Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
2 November 20232 November 2023

Johann Wolfgang von Goethe. Vertaling in Afrikaans

 

 

JOHANN WOLFGANG VON GOETHE (1749 – 1832). VERTALING IN AFRIKAANS

 

Ongepubliseerde dele van die Walpurgisnag-toneel in Faust:

Vertaling in Afrikaans deur Robert Schall

 

Die Walpurgisnag, die nag van 30 April op 1 Mei, is vernoem na Sint Walpurga, wie se gedenkdag 1 Mei is. Volgens tradisie is dit die nag dat die hekse op die Bloksberg (eintlik Brocken) vergader. Die Brocken is die hoogste berg van die Harz, ʼn gebergte in Duitsland.

Walpurgisnag is ook die naam van ʼn toneel in Deel 1 van Johann Wolfgang von Goethe se groot drama Faust. Volgens die vooraanstaande Duitse Goethe-kenner Albrecht Schöne verwys Walpurgisnag nie net na die nag van die hekse nie, maar “tegelyk [na] ʼn simboliese, spirituele ruimte: die sfeer van sataniese heerskappy” (Schöne 2017a, bl. 342). Maar in die 1808 gepubliseerde, kanonieke weergawe van Faust tree Satan nooit op nie, en volgens Schöne wys die Walpurgisnag-toneel tekens wat daarop dui dat die teks verkort is: Aanvanklik dring Faust by Mefistofeles daarop aan om te sien wat op die bergspits gebeur, maar effens onbegryplik stem hy dan in om dié plan te laat vaar en hom onderkant die piek “tuis te maak.” Die toneel vervlak (“verläppert sich”) uiteindelik in die Bloksberg-teater van die Walpurgisnagdroom (Schöne 2017a, bl. 342-345; sien ook Gaier 1999, bl.454-455).

Inderdaad is onder Goethe se nagelate geskrifte Walpurgisnag-paralipomena (stukke weggelate materiaal), waarvan sommige afgewerk is. Volgens Schöne het Goethe beplan om ʼn ketter- of heksesabbat in die toneel op te neem wat Satan se verering – met as hoogtepunt die soen van sy anus – en die verkondiging van sy leer behels. Dit alles sou op die piek van die Bloksberg afspeel. ʼn Daaropvolgende toneel, Grietjie se hooggeregsverskyning en teregstelling, is ook deur Goethe weggelaat. Daarmee het verse van “groot digterlike krag, waagmoed van denke en dramatiese energie” verlore gegaan. Schöne beskou dit as ʼn aansienlike verlies vir die dramatiese konsep van die hele toneelstuk. Die weglatings was ʼn daad van selfsensuur van Goethe se kant wat rekening gehou het met die te verwagte reaksie van die tydgenootlike publiek (Schöne 2017a, bl. 120-124 en 342-346).

Om te vergoed vir hierdie verliese het Schöne ʼn toneelweergawe van die Walpurgisnag voorgestel (Schöne 2017b, bl. 739 – 753) wat paralipomena 48, 49, 50 en 62 insluit; die volledige Faust-paralipomena kan in Schöne (2017b, bl. 541 – 737) gevind word; vir ʼn kritiek van Schöne se voortel sien Gaier (1999, bl.455-457).

Schöne se weergawe van die Walpurgisnag bevat 395 versreëls. Soos die kanonieke weergawe begin dit met Faust en Mefistofeles se staptog na die Bloksberg; na ʼn ruk roep Mefistofeles die hulp van ʼn dwaallig in om hulle in die donker die weg na die piek te wys. ʼn Woedende storm kom op en die hekse verskyn en sing as koor. Anders as in die kanonieke weergawe bereik die twee uiteindelik die bergspits en aanskou Satan se optrede en verering. – Hieronder gee ek dan my vertaling van dié dele van die Walpurgisnag-toneel wat nie in die kanonieke weergawe verskyn nie, gevolg deur Goethe se oorspronklike teks.

