I
Die digter Antjie Krog verken die landskap van vrouwees in al haar vorme. Grootmoeder, moeder, eggenoot, geliefde, politieke analis en aktivis. Sy is al deur vele teoretici gekarteer: Marlies Taljard se besinnings en Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort: beskouings oor die werk van Antjie Krog het in 2009 verskyn. En natuurlik: Karen de Wet se bloemlesing ‘n Vry vrou (2020). Vérder terug in die tyd: Jacomien van Niekerk, Pieter Conradie en verskeie kritici ondersoek haar werk in artikels soos Marius Crous, Marthinus Beukes, Tom Gouws, Ihette Senekal, Willie Burger, o.a.
Anthea Garman en Johan Jacobs in Engels. En Helize van Vuuren in sowel Afrikaans as Engels. Dan is daar ook Yves T’Sjoen se essays ook. Buitelands en binnelands beskou.
Die skrywer se eie keur uit haar gedigte heet Digter wordende in 2009. Honderd en vyftien gedigte uit al haar bundels is ingedeel volgens temas: liefdesgedigte, gesinsgedigte, skryfgedigte, politieke gedigte en gedigte uit Lady Anne. So is die bundel bemark op die internet.
Daar was ‘n polemiek verlede jaar oor haar gebruik van vloekwoorde wat kwetsend sou wees in die Vrye Weekblad.
https://versindaba.co.za/2023/02/08/joan-hambidge-hoe-lees-ons-xxii/ Besoek 4 November 2023
In hierdie besinning gaan hierdie leser veral fokus op haar impak. Sy word ook in rubrieke aangehaal (o.a. Maandag 30 Oktober deur Jo van Eeden op Media 24.)
Die klankmatige en musikale aspek van haar digkuns is bekend, net soos die ontginning van verskillende tegnieke: o.a. die rondeel en villanelle. Haar praatverse is goed verbind. Sy skryf sonnette. En ‘n mis. Ook palinodes of antwoorde op Opperman en Eybers. Verder gebruik sy die objective correlative in die bundel Lady Anne.
****
II Palinodes
A Brief – Fernel Abrahams Strofe 1
Mammie, ek skryf ook vir Ma ‘n kaalvoet gedig
sommer so, nes Antjie
maar ek gebruik soms leestekens
en ek sal nie vir Mamma “jy” sê nie
want dit hoort vir my
nes plastiekblomme en wit skoene
nie by Ma nie. Bottom of Form
(…)
https://slideplayer.com/slide/14521411/ Besoek 4 November 2023
B Verjaarsdagvers
Vir Antjie Krog
Met beurtkrag ‘n verjaarsdagvers vir jou:
die wasmasjien dreun in die agtergrond
soos ‘n trekker in die Vrystaat
deurmekaar geslinger;
die koffiemasjien klik weer
aan, onverwags, lesend (ek) aan
“land van genade en verdriet”.
Siklies jou verse wat alles
van vrouwees, nee menswees karteer.
Jy skryf omdat jy woedend is glo;
tog lees ek jou verse as oop en teer:
aards en sonder fieterjasies, soos jy.
Op ‘n keer skryn ‘n pleister om jou vinger
nadat ‘n mes vlym met ‘n beesslagting
op julle familieplaas genaamd Middenspruit.
Op ‘n ander keer gee jy suurlemoene
uit jou tuin aan vir my en ‘n doring
laat bloed onverpoosd spruit.
Hou jou wapens blink, leer jy ons.
Nes jou “classy” heldin Eybers,
ont-grens jy alles in jou unieke stem
oor die intieme aard van die digkuns …
Jou grootste liefdesverhouding bly
met die poësie: maklik, moeiteloos, makelloos,
matig, minsaam vermy die dogter van Jefta.
“Mens funksioneer net wanneer jy dig”.
Die ongehoorde soort word hoorbaar
verklank in jou eiesoortige, dwingende,
verslawende verse: van begin tot einde jý.
Mannin en Lady Anne; sommer net Anna Krog,
‘n digter sonder enige voorgee of bedrog.
Joan Hambidge
Die verjaardagvers in 2022 geskryf.
C Exergasia
Onse Antjie Krog dig soos ‘n vyeboom
met rooiryp vye wat hierdie leser
in bewondering mateloos verslind.
Hierdie digter werk met ‘n snoeiskêr:
lê die lem in op die digterlike boom
vol dooie takke waarop ‘n kraai sit.
Hiperbolies dalk mag u, liewe leser sê:
op hierdie dag en datum, die hereweet,
is my hande soos Eybers s’n onpaar.
My linkerhand verklap dalk meer
as die regter een vol selfkritiek
oor die afwesigheid van ‘n bottergat,
sperwer, slanghals of groenvlerkduif.
Dooie takke van die interteks en meta-
modernisme afgekap op soek na die geluid
van voëls sonder simboliek of dieptelaag.
Weg met Tom Chetwynd se simboolensiklopedie;
terug na bome en voëls soos in Eva se Paradys.
Joan Hambidge
****
“digter wordende” versus “baie worde”
And all the couples of oppositions are couples. Does this mean something? Is the fact that logocentrism subjects thought – all of the concepts, the codes, the values – to a two-term system, related to ‘the’ couple man/woman?
