Somerlied
By Summerland Point swem eende
generies op ʼn dam, die water
ʼn onvoldoende spieël vir uitgereënde
wolke, flets lug. Miskien sal ʼn kiewiet later
sy vere in die klam wind skik en pluis
sodat ek met geskreefde oë my kan verbeel
ek is vir ʼn oomblik weer jonger en tuis
in Afrika: netnou gaan die kweel
van bokmakieries ʼn klepel aan die somer hang.
Maar spieël en lug en tyd verbrokkel
as reënbooglorikiete die sonlig vang
en skerwe kleur teen bloekoms sprokkel.
ʼn Kookaburra se koggellag
trek strepe deur my mymerdag.
Summerland Point, NSW, Australië
© Ilse van Staden, 2023