Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
23 October 2023

Joan Hambidge. Landskap-verse I

 

Die landskap-gedig is altyd ‘n representasie van die digter se innerlike belewenis van ‘n plek. Terselfdertyd kan dit ars poëties of selfs polities wees.

 

Toon van den Heever se “In die Hoëveld” is ‘n klassieke landskapvers:

 

In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,

Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,

Waar ‘n mens nog vry kan asemhaal en aan ‘n God kan glo,

Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.

 

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom

Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,

Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,

Sawens as ek bees- of skaap-toe ry.

 

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,

(Die ylblou bring ‘n knop dan in jou keel)

Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ‘n jaar of tien,

Waar die bokkies op die lei-grafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,

Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind

En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit

Waar ek kleiosse gemaak het as ‘n kind.

 

(In Opperman se Groot Verseboek, 98).

 

Hier het ons ‘n herinneringsgedig en ‘n verlange terug na die ongerepte ruimte. Die spreker moes die platteland verlaat om in ‘n myn te gaan werk. Hy het tering en die laaste strofe aktiveer dat hy moontlik sterwend is met die verwysing na die lei-grafstene. Alleen in herinnering keer hy terug en sal nadoods terugsweef. ‘n Ruimte waar mense vry kan asemhaal en dus nie tering het nie.

 

 

II

Die bekende literator en skrywer Heilna du Plooy het in 1986 Verhaalteorie in die twintigste eeu gepubliseer. In 1997 verskyn Die donker is nooit leeg nie en in 2002 In die landskap ingelyf. In 2014 was daar Die stilte opgeskort en Die taal van been (‘n roman). Gespreksgenoot met briewe van én vir Elize Botha het in 2013 verskyn en sy was die samesteller van Nuwe stemme 5 saam met die digter Loftus Marais. Sy is vertaler van Eddy van Vliet en Willem van Toorn se werk. Eersgenoemde in 1998 as ‘n Pleidooi vir die poësie en laasgenoemde in 2013 as Paaie vir die deurtog.

Sopas verskyn haar vierde bundel Getye van tyd by Imprimatvr.

Tyd word hier verbind aan die see, die plek van herkoms, die land en die wind as maniere waarop die digter probeer besin oor haar lewe as digter, vertaler én skilder.

Hierom is daar ook ‘n afdeling wat stillewe heet met ‘n pragtige omslag van die see.

Die bundel werk met stiltes en beweging.

Die bundel ondersoek die betekenis van taal op verskillende vlakke. Selfs die taal van die see:

 

Seetaal

daar moet oerwoorde wees

om oor die see te praat

woorde wat van baie ver af droom

soos lang riviere wat oor kontinente stroom

(11)

 

Besluit

 

daar moet altyd nuwe woorde wees

om oor ’n lewe te kan praat

soos die bergspruit altyd nuwe druppels afstuur

oor die landskap deur die land

tot by die droomwaters van die see

(72)

 

Soos by Toon van den Heever vind ons ‘n spanning tussen die harde werklikheid en die droom.

 

III

In Snel grys fantoom dekonstrueer Johann de Lange die landskap-gedig. Dit word ‘n boomdiagram en taalkunde-in-aksie. Die ganse landskap word ‘n singende boomdiagram.

 

-skap

 

 

Droommaklik is dit om te verkies:

die lumineuse maan in ‘n visdam,

die stil poel, die ingeskapenheid

van weerkaatsings, of die rimpeling

waarmee woorde uitstring

en vervaag, die water ‘n grys

lispelende tong. Maar ek kies

die krysende papegaai wat rooi kras,

die swart luiperd wat geel oë

in die water sit sodat dit gloei,

die skel visarend wat laag swiep

en duik, die waterspieël

klinkend breek, die ganse landskap

meteens ‘n singende boomdiagram.