Notas:

  1. Agter elke sub-toneel se opskrif word, tussen ronde hakies (), die nommers van die sub-toneel se eerste en laaste versreël verskaf; die versreëls is genommer soos deur Schöne (2017b, bl. 739 – 753).
  2. Die taal is soms kru of vulgêr, maar in alle gevalle praat Satan, of ʼn duiwel, of die hekse, nie die digter of die vertaler nie. In die vertaling het ek Goethe se voorbeeld in Faust se kanonieke weergawe gevolg en aanstootlike woorde, behalwe hulle beginletters, deur sogenaamde Anstandsstriche (fatsoenlikheidstrepies; kyk Schöne 2017a, bl. 118-119) vervang. Aangesien die betrokke woorde in rymposisie verskyn, behoort alles meer as duidelik te wees. In die oorspronklike Duits van die paralipomena is alles deur Goethe uitgespel.
  3. Toneelaanwysings en teksgedeeltes wat in vierkantige hakies [ ] geplaas is, is deur Schöne (2017b) ingevoeg en ook so vertaal.
  4. Die omslagillustrasies is deur Jochen Frisch, Speyer (Duitsland), na aanleiding van Faust (1960), ʼn film deur Gustav Gründgens en Peter Gorski, met Gustav Gründgens (Mefistofeles) en Will Quadflieg (Faust) in die hoofrolle. Die foto’s van die kunswerke is deur Gerhard Kayser, Speyer.
  5. Die volgende persone het die manuskrip gelees en uiters waardevolle kommentare gelewer, voorstelle vir verbeterings gemaak, en goeie raad gegee: Hildegard Klein, Bernard Odendaal, Henning Pieterse, Gina Schall, Paul Schall, Francois Smith en Marlies Taljard. Ek dank hulle almal van harte vir die bydraes wat hulle gemaak het. Aangesien ek egter nie altyd geluister het na die goeie raad wat hulle gegee het nie, is enige mankemente in die vertaling vir my rekening.

 

 

 

Bergspits (198-223)

 

[Stem in die Maalkolk]

Sien jy hoe hy die berg op kom?

ʼn Legioen drom saam om hom!

 

[Almal]

Die vromes slaan verstom die kruis.

Hy kom as die oorwinnaar tuis!

 

Trompetgeskal, blitse, donderslae van bo.

Vuurkolomme, rook, walm.

Rots wat uitsteek. Dit is Satan.

Groot menigte rondom.

 

[Knielende]

… en as ek, soos ek vra van hierdie raad,

my in dié ryk as gevolmagtig mag beskou,

dan soen ek graag, al is ek eintlik demokraat,

vol dankbaarheid, tiran, jou klou.

 

[Mefistofeles as] Seremoniemeester

Die klou! Dís vir gewone personeel!

Jý sal ʼn bietjie meer moet doen.

 

[Knielende]

Maar wat vereis die ritueel?

 

Seremoniemeester

Die voorreg om die agterent te soen.

 

[Knielende]

Daarʼs min wat my meer sou behaag:

Ek soen die voor- en gatkant ewe graag.

[Satan draai om.]

Waar bo jou haakneus welf sodat

dit yslik oor die aarde buk,

sien ek hier onder daardie gat

wat selfs die heelal heel kan sluk.

Die geur van hierdie kolossale mond!

Die paradys kan skaars so lekker ruik,

sodat dié gorrel van die str—

begeerte wek om in te kruip.

[Asemlose stilte. Dan die menigte se rasende gegil.]

Nog iets?

 

Satan [kom regop en draai om.]

Vasal, genoeg, jy hoor die vreugdegille!

Ontvang hiermee in bruikleen dermiljoene siele.

En wie Swart Piet se hol so liries kan besing,

gaan dit nog ver met gatlek bring.

 

 

Nag (224 – 293)

Massas, Groepe

[Satan op die troon.]

 

Satan

Vir ooie, die hotkant,

vir ramme, die regter!

Die ooie ruik sleg,

die ramme nog slegter.

Maar al sou die ramme

nog meer stink, is wat

ʼn ooi is te gretig

om bokram te vat.

 

Koor

Buig laag en kniel neer!

Vereer julle heer!

Hy spreek tot die volke,

bekeer en beleer.

Verneem nou sy woorde:

Hy teken sekuur

die ewige lewe

se ware natuur.

 

Satan na regs gedraai.

Twee dinge, vir julle,

is heerlik en groot:

die glansende goud

en die vroulike skoot.

