Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 January 202418 January 2024

Resensie: “I wish I’d said … Vol. 6”. Johann de Lange & Agnes Mawela (Reds.)

 

 

 

Resensie: I wish I’d said … Vol. 6. Johann de Lange & Agnes Mawela (Reds.) Naledi, 2023.

Resensent: Marlies Taljard

 

Inleidend

Vir die sesde agtereenvolgende jaar het AVBOB se bundel I wish I’d said … in 2023 verskyn met verse van deelnemers aan die AVBOB Poetry Competition wat weer op 1 Augustus 2024 open (sien by https://www.avbobpoetry.co.za/ ). Sedert 2017 toe dié kompetisie die eerste keer aangebied is tot op datum het meer as 38 000 persone vir die kompetisie ingeskryf, is 175 679 gedigte in die 11 amptelike tale van Suid-Afrika ontvang en het 19 930 op die AVBOB-webblad verskyn https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll (De Lange & Mawela, 2023: xvi). Die AVBOB-persverklarings wat gereeld op Versindaba verskyn, bevat praktiese raad aan digters, verskaf deur ʼn verskeidenheid Suid-Afrikaanse digters en is deel van die AVBOB Poetry Project.

In die Inleiding tot die bundel skryf Carl van der Riet, Besturende Direkteur van AVBOB:

“The AVBOB Poetry Project strives to build a repository of poems in all our mother tongues, offering the public a diverse selection of inspirational material” (De Lange & Mawela, 2023:xvi), terwyl Johann de Lange, Hoofredakteur van die bundel, verduidelik dat “[t]he overarching theme of this anthology is a difficult but important one – death, and the ways in which we confront and process it” (De Lange & Mawela, 2023:xiii). Die temas geboorte, dood, hoop en liefde is volgens De Lange die belangrikste temas wat in die betrokke bundel onder die vergrootglas geneem word.

Die I wish I’d said … -bundels word tans soos volg saamgestel: Al 11 die amptelike tale word verteenwoordig deur digters van wie gedigte aangevra word én die wengedigte van die digters wat die eerste ses plekke in die betrokke taalgroep gewen het (elke wenner ontvang R10 000 kontant en ʼn boekbewys van R2 500). Die laaste afdeling van elke bundel bevat ses Khoisan-gedigte uit die Bleek & Lloyd-versameling. Alle gedigte in inheemse tale word vergesel van ʼn nie-literêre vertaling in Engels (dit sluit Afrikaanse gedigte in).

Uit die bostaande behoort dit duidelik te wees welke kragtoer die verskyning van die bundels jaarliks is. Eerstens is daar die ontvang en beoordeling van alle gedigte wat ingeskryf word deur die Redakteurs van elke taal; daar word uitnodigings gerig aan digters van verskillende tale om bydraes te lewer wat in die finale teks opgeneem word; die wenners van die kompetisie word aangewys; vertalers moet gekontrakteer word; en die hele proses verloop op ʼn streng tydlyn. Dat die bundels elke jaar verskyn, daarvoor moet Johann de Lange (Hoofredakteur) gelukgewens word. Om so ʼn ingewikkelde proses én ʼn uiteenlopende span kundiges te bestuur, is ʼn fyn balanseertoertjie.

Naledi, wat elke jaar die bundels so pragtig uitgee, moet ook gekomplimenteer word!

Ek sal in hierdie resensie probeer om ʼn algemene indruk van die bundel I wish I’d said … Vol. 6 te verskaf met verwysings na sy voorlopers wat betref die temas wat aangesny word, asook ooreenkomste en verskille ten opsigte van gedigte vanuit die verskillende tale. Gedigvertalings gee slegs die inhoud van gedigte weer en is nié bedoel as literêre vertalings nie. Daarom sal ek myself nie uitspreek oor die kwaliteit van gedigte in tale wat ek nie kan lees nie, maar konsentreer op gedigte in Afrikaans en Engels. Ten slotte fokus ek op die oorkoepelende temas van geboorte en dood en teoretiese aspekte wat daarmee saamhang soos dit in die afgelope jare se I wish I’d said …-bundels figureer.

I

In die Afrikaanse afdeling van I wish I’d said … Vol. 6 onder redaksie van dr. Daniel Hugo verskyn daar (soos ook by die ander afdelings) drie gedigte van reeds gepubliseerde gekontrakteerde digters en die gedigte van die ses wenners van die afdeling vir Afrikaanse gedigte. Die wenners is Natalie Goetsch (eerste plek met haar gedig “Jaareind”), Wilmarie Pekeur, Ian de Beer, Jaomi Zeeman, Jacques Boshoff en Gerhard Barkhuizen.

