I
In 1974 verskyn ‘n gesaghebbende studie oor sluiting of closure in die gedig geskryf deur Barbara Herrnstein-Smith. Dit heet Poetic closure – a study on how poems end.
Die landskap-gedig is dikwels ‘n voorstelling van psigiese closure of sluiting, omdat die digter terugkyk na ‘n tyd wat verby is.
Boerneef het uitmuntende terugkyk-verse geskryf oor landskappe van sy herkoms wat hy bewaar “vir latenstyd”:
Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier
niks staan so geel soos herfspamplier
by Dwarsrivier op Ceres
slaan rem aan hou jul asem in en kyk en kyk
lank en eerbiedig soos ‘n mens na so ‘n herfs moet kyk
laat dit inbrand in jou vir latertyd
die warm geel en rooi vir latenstyd
Hierdie gedig word uitsonderlik mooi deur Laurika Rauch vertolk. Boerneef skryf ook ‘n ander nostalgiese of onthou-vers wat die kwessie van sluiting illustreer:
Van al my land se Tafelberge
is daar vir my maar twee
dis die Tafelberg by Boplaas
en sy Ouboet by die see
by Boplaas se berg was ek ‘n kind
met ‘n kind se huil en lag
by sy Ouboet word ek rebelserig oud
met ‘n ou man se dink en wag
die begrip op die Plaas was waterpasreg
maar hoe rym jy die ouderdom weg
met ‘n ou man se pieker en wag
“In ‘n kringloop beweeg die ruimte, soos die tyd. Nie van een punt tot ‘n volgende nie, maar in ‘n siklus word die menslike lot binne plek en tyd voltooi. Maar nou is die geografiese ruimte nie net meer ‘geografies’ nie, dit het reeds metafisies geword” (Snyman: 1980, 207). Hierdie reeks heet terloops ook Kringloop, juis om hierdie beweging tussen die aardse (geografiese) na die metafisiese aspek te beklemtoon.
Die hoofletters van die plekname gee aan die ruimtes simboliese betekenis: Ouboet teenoor Plaas om die verskil in lewensuitkyk te beklemtoon. Alles in sy jeug was waterpasreg en presies. In die ouderdom is dit egter anders.
Die dubbel-register (of double voicing) soos vele teoretici dit beskryf het, is belangrik in hierdie soort gedig. Linda Hutcheon in haar studie oor ironie verwys na disemia en disglossia (Hutcheon: 64). Daar is twee sprekers wat saampraat: die ouer persoon wat terugkyk en iets van die onskuld van indertyd weergee.
II
So dig Breyten Breytenbach in die na-dood 2016:
met oogopslag die maan nog daar
‘n bolseilskuitjie wat niet toe vaar
en roos die daagruim bo die heuwels oos
terwyl nagtegale knipper en tuit soos
toe dagherinneringe geberg in kruike
vanouds uitgelek het onder donkerder struike
en alles ewig was en alles moes sterf
tot ‘n sleepsel rou onthousels op die werf
(78)
Die maan word metafories ‘n bolseilskuitjie wat na die niet toe vaar. Die dagbreek (daagruim) lyk roosagtig in hierdie distigon met die “rou onthousels op die werf”.
Cleanth Brooks in The well wrought urn: Studies in the structure of poetry, ‘n seminale teks oor die poësie, skryf soos volg:
The poem is a “working out of the various tensions — set up by whatever means — by propositions, metaphors, symbols.” It achieves a resolution through this working out of tensions, not necessarily a logical resolution but a satisfactory unification of different “attitudes,” or dispositions towards experience. Therefore, any intellectual proposition within the poem must be viewed in the context of all the other propositions expressed in the highly changeable language of metaphor. The poem does not try to find the truth-value of a particular idea; it tries to juxtapose many, contradictory ideas together and reach a sort of resolution. The poet is trying to “unify experience” by making poetry not a statement about experience but an experience itself, with all the contradictory elements contained in one cultural expression, i.e., the poem (1947: 207).
III
In hierdie gedigte word die landskap een in die psige oor die rou onthousels vir die latenstyd.
Die gekose verse se slotte is van belang waar al die kontradiksies tot sluiting kom.
Joan Hambidge
30 Oktober 2023
Bronne:
Boerneef. 1977.Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg.
Brooks, Cleanth.1947. The well wrought urn: Studies in the structure of poetry. New York; Harcourt Brace.
Breytenbach, Breyten.2016. die na-dood. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hutcheon, Linda.1994. Irony’s edge: The theory and politics of irony. Londen / New York: Routledge.
Smith-Herrnstein, Barbara.1974. Poetic closure – a study on how poems end. Chicago: University of Chicago Press.
Snyman, Henning.1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.
En Van Wyk Louw:
die wind se onderkant is wit
want waar hy op die koring sit
daar maak hy die hele wêreld wit
(Klipwerk).