Die skoot maak jou bronstig,

die goud maak jou ryk.

Dus, salig is hulle

wat albei kan gryp!

 

ʼn Stem

Wat sê hy, die heer? –

Ek staan te ver weg;

sy kosbare woorde

hoor ek hier maar sleg.

Dus bly vir my duister

die ware natuur,

die ewige lewe

bly vir my obskuur.

 

Satan na links gedraai.

Twee dinge, vir julle,

is heerlik en groot:

die glansende goud

en ʼn p— in jul skoot.

Die glans van die goud

betower jul siel,

jul skoot egter smag na

ʼn glansende p—.

 

Koor

Kniel neer en vereer hom,

dis heilige grond!

Staan nader en hoor hier

die woord uit sy mond!

 

ʼn Stem

Ek staan te ver weg,

al spits ek die ore,

te veel van sy woorde

gaan vir my verlore.

Wie lê vir my uit,

of teken sekuur,

die ewige lewe

se ware natuur?

 

Mefistofeles aan ʼn jong Meisie [saggies].

Wat huil jy so, my soet, klein ding?

Trane is seldsaam in ons kring.

Word jy in dié gemaal terdeë rondgestoot?

 

Meisie

Nee, dis die vreemde goed wat Satan sê,

oor goud en p—, en goud en skoot,

en almal blyk net pret te hê!

Weet dalk die grootmense wat daarin steek?

 

Mefistofeles

My liewe kind, los die gehuil!

Om te begryp waaroor die duiwel preek,

gryp gou wat agter mans se broeksgulp skuil!

 

Satan reguit.

Staan nader, jong meisies,

kom staan hier voor my.

Ek sien, julle kom hier

op besems gery.

Veins kuisheid bedags,

wees varksôe snags!

Só gaan dit te lekker:

Lyk eerbaar, wees jags.

[Orgiastiese gewoel. Die menigte tree aan vir die rondedans wat in ʼn seksorgie oorgaan.]

 

 

Hooggeregsverskyning (370-395)

 

[In die agtergrond die regters, die beul en sy knegte. Groep van Fransiskaners in hulle grys kleed en Dominikaners met swart monnikskappe. Grietjie nader hulle.

Menigte. Swerms Hekse sirkel om die blok.]

 

Hekse as koor.

Die hekse drom saam om huis toe te gaan,

die stoppels is groen en geel is die graan.

Ten slotte is almal op hulle gemak:

Die hekse spoeg ghwel en die varksôe k–.

 

Drukte. Gesprekke van die volk.

[Grietjie kniel voor die skavot.]

Gesang [van die volksmenigte, gedemp.]

[Media vita

In morte sumus:

Quem quaerimus adiutorem

Nisi te, domine,

Qui pro peccatis nostris

Iuste irasceris.

Sancte Deus,

Sancte fortis,

Sancete et misericors salvator:

Amarae morti ne tradas nos.]

 

[Spreekkoor van die Fransiskaner- en Dominikaner-inkwisitore]

Die dampe van warm mensebloed

is wat die towerwêreld voed.

Die broederskap in grys en swart

put krag daaruit om te volhard.

Wat bloed belowe, spoor ons aan,

wat bloed vergiet, is aangenaam.

Om gloed en bloed beweeg ons dans,

die bloed moet vloei en gloei en glans.

Die kop val af.

Die bloed spuit en blus die vuur.

Een-een loop bloedfonteine nooit,

want baie ander bronne spuit:

Riviere bloed loop, en groei aan,

een bloedstroom sleep ʼn ander saam!

 

Middernag.

Die verskyning versink.

Vulkaan.

Die skare gaan wanordelik uitmekaar. Geknars en stormwind.

 

[Oggendskemer. Die volgende toneel is Triestige Dag. Veld.]

 

 

 

Gipfel (198-223)

 

[Stimme im Strudel]

Siehst du, er kommt den Berg hinauf!

Von weitem steht des Volkes Hauf.

 

[Alle]

Es segnen staunend sich die Frommen.

Gewiß, er wird als Sieger kommen!

 

Trompetenstöße, Blitze, Donner von oben.

Feuersäulen, Rauch, Qualm.

Fels, der daraus hervorragt. Ist der Satan.