Die wengedigte is eenvoudige dog treffende gedigte wat gemaklik deur die teikengehoor van die bundel verstaan kan word. Ook uit gedigte van vorige jare se bundels lyk dit asof Afrikaanse gedigte wat as wenners uit die stryd tree, meestal redelik sterk op vormgewing konsentreer. Indien nie klassieke vorme nie, dan is ʼn duidelike logiese lyn teenwoordig en digters handhaaf deurgaans streng dissipline wat vorm en inhoud betref. Die wengedigte is ook konstant redelike kort gedigte wat deeglik afgewerk is en ʼn eenvoudige boodskap bevat – dit is logies, aangesien hierdie gedigte vir alle mense van Suid-Afrika tot troos moet kan dien en dikwels op begrafnisbriewe gebruik word. Wat temas betref, moes digters skryf oor geboorte, dood, liefde en hoop. Dié temas kom dikwels vervleg in gedigte oor die dood voor. Herinneringsgedigte aan afgestorwe geliefdes blyk baie gewild te wees, soos Susan Smith se gedig “Tuinmaak”, een van die gedigte in die nuutste bundel deur ʼn gekontrakteerde reeds gepubliseerde digter:

 

jy is nie verlore nie

jy is nog hier

hierdie is die aarde

stof-van-jou-stof

asem-van-jou-asem

(…)

(p. 8)[i]

 

Ook die wengedig van Natalie Goetsch is ʼn gedig oor ʼn afwesige geliefde:

 

Jaareind

 

Die dag stoot op

soos die koer

uit ʼn tortelduif se krop.

 

Skaduwees loop langsamerhand

soos geliefdes

in die laningpad.

 

ʼn Kiewiet kondig skemer aan

in kort staccato-grepe

van jou naam.

(p. 12)

 

Een van die treffendste herinneringsverse wat die afgelope jare in die I wish I’d said … -bundels verskyn het, is Tom Dreyer se wengedig in die 2019-bundel (Vol. 2), “Slaap jy solank, dan hou ek die fort” – ʼn gedig wat aan sy vriend Jaco Botha opgedra is. Dié gedig is ook opgeneem in Dreyer se debuutbundel “Nou in infrarooi” (2023). Ek dink ook aan gedigte soos Hannes Visser se “Vir Piet Visser” (De Lange & Mashego, p. 27); Clinton V. du Plessis se gedig “Leemte”, ʼn gedig oor sy oorlede vader (De Lange & Golele, p. 12); Jaomi Zeeman se “Diepsee in (vir oom Willem” (p. 18); Gerhard Barkhuizen se “Oom Neels” (p. 22); Jacques Boshoff se aangrypende huldiging van ʼn hawelose man in Lynwood Glen, “Boodskapper” (p. 20), tesame met talryke ander.

‘n Interessante invalshoek wat deur die jare van tyd tot tyd opgeduik het in gedigte in alle landstale, is dié van ʼn afgestorwene wat uit ʼn ander tyd (ʼn hiernamaals) aan die woord is. Ian de Beer skryf in sy gedig “In absentia” in die nuutste bundel:

 

aan julle wat ver is,

noudat ek nie meer daar is,

moet ‘seblief tog nie vra

om my in die hiernamaals te pla (…)

(p. 16)

 

Die afgestorwene as spreker in plaas van as aangesprokene mag dui op die geloof in ʼn lewe na die dood oftewel die nabysyn van iéts van die afgestorwene wat nadoods oorgebly het. Hoewel dergelike gedigte in Afrikaans minder dikwels voorkom, is daar egter in baie gedigte die suggestie dat die afgestorwene die spreker sal hoor as hy/sy direk aanspreek word as “jy”, soos in die gedig van Jacques Boshoff:

 

Boodskapper

 

Ek het jou gereeld gesien

in die oggende vanaf my stoep

waar jy haweloos aan deure klop

en by huise na die eienaars roep.

 

Jy het Spreuke vir my aangehaal

as beloning vir jou brood en sop:

“Die Here sien oral; Hy hou slegte

en goeie mense dop.”

 

Ek kry onlangs die nuus:

Op die hoek van Lois en Atterbury

het Hy jou vroegoggend kom haal.

 

Jou werk is klaar in die diakonie

en jou huis in die hemel is afbetaal.

