Erotografomanie
“God knows I never sought anything in you
except yourself. I wanted simply you, nothing of yours”
skryf vir my ʼn liefdesbrief en spel dit uit
met vingers wat soos kwaste bewe
as die muses weier
en die landskap wit bly
sleep die letters oor jou tong
soos ek oor myne wanneer die lang
hale van die swart skelet swaarde
en stemme kruis in donker kamers
praat met my in daardie stem
wat snags, as dit stil is en
die sterre nie meer skreeu nie fluisterend
teen die wande van jou skedel opkruip
sê vir my daardie dinge
wat snags, as dit stil is en
die bloed nie meer druis nie, smag
om vrugteloos oor ʼn wit landskap gesaai te word
trek water
skep lug
en as jy moet
trek bloed
en spel dit uit met bewende vingers
soos kwaste oor my vel
(*Erotografomanie is die obsessiewe skryf van liefdesbriewe)
© Mariëtte van Graan, 2023