Großes Volk umher.

 

[Kniender]

… und kann ich, wie ich bat,

Mich unumschränkt in diesem Reiche schauen,

So küß ich, bin ich gleich von Haus aus Demokrat,

Dir doch, Tyrann, voll Dankbarkeit die Klauen.

 

[Mephistopheles als] Zeremonienmeister

Die Klauen! das ist für einmal!

Du wirst dich weiter noch entschließen müssen.

 

[Kniender]

Was fordert denn das Ritual?

 

Zeremonienmeister

Beliebt dem Herrn, den hintern Teil zu küssen!

 

[Kniender]

Darüber bin ich unverworrn,

Ich küsse hinten oder vorn.

[Satan wendet sich.]

Scheint oben deine Nase doch

Durch alle Welten vorzudringen,

So seh ich unten hier ein Loch,

Das Universum zu verschlingen.

Was duftet[s] aus dem kolossalen Mund!

So wohl kanns nicht im Paradiese riechen,

Und dieser wohlgebaute Schlund

Erregt den Wunsch hineinzukriechen.

[Atemlose Stille. Dann frenetischer Aufschrei der Menge.]

Was soll ich mehr!

 

Satan [richtet sich auf, wendet sich um.]

Vasall, du bist erprobt!

Hierdurch beleih ich dich mit Millionen Seelen.

Und wer des Teufels Arsch so gut wie du gelobt,

Dem soll es nie an Schmeichelphrasen fehlen.

 

 

Nacht (224-293)

Massen, Gruppen.

[Der Satan auf dem Thron.]

 

Satan

Die Böcke zur Rechten,

Die Ziegen zur Linken!

Die Ziegen, sie riechen,

Die Böcke, sie stinken.

Und wenn auch die Böcke

Noch stinkiger wären,

So kann doch die Ziege

Des Bocks nicht entbehren.

 

Chor

Aufs Angesicht nieder!

Verehret den Herrn!

Er lehret die Völker

Und lehret sie gern.

Vernehmet die Worte:

Er zeigt euch die Spur

Des ewigen Lebens

Der tiefsten Natur.

 

Satan rechts gewendet.

Euch gibt es zwei Dinge

So herrlich und groß:

Das glänzende Gold

Und der weibliche Schoß.

Das eine verschaffet,

Das andre verschlingt.

Drum glücklich, wer beide

Zusammen erringt!

 

Eine Stimme

Was sagte der Herr denn? –

Entfernt von dem Orte

Vernahm ich nicht deutlich

Die köstlichen Worte.

Mir bleibet noch dunkel

Die herrliche Spur,

Nicht seh ich das Leben

Der tiefen Natur.

 

Satan links gewendet.

Für euch sind zwei Dinge

Von köstlichem Glanz:

Das leuchtende Gold

Und ein glänzender Schwanz.

Drum wißt euch, ihr Weiber,

Am Gold zu ergötzen

Und mehr als das Gold

Noch die Schwänze zu schätzen.

 

Chor

Aufs Angesicht nieder

Am heiligen Ort!

O glücklich, wer nah steht

Und höret das Wort!

 

Eine Stimme

Ich stehe von ferne

Und stutze die Ohren.

Doch hab ich schon manches

Der Worte verloren.

Wer sagt es mir deutlich?

Wer zeigt mir die Spur

Des ewigen Lebens,

der tiefsten Natur?

 

Mephistopheles zu einem jungen Mädchen [halblaut].

Was weinst du? artʼger kleiner Schatz

Die Tränen sind hier nicht am Platz.

Du wirst in dem Gedräng wohl gar zu arg gestoßen?

 

Mädchen

Ach nein! der Herr dort spricht so gar kurios

Von Gold und Schwanz, von Gold und Schoß,

Und alles freut sich, wie es scheint!

Doch das verstehn wohl nur die Großen?

 

Mephistopheles

Nein, liebes Kind, nur nicht geweint!

Denn willst du wissen, was der Teufel meint,

So greife nur dem Nachbarn in die Hosen!

 

Satan gradaus.

Ihr Mägdlein, ihr stehet

Hier grad in der Mitten.

Ich seh, ihr kommt alle

Auf Besen geritten.