(p. 20)

 

Uit hierdie gedig spreek die eksplisiete veronderstelling van ʼn lewe na die dood in die hemel. In ander gedigte kom dit meer subtiel voor, soos in Hendrik J. Botha se gedig “Soms is wonde drome” (De Lange & Golele, p. 4) wat aan Gisela Ullyatt opgedra word. In hierdie gedig met die openingsreël “Met vlerke oor jou bors gevou (…)” verwys vlerke enersyds na klassieke engelefigure (in die hemel), maar ook intertekstueel na Ullyatt se bundel “Die waarheid oor duiwe” (2020). Magda van der Merwe se gedig “gee my dan” (De Lange & Golele, p. 24-5) verwys na verskeie Bybelse tekste soos Genesis 32:22-31, Psalm 23 en Openbaringe 21:21-27 en andere wat oor “hemelse” ruimtes handel: “gaan die strate regtig van goud wees (…) iewers, iewers moet daar dan groen weivelde ook wees (…)”. In hierdie gedig word (in gesprek met ʼn afgestorwene?) gemymer oor die hemel as ruimte.

Ons het in die gedig van Jacques Boshoff (hierbo) gesien hoe die digter se herinnering aan ʼn oorledene sterk plek-georiënteerd is (die hoek van Lois en Atterbury in Pretoria). Ook in die gedig van Magda van der Merwe is die digter se herinneringe aan ʼn bepaalde plek gebonde: “gaan daar ook tafeltjies en bankies wees / onder groot peperbome in hulle karoo”. Ronelda Kamfer skryf oor haar vriendin wie se ma haar nog nie kan begrawe nie in “Lykskouing” (De Lange & Mashego, p. 18), oor die voorhuis waar haar vriendin se ma sit “waar my vriendin se soet musky reuk nog / in die furniture vassit”. Die belangrikheid van plek en ruimte in die ervaring en verwerking van trauma is ʼn belangrike tema in studies oor die dood en verlies van ʼn geliefde. Daar word dikwels verwys na die dood as uiterste liminale ruimte. Ook plekke wat met verlies, trauma en dood geassosieer word, word as liminale sones beskou – later meer hieroor.

Dit was vir my opvallend dat, behalwe Gerhard Barkhuizen wat al ʼn bundel by Turksvy Uitgewers gepubliseer het, vanjaar se ander vyf pryswenners relatief onbekend is as digters en dat bekende en reeds gepubliseerde digters deur die jare min pryse gewen het. Dit laat verskeie vrae ontstaan oor die kanon (van Afrikaanse gedigte), byvoorbeeld hoe verteenwoordigend die kanon tans nog is, of elitisme ʼn rol in kanonisering speel, of bundels soos hierdie die kanon beïnvloed en tot welke mate wenners van digkompetisies gekanoniseer word voordat hulle ʼn eie bundel die lig laat sien. ʼn Mens wonder ook of reeds gekanoniseerde (Afrikaanse) digters deelneem aan kompetisies soos dié van AVBOB, selfs as dit finansieel aanloklik is en indien wel, of die gedigte wat hulle instuur dan nie op standaard is nie en die moontlikheid bestaan dat hulle bloot op grond van hulle digtersname in die kanon opgeneem word. My insig is dat daar op hierdie stadium waar die kritiese fokus dikwels op die kanon en kanonisering val, genoegsame navorsingsmateriaal in die AVBOB-argiewe bestaan om dergelike (en ander) navorsing oor die kompetisie te onderneem. Hierdie resensie is nie die plek om diepgaande navorsing te publiseer oor byvoorbeeld wie die digters is wat in die AVBOB-argiewe opgeneem is, wie gedigte ingestuur het en wie later ʼn bundel gepubliseer het nie – die navorsingsmateriaal is geredelik beskikbaar (sien die skakel hierbo).

II

In die Engelse afdeling onder redaksie van Douglas Reid Skinner is die pryswenners (Vol. 6) Lethube Hellen Phaladi (eerste prys met “Shai, Isaac Shai”), Geoffrey Haresnape, Adré Marshall, Jaco Fouché, David Muirhead en Sanelisiwe Nqashosho. Geoffrey Haresnape is emeritus-professor in Kreatiewe Skryfkuns aan UCT met vyf gepubliseerde digbundels agter sy naam, Adré Marshall is ʼn akademikus en voormalige Engels-dosent aan verskeie universiteite, die skrywer van ʼn akademiese teks oor Henry James, professionele vertaler en outeur van talryke gedigte wat in verskeie tydskrifte gepubliseer is, Jaco Fouché is ‘n bekende Afrikaanse skrywer wat gereeld Afrikaanse gedigte op LitNet publiseer, terwyl David Muirhead ʼn skrywer is wat al verskeie kortverhaalbundels die lig laat sien het.