Cixous, Hélène: “Castration or Decapitation?” in Robert Con Davis & Ronald Schleifer: 1989, 287.
Teen die manlike orde is sy die mannin op soek na haar eie stem teen die vaderdigter Opperman. Veral in Otters in bronslaai probeer sy haar losmaak van hom; maar sy reageer steeds op hom in Lady Anne.
Jane Gallop se psigoanalitiese studie The daughter’s seduction (1982) wys op hierdie prosesse van onthegting.
Die hele kwessie van ruilhandel word bespreek met verwysing na Freud se Dora-saak.
Is Dora ‘n slagoffer of heldin? ‘n Kwessie wat Gallop behandel oor die gesprek tussen Cixous en Catherine Clément (1982: 132, 133). ‘n Heldin vir Cixous en Gallop wil eerder wys op haar ambivalensie:”Yet rather than assume the ambiguity, the two writers themselves become polarized as advocates of either the hysteric as contesting or the hysteric as conserving” (1982: 134). (Hieroor het ek geskryf in my rubrieke Hoe lees ons? op die Versindaba nommer 4).
Vir hierdie leser is ambivalensie tersaaklik.
Exergasia oftewel amplifikasie
ek begin mans bekyk
ek kom agter dat ek mans begin bekyk
brutaal met die gedagte
hoe naai hy
sy breins en sieletjie interesseer my nie
die gesiggie wat glinster van try charm en oulik wees
let ek onberoerd op
sou nie eers met mans gepraat het
as dit nie toefallus was
(De Wet: 2020, 52)
Hierdie vers is oorspronklik gepubliseer in Gedigte 1989 – 1995 deur Hond uitgewers. Hier word die man tot objek verklaar deur die vroulike subjek.
Ons vind hier ook woman-identified-gedigte soos “ons is alleen in die sauna” en “jou tiete twee massiewe sampioene” wat die ryk verbeelding van die digter beklemtoon. Die klassieke vers “ek staan by ‘n moerse rots langs die see by Paternoster” is die “vry fokken vrou” in opstand téén die letterlike Onse Vader en die patriargie. Inderdaad baie identiteite of “worde”.
Die titel “baie worde” verwys na ‘n gedig uit Kleur kom nooit alleen nie (2000):
“boot”
nie van wees nie
maar van word
baie worde
verby verlore en ontheemde ruimtes
baie baie worde
Hier word Jacomien van Niekerk se studie oor identiteit en transformasie bespreek op my blog: http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=baie+worde Besoek 4 November 2023
Alles in die hierdie digkuns is ‘n proses. Die digter as nomaad en soos sy in “digter wordende” uit Kleur kom nooit alleen nie sluit:
die digter dig met haar tong
sy haal asem – ja, diep uit haar oor
(De Wet, 2020: 162).
Die inkantasie van taal word op ‘n verstommende wyse deur hierdie digter beskryf en beleef. In siklusse van verwonding én herstel. Verskillende worde inderdaad.
Joan Hambidge
5 November 2023
Bronne:
Conradie, Pieter. 1996. Geslagtelikheid in die Antjie Krog-teks. Elserivier: Nasionale Handelsdrukkery.
De Wet, Karen. 2020. ‘n Vry vrou. Kaapstad: Human & Rousseau.
Krog, Antjie. 2009. Digter wordende. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Niekerk, Jacomien. 2016. ‘Baie worde’: identiteit en transformasie by Antjie Krog. Pretoria: Van Schaik.
Viljoen, Louise. 2009. Ons ongehoorde soort: beskouings oor die werk van Antjie Krog. Stellenbosch: Sun Press.
Ander teorie:
Cixous, Hélène. 1989. “Castration or Decapitation?” in Robert Con Davis & Ronald Schleifer (redd.) Contemporary Literary Criticism – Literary and Cultural Studies. New York: Longman.
Sorties. 1988. David Lodge (red.) Modern Criticism and Theory – A Reader. New York: Longman.
Gallop, Jane. 1982. The Daughter’s Seduction – Feminism and Psychoanalysis. Ithaca: Cornell University Press.
Gilbert, Sandra M. & Gubar, Susan. 1979. The Madwoman in the Attic: The Woman Writer and the Nineteenth Century Literary Imagination. New Haven: Yale University Press.
Mitchell, Juliet. 1975. Psychoanalysis and Feminism. Londen: Penguin.
Digkuns:
Dogter van Jefta (1970)
Januarie-suite (1972)
Beminde Antarktika (1974)
Mannin (1974)
Otters in Bronslaai (1981)
Jerusalemgangers (1985)
Lady Anne (1989) vertaal as Lady Anne: A Chronicle in Verse, 2017)
Gedigte 1989–1995 (1995)
Kleur kom nooit alleen nie (2000)
Verweerskrif (2005) vertaal as Body Bereft, 2006)
Mede-wete (2014) vertaal as Synapse, 2014)
Plunder (2022)
Hambidge gedigte: Joan Hambidge (Asindeton. Werk-in-aksie)