Man in marmer
ek is die doring van die roos en hy,
gekerf in onaantasbare marmer
wankelrig op sy laaste been
met een voet reeds uit my droom uit,
het nie ‘n hedonistiese been
in sy skerp gevylde ligaam nie
geen druppel poësie wat vloei
onder sy glansgepoleerde bors nie
sit my in sy koue hand
ek is die swart skelet en ek sal vir hom ribbes kerf
uit woorde soos met beitels want
ek is die doring van die roos
en ek kan bloed uit klippe tap
voor ek verlep aan die koue
wat geen kennis dra van die bestaan van dorings
of die warm rose waaruit hulle rebeleer
teen die blindheid van geklipte oë nie
© Mariëtte van Graan, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.