Gedigte van Engelse pryswenners wissel redelik sterk in tematiek en vorm. Alle gedigte word gekenmerk deur streng dissipline, hetsy deur gebruik van tradisionele digvorme of vrye verse wat aan die poëtiese eise van die genre voldoen. Die wengedig van Lethube Hellen Phaladi, “Shai, Isaac Shai” fokus op geweld teen vroue en kinders en is ʼn ode aan die man wat die spreker teen aanranding en selfs die dood beskerm het:

 

(…)

I don’t know if you ever kept your spoken words

The same as your silent meaning

When you said, Stop, she is just a child.

You honoured me with recognition,

I wish it infectious,

A permanent impression on the minds of all others:

Stop, stop it, this is a child.

I hope it cololours the fabrics of their beings.

(…)

(p. 34)

 

Haresnape se gedig is ʼn gebed of gesprek met God en handel oor die dood van Jesus met intertekstuele verwysings uit die Ou Testament. Die boodskap is liefde:

 

though a son of royal David

you did not push and shove –

no king of sword and buckler but

a gentle king of love.

 

“The triple rainbow” (David Muirhead) het volgens die inhoud eienskappe van die volksballade en grens aan unheimlichkeit. Ander gedigte besin op verskillende maniere oor dood, lewe en die lewenslot. Al ses die wengedigte is sterk wenners.

III

Dood en godsdiens is sterk interafhanklik in hulle verhouding tot mekaar. Waar die dood ‘n gebeurtenis of toestand is wat dreig om lewens en betekenis te disintegreer, kan godsdiens gesien word as ‘n praktyk wat hierdie disintegrasie probeer oorbrug, wat troos en sin aan die bedroefdes wil gee. Hoewel daar in moderne tye graag aangeneem en beweer word dat die mens sy God of sy gode afgesweer het en dat die moderne mens nie meer “godsdienstig” is nie, word dié aanname o.a. weerlê deur literêre en ander tekste wat rondom die dood van geliefdes ontstaan. Kathleen Garces-Foley is die Redakteur van die boek Death and religion in a changing world. In die Inleiding van die boek voer sy aan (2016:ix) dat die plek waar dood en godsdiens mekaar kruis, nie net ʼn plek is waar geloof uitgeleef word nie, maar “it is also an arena for making meaning, community, ritual, and myth”. Dit is juis deur die simboliese en mitiese aspekte van religie dat die finaliteit van die dood getransendeer kan word. Godsdienstige rituele in hul wydste sin is die wyse waarop die mens op die dood van ʼn geliefde reageer. Dikwels is dit die begin van ʼn reeks noodsaaklike handelinge, soos die begrafnis, die hantering van die oorledene se besittings, die maak van kos vir besoekers en bedroefdes … Die respons op ʼn dood verskil soms ingrypend in verskillende kulture, maar wat my getref het, is die baie raakpunte in gedigte wat verskillende kulture in Suid-Afrika verteenwoordig.

In I wish I’d said … Vol. 6 word daar in enkele gedigte in die Afrikaanse en Engelse afdelings intertekstueel na die Bybel en Bybelse inhoude verwys. Geoffrey Haresnape se gedig sou as ʼn gebed beskou kon word. In Vol. 4 verwys Bernard Odendaal en Maretha Maartens se gedigte na gebeure direk na die dood van Jesus (De Lange & Possa-Mogoera, p. 4 en 22). Ook in die Engelse afdelings is sulke verwysings meer intertekstueel aansluitend as direk. Gebede is besonder skaars, hoewel mens sou verwag dat gebede veral in tye van nood en hartseer gehoor sou word. In die ander nege afdelings van die bundel kom verwysings na die Christelike geloof ook voor, soos in die Tshivenda-digter Walter Netshiomavani se gedig wat in Engels vertaal is as “Have I ever told you?”[ii]:

 

Have I ever told you?

About the day God blessed me

I was blessed with the best gift

Treasure that I longed to have for many years

(…)

 

Stretch your wings like an eagle

All I’ll do is continue to pray for you

That God Almighty shower you

With all that is good and the best to enjoy

(p. 244, 246)

 

Lufuno Masuvhekele skryf in ʼn Tshivenda-gedig “I am thirsty”:

 

These are only borrowed words,

I borrowed them from the Son of God while He was on the cross

on which he was crucified

(…)

(De Lange & Mashego, p. 287)

 

In dieselfde bundel – ook in Tshivenda – skryf Lufuno Netshiavha: “Just like Mary and Martha at the tomb of Lazarus / I screamed and wept uncontrollably” (p. 273).

