In George Weideman se vers, “Ek het vir my ’n komper bestel”, geskryf in 1970, suggereer die slot dat die komper ’n soort (nuwe) god is. Hierdie vroeë, naïewe gedigte wat die IT-wêreld verromantiseer en mistifiseer, verklap meer van die mens se ingesteldheid teenoor die “komper” as van ware kennis van tegnologie self. Wetenskapfiksie wat dateer, word uiteindelik sélf geskiedenis. In enkele IT-gedigte word ’n rekenaar ’n bondgenoot; ’n geleier van verbode mistieke kennis, soos ook Tom Gouws se “visioen van thomas op patmos” (2010) getuig.
Tanja Botha skryf omvattend oor die representasies van mens-masjien-verhoudinge in die Afrikaanse poësie van 1990 tot 2012 op LitNet: https://www.litnet.co.za/die-manifestasie-van-mens-masjien-verhoudinge-die-afrikaanse-poesie-1990-2012-n-kwantitatiewe-en-teksontledende-beskouing/?fbclid=IwAR0KGZqu0yNJw2t-07R7nqcJxpT9_uQFjtfxSoOG2CruIDoSmGMcaEy5bNw
Alhoewel die antropomorfisering van rekenaars ’n stylgreep is waarvan digters al vir dekades gebruik maak, is dit tog interessant om op die volgende gedig van Jeanne Goosen te dubbelklik. Binne die anachronistiese tydsgewrig waarin toekomsfiksie dateer en analoogmedia retrospektiewelik gerekonstrueer – en besing – word, lees die onderstaande vers besonder profeties. Die fiktiewe gesprek met die komper herinner aan die sogenaamde ‘menslike’ eienskappe van kunsmatige intelligensie wat kuberkenners toenemend laat kopkrap. Dit is ook merkwaardig as ’n mens in gedagte hou dat die gedig in 1975 reeds in Orrelpunte verskyn het.
Gesprek met ’n komper
poësie gevind
(connexions)
KLANT: dag
KOMPER: goeie dag
watter diens verlang u
een bakker twee geneesheer
drie reisagent vier kruidenier
vyf slagter ses melkery
KLANT: nommer vier asseblief
KOMPER: kruidenier tot u diens
verlang u
sewe kruideniersware agt klerasie
nege toiletware tien groente
KLANT: nommer sewe
KOMPER: dankie
’n lys van benodigdhede asseblief
KLANT: een pak poast toasties een bottel asyn
twee blikkies sardyne een blik gebakte bone
KOMPER: is dit al
KLANT: ja
KOMPER: dankie
ek twyfel oor die volgende
’n groot of ’n klein pak post toasties
KLANT: groot
KOMPER: dankie
ek verstaan nie sardyne nie
is dit korrek
en verkrygbaar van die kruidenier
KLANT: sardientjies
KOMPER: dankie
u bestelling lui soos volg;
een groot pak poast toasties een bottel asyn
twee blikkies sardientjies een blik gebakte bone
totaal: een rand en tien sent
die bedrag is minder as vyf rand
dus kan ons nie aflewer nie
wanneer kan u die goedere kom afhaal
KLANT: om 13:00
KOMPER: u bestelling sal om 13:00 gereed wees
is daar nog iets
KLANT: ek voel verskriklik bedruk
KOMPER: ek verstaan nie verskriklik bedruk nie
is dit korrek
en verkrygbaar van die kruidenier
KLANT: nommer twee asseblief
KOMPER: geneesheer tot u diens
wat makeer
hmmmmmmm?
Jeanne Goosen. Pret met poësie, 2008.
Verwysings:
Cillié, A.L. 2008. Pret met poësie. Best Books: Kaapstad.
Dreyer, T. 2023. Nou in infrarooi. Kwela Boeke: Kaapstad.
Schrey, D. 2017. Analoge Nostalgie in der digitalen Medienkultur. Kulturverlag Kadmos: Berlyn.
Stockenström, W. 2013. Hierdie mens. Human & Rousseau: Kaapstad.
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.