Jan Krabbel word metafoor
Jan Krabbel ontvang die helse genade
van op homself aangewese wees –
geen hand in die lug van iemand wat lees,
net ‘n skuins marsjeerder op parade.
Oor skotige opdraandes en -affes
lei aan die neus hom sy swaktes,
met puntjies wat by paaltjies moet kom,
word hy hoofsaaklik outodidakties.
Onder aandag van sy korrelende ogies
kry hy sy stywe lede in gelid,
voel hy niks minder as skatlik verplig
tot uitfletter in rym deur KI gerig.
Waar selle verdeel in gespanne formate
en nooit verval nie in koördinate,
maar miswurmsag skuil in ‘n harnas
van bogte en – genadiglik – hiate.
© Pirow Bekker, 2023