Christelike rites en geloofsoortuigings is egter slegs één aspek van godsdienstige rituele. Ook ander kulturele gebruike is hierby inbegrepe, soos ek hierbo aangedui het. Mahlatsi Maqwenjo beskryf in ʼn gedig in Sepedi “Distribution of the deceased’s property” (De Lange & Golele, p. 161):

 

It has been some time since the deceased was buried,

Time for cultural family cleansing has arrived,

For the widow to be shaved and cleansed,

And for the deceased’s property to be distributed,

His clothes and other smaller items.

 

In die voorafgaande gedig in Sepedi deur Lethabo Zanele Nhlapo vra die spreker:

 

We humbly request that, after feasting, please stay away from alcohol,

Calling it After-tears, as you do at other funerals,

Making unnecessary noises, and acting irresponsibly,

Getting drunk.

You should know my brother abhorred debauched noises,

To do that would be an insult to his memory,

would make a mockery of my brother!

(De Lange & Golele, p. 159)

 

Jali (2000) wys daarop dat die dood binne die Afrika-konteks beskou word as ʼn voortsetting van die aardse bestaan en dat moderne Afrika-mense tans dikwels Westerse rituele volg tydens begrafnisse, maar dat Afrika-rituele steeds belangrik is. Verskeie rituele moet gevolg word om die transisie na die domein van die voorvaders glad te laat verloop, en daar is nog baie Afrika-mense wat hieraan vashou. Dit is van groot belang dat die oorledene ʼn “goeie” begrafnis moet kry en net die allerbeste wat die familie kan bekostig, is goed genoeg. Dit is enersyds om sy/haar oorgang na die spirituele wêreld glad te laat verloop en andersyds om te verhoed dat die afgestorwene later as gees terugkom en die lewendes skade aandoen. Die gebruik om ʼn bees te slag (of ʼn ander dier) en die oorledene in ʼn vel toe te draai, is ook nog vandag gebruiklik. Verskeie gedigte deur die jare verwys direk en indirek na hierdie tradisies. Ek haal enkele voorbeelde uit die Isizulu-gedigte uit die Vol. 6-bundel ter illustrasie aan.

Zimkhitha Mbhele eindig die gedig “The broken staff” met die toewensing: “May you rest in peace, /  And our ancestors welcome you with glee.” (p. 113) Yolanda Zungu skryf ʼn roerende loflied aan haar vader: “Great Njomane, rest in the land of the ancestors (…)” (p. 117). Delisile Mbatha eindig die gedig “He left never to return” met die reëls “You will be famous in the land of the ancestors, / They will keep discussing you in the land of the millipedes” (p. 119). Thokozonke Mbatha beskryf ʼn groot vloed waarin verskeie liggame weggespoel het en nie weer gevind kon word nie. Sy verwys dan na die buffeldoring (umphafa) wat volgens oorlewering die geeste van afgestorwenes aantrek: “From where will their souls be fetched with umphafa tree / So they can be joined by the ancestors?” (p. 123).

Nodeloos om te sê: kulturele gebruike en selfs gebruike wat iets uit verskillende kulture integreer, verskil hemelsbreed in ʼn land soos Suid-Afrika en die I wish I’d said …-bundels gee ʼn stem aan dié uiteenlopende kulturele praktyke.

 

IV

There, I am at the border of my condition as a living being.

(…)

In that compelling, raw, insolent thing in the morgue’s full sunlight, in that thing that no longer matches and therefore no longer signifies anything, I behold the breaking down of a world that has erased its borders: fainting away. The corpse, seen without God and outside of science, is the utmost of abjection. It is death infecting life. Abject. It is something rejected from which one does not part, from which one does not protect oneself as from an object. Imaginary uncanniness and real threat, it beckons to us and ends up engulfing us (Kristeva, 1984: 3-4).

In haar beroemde opstel Pouvoirs de l’horreur, in Engels vertaal as The powers of horror, beskryf Julia Kristeva die konsep van dood as die uiterste grens tussen subjek en objek. In psigoanalitiese terme is die oorsteek van so ʼn grens noodsaaklik vir die proses van identiteitskepping en toetrede tot die simboliese orde (Lacan se term) en word daar gevolglik groot waarde geheg aan die openbaarmaking van die afskuwelike (abjekte). Waarmee ons gekonfronteer word wanneer ons ʼn lyk sien, is die personifikasie van ons eie dood. Dit is trauma buite die bereik van woorde en menslike begrip – daarom is dit deel van wat Kristeva die cora noem. Hierdie ervaring word deur die jare telkemale in alle amptelike tale in die I wish I’d said …-bundels verwoord. In hierdie resensie is daar nie ruimte om volledig op hierdie aspek van Kristeva se teorie in te gaan nie. Die navorsingsveld daarvoor lê nog braak. Ek volstaan by enkele voorbeelde, alhoewel ruim 30% van gedigte in vanjaar se bundel én in ander bundels iéts van hierdie grensverskuiwende ervaring probeer vasvang. Ons sien dit veral in gedigte waarin die Dood die aangesprokene is, in beskrywings van aanrandings wat tot die dood lei, die skielike en onverwagte dood van ʼn geliefde en in die beskrywing van die liggame van geliefdes wat ons verlaat het. Omdat die ervaring van verlies menslike taal en formulering te buite gaan, word verlies dikwels in terme van simbole of metafore verwoord, soos in Thobile Skosana se gedig “The sun set abruptly” (p. 39):

