
Dit is met groot leedwese dat ons verneem het dat Trienke Laurie gister, 2 Oktober 2023, onverwags oorlede is.
Catherine Elizabeth Laurie is op 10 Mei 1946 in Kaapstad gebore en sterf op 2 Oktober 2023 op Franskraal. Sy was die dogter van Dirk (DJ) en Marié Opperman en getroud met die bekende hoogleraar in Wiskunde, Dirk Laurie wat in 2019 oorlede is. Vyf seuns is uit die huwelik gebore.
Trienke was sowel digter as skilder. Vir haar digkuns verower sy in 1999 die Ingrid Jonkerprys vir “Skietspoel”. Enkele kindergedigte word deur haar vader, DJ Opperman, in sy bekende “Kleuterverseboek” opgeneem. Die volgende publikasies verskyn uit haar pen:
“Skietspoel” (digbundel, 1997)
Ek sien ʼn rooi bul storm” (digbundel, 1999)
“Uitroep” (digbundel, 2001)
“Sonskyf” (digbundel, 2007)
“Van my ouma ʼn groet” (kinderboek, 2010)
“Koebesie” (reisverse, 2017)
Laurie is veral bekend as eko-digter. Namibiese landskappe en plantegroei kom by herhaling in haar gedigte voor, asook die grootsheid van die skepping en haar geloof in God. In “Sonskyf” wy sy afdelings aan verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse natuurlewe met die son as deurlopende tema. Sy skryf ook heelwat ekfrastiese gedigte en tree graag in gesprek met ander kunstenaars en kunswerke. Die laaste afdeling van “Skietspoel” bevat aangrypende gedigte oor haar pa wat na ʼn beroerte-aanval ernstig verswak geraak het. In “Uitroep” wy sy enkele afdelings aan herinneringe aan haar ouers. Sy was ook, soos haar moeder, bekend vir haar kleuter- en kindergedigte.
Trienke Laurie sal onthou word vir haar bydrae tot die Afrikaanse digkuns, maar ook vir haar skilderkuns. As mens sal sy onthou word as ʼn sonnige, opregte en uiters begaafde vriendin – iemand met ʼn wye belangstellingsveld wat onderhoudend oor ʼn groot spektrum van onderwerpe kon gesels.
– Marlies Taljard, 3 Oktober 2023

Hoe graag hadden we elkaar nog eens gezien en gehoord, nu ik in november naar Zuid- Afrika reisde uit België. Trienke deelde haar liefde voor Afrikaanse literatuur en kunst met mij toen we met elkaar in 1992 in het koshuis in Potchefstroom een kamer deelden en ik haar later in Leuven kon verwelkomen En de vriendschap is gebleven, tot altijd nu.