Junkies
Jacques en sy vrou is nie meer op straat nie –
miskien het ʼn samaritaan hulle opgepik,
die twee van hulle elkeen deur ʼn bad gejaag
hulle van die hardnekkige leeglêswere verlos.
Jacques en sy vrou is nie meer op straat nie –
hulle ry nou saam met my die samelewingsgolf,
sit voor die kassie saans, bekommerd oor Putin;
ʼn God wat ons uitbraai op aard-verwarmde-bol.
Jacques en sy vrou is nie meer op straat nie –
hy doen nou sy diens aan sy land en sy mense,
verkoop versekeringspolisse, soos ʼn goeie burger
glimlag vir sy naaste met nuut-gekroonde tande,
en verlang na niks-makie dae, toe hy suiwer digwoorde
vir die môrestond kon bring, ʼn enkelmunt in die palm
het meer koopkrag as die burgers wat brode kom aflaai
– met geld kon ʼn mens nog nooit ʼn junkie vertrou nie
© Bester Meyer, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.