 

There came a heavy storm.

In the blink of an eye, everything turned eerily grey!

The thunder roared unexpectedly

And it poured with heavy rain.

 

His mouth was speechless.

Tears filled our eyes.

All that was left were memories.

The sun had abruptly set.

 

Sinoyolo Nokutywa spreek die Dood direk aan in “The epidemic of death (p. 77):

 

When death came, we were shocked, and fainted

As if a rapist arrived and surprised us

Death, you are the creator of orphans

Death, you are the creator of widows and widowers

You are the creator of families without peace (…)

 

In verskeie dergelike gedigte word die karnavaleske aard (Bakhtin se term) van die dood uitgedaag. Veral Vol. 4 waarin gedigte oor die Covid-pandemie voorkom, bevat talryke gedigte waarin die Dood as karnavaleske figuur uitgebeeld word: “Your hands embrace darkness” (Elijah Bhila, De Lange & Possa-Mogoera, 2020: 221); “How big is your stomach, Death? / You gulp day and night without being full” (Mhlonipheni Nkosi, De Lange & Possa-Mogoera, 2020: 227). Die karnavaleske aard van die gedigte lê in die personifiëring van die dood as apokaliptiese figuur wat die Wet van God parodieer en die ander kant van die menslike natuur ontbloot wanneer hy die goddelike gebod vernietig en ‘n eie wetmatigheid van vernietiging en verskrikking skep waardeur God, alle outoriteit en sosiale norme uitgedaag word (Kristeva, 1987 (a):41-49).

Kristeva se vroeë werk is veral gerig op die semiotiek as ‘n dimensie van taal. In Pouvoirs de l’horreur bemoei sy haar met die representasie van die onsegbare belewenis. Die teorie wat sy in La révolution du langage poétique ontwikkel het oor die grensoorskrydende proses van opstand, pas sy in Pouvoirs de l’horreur aan om die opstand teen die abjekte subjek te beskryf. Toegepas op taal kan dit beskryf word as ‘n opstand teen die grense wat ‘n subjek verhoed om weer deel te word van die “maternal continent”, die pre-Oedipale gebondenheid aan die moeder. Kristeva benadruk die feit dat die abjekte nie noodwendig slegs gerepresenteer kan woord deur vuilheid of ontbinding nie, maar ook deur enige grensoorskrydende, ambivalente of intermediêre toestand (Kristeva, 1987 (b):238-271; Smith, 1998:28-30). In die I wish I’d said …-bundels verskyn die impak van die abjekte op die subjek dikwels as die onvermoë om woorde te vind vir die skrikwekkende, soos in die gedig van Prisca Nkosi, “Tears” (p. 223):

 

Tears are a prayer,

They represent my voice,

When the lips are unable

To utter any words

And the voice is mute,

The tears become a substitute (…)

 

Suiwer Jungiaans kan soortgelyke gedigte geïnterpreteer word as die integrasie van argetipes as noodsaaklike deel van die individuasieproses. Die Dood word dikwels as argetipe op sigself beskou, maar ek sou reken dat dit ook deel kan wees van die Skadu – die “wese se ondergrond” om Van Wyk Louw by te haal. Jungiaanse psigoanalise en die werk van Kristeva, Lacan, Barthes, Spivak en ander kan met vrug gebruik word in die ontleding van ʼn reeks digbundels wat die spanning dood-lewe-liefde as tema het. Die ontleding van liminale kunswerke herinner immers dikwels sterk aan die psigoanalitiese uitlê van drome en as sodanig word deur hierdie handeling ook die grense van die suiwer teksontleding oorskry.

V

Die werk van psigoanaliste en hulle konsep van grensoorskryding en liminale toestande moet, ongeag die ooreenkoms in terminologie, nie verwar word met die antropologiese werk van skrywers soos Van Gennep en Turner nie. Kristeva het dit immers duidelik gestel dat die verband tussen dié twee dissiplines slegs berus op grond van dieselfde logika, naamlik die oorlewing van die groep en die subjek.