 

(40)

 

 

So lees ek die gedig:

 

-skap

 

Droommaklik is dit om te verkies:

die lumineuse maan in ‘n visdam,      die maan wat gesien word in die visdam (weerkaatsing)

die stil poel, die ingeskapenheid

van weerkaatsings, of die rimpeling

waarmee woorde uitstring                   uitstring sluit met boomdiagram/ rimpeling (assosiasies vir die

en vervaag, die water ‘n grys                digter wat na beelde soek)

lispelende tong. Maar ek kies              die water word ‘n taal wat aansluit by die boomdiagram

die krysende papegaai wat rooi kras,

die swart luiperd wat geel oë               die papegaai verwys implisiet na Ingrid Jonker / eggo’s

in die water sit sodat dit gloei,             die swart luiperd betrek Van Wyk Louw

die skel visarend wat laag swiep          die visarend breek die waterspieël

en duik, die waterspieël

klinkend breek, die ganse landskap

meteens ‘n singende boomdiagram.   die landskap is singende boomdiagram wys op die ontginning

van klanksisteme

 

-skap is landskap; -skap is ook vriendskap. Die digkuns as ‘n intieme vriendskap.

Louw se gedig “Die swart luiperd” kan hier gelees word:

http://whitelion-orion.blogspot.com/2013/10/die-swart-luiperd-poem-by-np-van-wyk.html  Besoek 22 Oktober 2023

 

…

 

‘n wêreld het in my verstar:
plant, dier en mens – in diep swart glas
waar alles enkeld en ontwar
maar klein en mateloos glansend was –

geen ding is duister, maar hy glans
of hou sy skittering ingesluit,
en niks is dood, en alles dans
en reik na naamlose dinge uit.

 

(1942)

 

Die boomdiagram as taalkundige konsep, maar ook ‘n weergawe van hiërargieë. ‘n Konsep wat die digter verder uitwerk in Die algebra van nood.

 

IV

By Antjie Krog in Plunder word die landskap in “die sigbaarmaking van allerlei strooptogte” (38–40) , ‘n ars poëtika:

 

as digter is my wese dié van ’n Kolonis
ek val ander se werk binne
ek ossilleer van ekstase, bewondering
verander, teken op, neem klein aandenkinkies
want die tekste gryp my aan, landskappe tuimel
kom ek af op ’n beeld, ’n ongerepte kloof
ontdek ek ’n verblindende berg
dan omhels ek, verorber, stroop
en stop my kop vol, my onderbewussyn
die oorloop verdwyn in notaboeke
want alles wat gesê word is al gesê
is al voorheen oor en oor nooit só gesê
ek probeer byhou om bronne en oorsprong op te spoor
maar uiteindelik word die hele kelderkaboedel
kollektief verslinde buit

pluiings vir die verrinneweerde liggaam van latenstyd.

(39)

 

Die gedig is ook ‘n politieke vers, testament, sélfs ‘n afskeid van die lewe: ‘n verweerskrif.

Pluiings word via google plug ins.  Dit beteken egter flenters.

 

*

 

die dood het stadig opgestaan

en homself voorgestel

ek ontvang hom soos ‘n eregas

(40)

*

Krog het vele landskapverse geskryf en hierdie gedig verwys terug na vele gedigte oor die Vrystaat.

En kelderkaboedel aktiveer die Jungiaanse kollektiewe onbewuste met die digter wat soos ‘n kolonis oorneem én beset. Latenstyd impliseer laat werk. Die digter wat besig is met ‘n bestekopname.

Neruda se siening is uiters tersaaklik: daar is geen digters nie; net ‘n digkuns.

 

Joan Hambidge

Oktober 2023

 

Bronne:

De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.

-Die algebra van nood. Kaapstad: Human & Rousseau.

Du Plooy, Heilna. 2023. Getye van Tyd. Pretoria: Imprimatvr.

Krog, Antjie. 2022. Plunder. Kaapstad: Human & Rousseau.

Van den Heever, Toon. 1939/ 1961. Eugène en ander gedigte. Pretoria: J.L. van Schaik Bpk.

 

 

Landskap

In die Hoëveld van ons jeug skyn die helder son:

daardie strale lewegewend oor die groen natuur

met veryste waterdruppels in winters tog verduur;

steeds daardie sonwarmte nog in my Standerton.

 

© Joan Hambidge

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Ekfrasis Deel III
Joan Hambidge. Landskap-verse II →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Elisma van Zyl. Tydloos
  • Paul Kloppers. hemelrog
  • ND Cronjé. navigasie
  • Digtersprofiel: Vincent Oliphant
  • ND Cronjé. wiskunde

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d