Sessie by tant Hessie
“Broer, hoe gaan dit nou met jou gemoed?”
Holderstebolder, liefste Tante, eerlikwaar,
veral smôrens is trawal en traan
graanvlokgewroeg
groen koring op my niemandsland
mandolientjiemalheid
vloekend verskree ek
die Ruiter in die Nag
sy boude ry swaar op my:
fee-fi-fo-fum
ek tap die bloed
van ’n weerlose man.
Laat ek vertel van my nuutste brousel
driemaandeliks aangepas
deur dok Piet van der Pil MMed (Psych)
proviand vir deurmekruis stowwe
in my kop, my verflenterde nerwe:
200 mg lamotrigien, 15 mg mirtasapien
’n paar diasepam vir die wis en onwis
10 mg propranolol vir my galoppende hart
’n stuk varklewer vir B-vitamien.
Miskien wil jy weet van my harmansdrupdae
seerspier en kraakskelet
swaar dra, al aan die een kant
na my bad van Betesda
teugend aan tee van wilde-als
katatonies ingedompel in my porseleinpoel
my lamsaklyf
sal nie weer opstaan.
Dalk iets oor dr. Paniek en mnr. Paranoia
skrikgedagtes van pangamans
jagend in inkswart Duitse sedans
weereens op my spore
my verbrande ledemate
en afgekapte kop
op blink skinkborde
in kluise van poeiermagnate
my skikgodinne hang
aan die hake van sindikate.
So, nou weet Tante genoeg
vir eers,
verneem gerus tog ook
na die welstand van ander vriende
met die Allerheiligste DSM-5-TR steeds naderby
ja, Tante, dié lys is so lank soos jou arm:
Sarie Mooirivier
(vra gerus uit oor haar PTSS)
Japie my Skapie, liewe Marthatjie, liefste Gertjie,
tant Alie wat so rondrits
(kyk onder persoonlikheidsversteurings)
oom Bossie
(suip hy nog so?)
Hansie Slim en die jollie bobbejaan
(beslis bipolêr, meen ek,
I, II of I gemeng of I ongespesifiseerd, sal ek nie kan sê)
en die meisie wat so voor die treine lê
op pad na Pretoria?
Net gou iets fluister
in jou goeie oor
vóór ek gaan:
jou witperd is maar bra sleg
en maak niks en fokkol reg.
© Neil Cochrane, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.