In die Literêre Teorie het dit die afgelope dekades gebruiklik geword om die begrippe grensoorskryding en liminaliteit wat in die Antropologie gebruik word, op literêre tekste toe te pas. Die woorde “liminale” en “liminaliteit” (afgelei van die Latyn “limen” wat “drumpel” beteken) is die eerste keer gebruik deur die antropoloog Arnold van Gennep om rites de passage of inisiasierites te beskryf, “rites which accompany every change of place, state, social position and age” (Turner, 1969:94). In die bundels onder bespreking word die dood van ʼn geliefde dikwels as so ʼn grensoorskrydende ervaring beskryf, soos uit die volgende strofe blyk:

Worse things have happened before,

There are others who have travelled that road

Others have crossed that wide river

Do not be afraid

You too will be victorious.

(Hlulani Phanuel Magayisa, p. 269)

 

Van Gennep (Turner, 1969:94-95) identifiseer drie stadia tydens inisiasierites, naamlik skeiding/afskeiding, liminaliteit en herintegrasie. Skeiding/afskeiding veronderstel gewoonlik die oorsteek van ‘n ruimtelike of ‘n psigiese grens. Gedurende die liminale fase is die persoon in ‘n ambivalente toestand terwyl hy/sy deur ‘n ruimte beweeg wat geen van die eienskappe van die vorige of die volgende stadia bevat nie. Herintegrasie behels dikwels transformasie en terugkeer na die bekende ruimte vanwaar die persoon vertrek het, maar nou geniet die geïnisieerde ‘n ander status as vantevore (Turner, 1969:94-95). Die dood van ʼn geliefde en die trauma wat daarmee saamhang, word dikwels beskryf as die uiterste vorm van ambivalensie, gelykstaande aan enige rite van oorgang en selfs inisiasie (byvoorbeeld na weduweeskap/wewenaarskap/weeskindskap).

Uit die bundels onder bespreking blyk dit dikwels dat mense wat trauma beleef het, hulle in ʼn liminale toestand bevind. Ian de Beer verwoord dit soos volg in sy gedig “In absentia” wanneer die oorlede spreker ten slotte beweer: “ek draf nou losvoet / want ek is nou vry” (p. 16). Hierdie gedig illustreer egter ook die belangrike rol wat plek en ruimte in die belewenis van liminale figure (in hierdie gedig die oorledene, maar dikwels ook die agtergeblewenes) speel. Maddrill (2010:123) beweer: “The experience of grief can feel like a loss of origins and a loss of a dwelling place. The potential of grief to dis-embed people from their sense of being in the world suggests the importance of space and place in the experience of grief.” Daarom sien ons dikwels dat herinneringe aan afgestorwe geliefdes ten nouste aan plekke verbonde is waarmee dié mense geassosieer word – dikwels plekke wat die spreker en die oorledene saam besoek het of waar hulle saam gelukkig was, asof daar in die plek/ruimte iéts van die oorledene agtergebly het. In De Beer se gedig vra die spreker dat sy geliefdes hom nie in die hiernamaals moet soek nie,

 

want as julle my soek, dan sal julle my kry –

in jonkershoek, by die brandhut verby

waar swartboskloof se stroom ons dors laat kwyn,

op die bergpad waar die middagson op ons blaaie skyn,

en in die eden se kloof waar mos en varings die wande begroei

(…)

(p. 16)

 

Daar is al baie navorsing gedoen oor hoe oorledenes en die liggame van afgestorwenes aan sekere plekke verbind word, asook oor hoe hulle op sekere plekke herdenk word. Hierdie studies het gefokus op die wyse waarop landskappe die oorledene kan bevat of hoe hy/sy daar “hervestig” kan word as deel van die proses van rou en herdenking.

Ten slotte

Ek het in die voorafgaande hoofpunte probeer aantoon welke navorsingsfokusse moontlik gebruik kan word om die reeks I wish I’d said …-bundels te ontsluit. Ek ken geen literêre kritikus wat in staat is om al 11 ons landstale te kan lees nie. Daarom is dit baie onwaarskynlik dat ʼn normatiewe studie van die bundels ooit onderneem sal word. Selfs indien van ʼn ander metodologie gebruik gemaak word, sal die navorser indringende onderhoude met die vertalers moet voer ten einde die subtiele mitologiese en literêre verwysings in die gedigte te ontgin. Hierdie bundels kan egter nie deur navorsers geïgnoreer word nie. Dit is my hoop dat daar inderdaad uiteindelik ʼn diepgaande studie – van welke aard dan ook – daarna onderneem sal word. Die bundels is beslis ʼn skatkis van kulturele kennis en gebruike in Suidelike Afrika.