Seid reinlich bei Tage

Und säuisch bei Nacht!

So habt ihrs auf Erden

Am weitsten gebracht.

[Orgiastisches Getümmel. Die Menge formiert sich zum Ringtanz, der übergeht in die Sexualorgie.]

 

Hochgerichtserscheinung (370-395)

 

[Im Hintergrund die Richter, Henker, Henkersknechte. Gruppe von Franziskanern in grauem Habit und Dominikanern mit schwarzen Kutten und Kapuzen. Gretchen nähert sich ihnen.

Volksmenge. Hexenschwärme umziehen den Richtblock.]

 

Hexen im Chor.

Und wie wir nun nach Hause ziehn,

Die Saat ist gelb, die Stoppel grün.

Zum Schlusse nimmts kein Mensch genau,

Es speit die Hexe, es scheißt die Sau.

 

Gedräng. Reden des Volkes.

[Gretchen kniet vor dem Richtblock.]

Gesang [der Volksmenge, gedämpft.]

[Media vita

In morte sumus:

Quem quaerimus adiutorem

Nisi te, domine,

Qui pro peccatis nostris

Iuste irasceris.

Sancte Deus,

Sancte fortis,

Sancete et misericors salvator:

Amarae morti ne tradas nos.]

 

[Sprechchor der Franziskaner- und Dominikaner-Inquisitoren]

Wo fließet heißes Menschenblut

Der Dunst ist allem Zauber gut.

Die grau und schwarze Brüderschaft

Sie schöpft zu neuen Werken Kraft.

Was deutet auf Blut, ist uns genehm,

Was Blut vergießt, ist uns bequem.

Um Glut und Blut umkreist den Reihn

In Glut soll Blut vergossen sein!

Der Kopf fällt ab.

Das Blut springt und löscht das Feuer.

Ein Blutquell rieselt nie allein

Es laufen andre Bächlein drein

Sie wälzen sich von Ort zu Ort

Es reißt der Strom die Ströme fort!

 

Mitternacht.

Versinken der Erscheinung.

Vulkan.

Unordentliches Auseinanderströmen. Brechen und Stürmen.

[Morgendämmerung. Es folgt die Szene Trüber Tag. Feld]

 

 

 

Bronne:

Gaier U (1999). Johann Wolfgang Goethe: Faust-Dichtungen. Band 2: Kommentar I. Stuttgart: Reclam

Schöne A (2017a). Johann Wolfgang Goethe. Faust. Kommentare (2de druk 2019). Berlyn: Deutscher Klassiker Verlag

Schöne A (redakteur) (2017b). Johann Wolfgang Goethe: Faust. Texte (2de druk 2019). Berlyn: Deutscher Klassiker Verlag

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Robert Schall. ʼn Hekse-Sudoku? Die “Hexeneinmaleins” in Goethe se Faust

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. verskille
  • Anne-Marie Bartie. vlinderslag
  • Hendrik J. Botha. Teen sononder
  • Anne-Marie Bartie. bewys van betaling
  • Marius Crous. Twee mombakkiesliedjies

Nuutste bydraes

  • Digtersprofiel: Johan Myburg
  • Joan Hambidge. Piromaan
  • Joan Hambidge. My geliefde voormalig
  • Jasmyn Beetge. Delikaat
  • Hennie Maartens. oorskot

Nuutste kommentaar

  1. Margaret Cordier-Biermann on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels16 July 2026

    Dankie, Andre — jy verf gedigte en ons ry nou tyd en woorde bloots.

  2. Andre Roothman on Margaret Cordier-Biermann. Vrye teuels15 July 2026

    Uiters gemaklik op die literere verteringsstelsel. tyd die tiran het sy deugde.

  3. Toekie on C Fritze. Boodskap aan die see14 July 2026

    Pragtig geskryf. Het dit baie geniet.

  4. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Wat ’n vers kan verraai en vermag13 July 2026

    Die onderbenoeming - konkreter: die min woorde - roep treffend ‘n ysliker en aaklige “werklikheid” op.

  5. Karin on C Fritze. Boodskap aan die see13 July 2026

    Dié gedig praat met my hart en met my siel. Ek verlang na die klank en die reuk van die…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d