 

Bronne

AVBOB. 2024. The AVBOB Poetry Project. https://www.avbobpoetry.co.za/

AVBOB. 2024. Poems. Poems (avbobpoetry.co.za)

Bakhtin, M. 1984. Probems of Dostoevsky’s Poetics.Minnesota. University of Minnesota Press.

De Lange J. & Maphumulo, M. 2019. I wish I’d said … Vol. 2. Kaapstad: Naledi.

De Lange, J. & G. Mashego. 2020. I wish I’d said … Vol. 3. Kaapstad. Naledi.

De Lange, J. & R. Possa-Mogoera. 2020. I wish I’d said … Vol. 4. Gansbaai. Naledi.

De Lange, J. & CP Golole. 2022. I wish I’d said … Vol. 5. Gansbaai. Naledi.

De Lange, J. & A. Mawela. 2023. I wish I’d said … Vol. 6. Gansbaai. Naledi.

Dreyer, T. 2023. Nou in infrarooi. Kaapstad: Kwela

Garces-Foley, K. (Red.) 2006. Death and religion in a changing world. Londen: Routledge.

Jali, N.M. 2000. The African perception of death, with special reference to the Zulu: a critical analysis. Stellenbosch: University of Stellenbosch. https://scholar.sun.ac.za/items/37b292df-e6de-44fb-adc5-037c5ce13330

Kristeva, J. 1982. Powers of horror: An essay on abjection. Leon S. Roudies (vert.). New York: Colombia University Press.

Kristeva, J. 1987 (a). Word, Dialogue and Novel. Alice Jardine, Thomas Gora & Léon S. Roudiez (trans.) In: Moi, Toril (Ed.). 1987. The Kristeva Reader. Oxford: Basil Blackwell.

Kristeva, J. 1987 (b). Freud and Love: Treatment and its discontents. Léon S. Roudiez (trans.) In: Moi, Toril (Ed.). 1987. The Kristeva Reader. Oxford: Basil Blackwell.

Maddrell, A. 2010. Memory, Mourning and Landscape in the Scottish Mountains: Discourses of Wilderness, Gender and Entitlement in Online Debates on Mountainside Memorials. In E. Anderson, A. Maddrell, K. McLoughlin, & A. Vincent (Reds.), Memory, Mourning, Landscape (pp. 123–145). Amsterdam: Rodopi.

Smith, A. 1998. Julia Kristeva: Speaking the unspeakable. London: Pluto Press.

Turner, V. 1969. The ritual process. Structure and anti-structure. London: Routledge & Kegan Paul.

Turner, V. 1974. Dramas, Fields, and Metaphors. Ithaca: Cornell University Press.

Ullyatt, G. Die waarheid oor duiwe. Pretoria: Protea Boekhuis.

Viljoen, H. & Van der Merwe, C.N. (Reds.). 2007. Beyond the Threshold: Essays in literature and liminality. New York: Peter Lang; Potchefstroom: Literator.

 

I wish I’d said … Vol. 6 kan by die volgende skakel bestel word:  https://www.avbobpoetry.co.za/Content/PoemAnthology

 

[i] Waar slegs ‘n bladsynommer voorkom, word verwys na De Lange & Mawela, 2023.

[ii] Ek verwys in die bespreking van gedigte uit die Swart inheemse tale na die Engelse titels soos dit in vertalings voorkom.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← AVBOB-Persverklaring
Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé) →

1e kommentaar op “Resensie: “I wish I’d said … Vol. 6”. Johann de Lange & Agnes Mawela (Reds.)”

  1. Gerard Scharn says:
    18 January 2024 at 01:32

    Een interessante en inzichtgevende beschouwing.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Jacques Boshoff. Ontoereikend
  • Sharon Goliath. Here Hoe Groot Is U
  • Ruan Fourie. kindness is modern magic
  • Cobus Kruger. Deepfakes

Nuutste bydraes

  • Daniel Hugo. Rust-mijn-ziel: Digters gedenk Aucamp
  • Jacques Boshoff. Die hond in Desember
  • Elisma van Zyl. My Magnificat
  • Johann Lodewyk Marais. Windhoek se “onvolmaakte” kunswerk
  • Resensie: “waar daar eens ’n see was” (Jennifer Pape)

Nuutste kommentaar

  1. Bernard Odendaal on Rus in vrede Tony Ullyatt10 December 2025

    Voorwaar droewe nuus. As letterkundedosent, digter en poësievertaler ‘n uitmunter gewees.

  2. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  3. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  4. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  5. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d