Resensie: om my kastele in Spanje te sloop deur jaco barnard-naudé. Human & Rousseau, 2024.
Resensent: Marlies Taljard
Jaco Barnard-Naudé is ’n professor in die Regsfakulteit aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is ook mede-direkteur van die Centre for Rhetoric Studies in die Departement Privaatreg aan dié universiteit. Barnard-Naudé is plaaslik en internasionaal bekend as akademikus en publiseer onder andere in die veld van regspraak en estetika, Freudiaanse en Lacaniaanse psigoanalise en seksuele minderheidsgroepe. [O]m my kastele in Spanje te sloop is sy digterlike debuut.
Die bundel open met twee motto’s uit die werk van John Galsworthy en Sigmund Freud en met ’n motto-gedig “La poète (1911) – Picasso” en is verder tematies verdeel in ses afdelings. My indruk is dat dié verdeling met oorleg gedoen is, dat die seleksie van gedigte sinvol is en dat ’n goeie balans gehandhaaf word wat betref die aanbod per afdeling – ongeveer dieselfde aantal gedigte in elke afdeling. Die sterk onderlinge verband tussen gedigte per afdeling en die duidelike verbandlegging tussen afdelings wat op mekaar volg, verleen stabiliteit aan die geheel wat op hierdie resensent die indruk van ’n sterk deurgekomponeerde teks gemaak het.
Op die agterplat lees ons dat die belangrikste temas (onder andere) reis met geliefdes, queer identiteit, (Spaanse) skilderkuns en die traumatiese verhouding met die vader en moeder is. By die lees van die bundel het ek onder die indruk gekom hoe sterk byna elke gedig met herinnering en die verlede verbonde is.
I
Die ontstaan van die uitdrukking “kastele in Spanje” kan teruggevoer word na ʼn 13de eeuse Franse teks deur Guillaume de Lorris, Roman de la Rose (ca. 1235) (sien https://www.jstor.org/stable/537929 ). Die “kasteel in Spanje” is in dié gedig ʼn metafoor vir ʼn romantiese plek waar die digter alleen kan wees met sy beminde, vermoedelik na aanleiding van ʼn teks van Ovidius. Verwysing na ʼn kasteel in Spanje kom eweneens voor in ʼn 13de eeuse chanson de geste, naamlik Aymeri de Narbonne. Hier kom Charlemagne tuis na die slag van Roncesvalles. Wanneer hulle Narbonne bereik, bied hy die stad en sy kasteel aan enige ridder wat dit kan verower. Dan antwoord Richard van Normandië:
“Never in Spain I should have lordship
Nor of Narbonne I should have seigneury”
(https://wordhistories.net/2017/07/18/castles-in-spain-origin/ ).
Hier is die kasteel in Spanje iets wat onbereikbaar en onoorwinbaar is – vergelyk die slot van die bundel soos hieronder aangehaal.
Die uitdrukking “kastele in Spanje” speel dus in op sowel romantiese as onmoontlike drome. Die titel, “om my kastele in Spanje te sloop” kan “vertaal” word as “om (doelbewus) my lugkastele af te breek”. Die uitdrukking kom implisiet en eksplisiet in verskeie gedigte in die bundel voor – soos “om my wolkkastele te sloop” (“Jacob worstel met die engele”, p. 74). Onder andere is dit ook die slotwoord van die bundel en is dit deel van die “gevolgtrekking” van ’n uitgebreide “argument” wat in die voorafgaande teks gevoer is:
drome is wense en seuns brand alewig,
die beteuterde slaap van hul vaders, vergeefs,
om my kastele in Spanje te sloop kos veel meer
as wat die Groot Wiggelaar my ooit kon leer.
(“Freud-museum, Londen”, p. 83)
Sloping is ʼn proses en dit vind geleidelik gestalte in die bundel, byvoorbeeld deur direkte en indirekte verwysings na Freud en psigoanalitiese prosesse waarby die digter of sprekende “ek” intens betrokke is. Die Freud-aanhaling in die motto (die begin van die teks) lui: “I have to demolish all my castles in Spain” en die Groot Wiggelaar in die aangehaalde gedig hierbo is natuurlik Sigmund Freud. Ons kan dan ook van ’n sikliese teks hier praat.
In Freud se oeuvre staan die geval van die sogenaamde Wolf-Man uit. Dit is interessant dat, in Muriel Gardiner (Red.) se boek “The Wolf-Man and Sigmund Freud” (1989) (sien by https://www.sas.upenn.edu/~cavitch/pdf-library/Gardiner_Wolf_Man_and_Sigmund_Freud.pdf die eerste afdeling gewy word aan outobiografiese herinneringe van die Wolf-Man. Die hoofstuk vir 1908 (pp. 48-73) is getiteld “Castles in Spain”. Muriel Gardiner skryf in die Inleiding dat dit belangwekkend is dat die boek ʼn outobiografie van ʼn pasiënt bevat, sowel as psigoanalitiese verslae van twee psigoanaliste, waarvan een Sigmund Freud was. Sy skryf verder: “The Wolf-Man stands out among his fellow figures by virtue of the fact that he is the only one able and willing to cooperate actively in the reconstruction and follow-up of his own case”.
Wat die Wolf-Man binne die Psigoanalise belangrik maak, is nie slegs dat hy aktief by die psigoanalitiese proses betrokke is nie, maar veral sy herhaalde drome van wolwe wat in ʼn boom sit en ʼn gevoel van vrees by hom laat ontstaan. Freud interpreteer die droom as kastrasievrees: die vrees dat die wolwe hom sal opeet en verskeur is simbolies vir die pasiënt se vrees vir sy vader en dat dié kom sal kastreer.
Wat interpretasie van die bundel as geheel betref, is die bostaande inligting belangrik, aangesien een van die belangrikste bundeltemas juis ʼn psigoanalitiese verkenning van die digter se verlede, sy verhoudinge, onder andere met sy brutale vader, en sy (queer) identiteit is. In die gedig “jeugfoto” (p. 14) aan die begin van die bundel soek die digter na konkrete bewyse dat hy bestaan en identiteit het. Die verlede word hier konkreet gemaak aan die hand van ʼn foto waaruit bepaalde afleidings gemaak kan word, soos dat die seuns musiekmakers was, maar blykbaar ook dat hulle “moffies” is:
jeugfoto
ʼn verbleikte foto van ons wys ek en jy
is tienermusikante – ek met ʼn tjello,
jy die dwarsfluit – Jik-wit hemde, moue wyd.
ons speel hysbakmusiek op ʼn skoolsaalverhoog –
die dandy duo van ʼn plattelandse myndorp
(in die skaakbordvierkant “moffies”, kant en klaar).
die aand van daardie foto onthou ek nie,
maar ek merk dat ek glimlag vir jou “Memory”
op die maat van my basso continuo.
soms is ʼn oomblik ʼn ganse bestaan,
uitgevoer, toegejuig, die gehoor huiswaarts.
jou fluit is in stukke vandag en ek aarsel
met my tjello voor die foto op my kas –
ʼn bewys dat ek en jy eens musiekmakers was.
Reeds hier kom die verhouding: feit (realiteit) – afleiding (abstraksie) uit die verf, ʼn verhouding wat in die Retorika belangrik is en waarmee Barnard-Naudé as akademikus intiem vertroud is.
Die eerste gedig in die bundel wat buite die afdelingstruktuur verskyn en wat ek aanvaar as die motto-gedig, moet eweneens in berekening gebring word by interpretasie van die bundel as geheel. Dit het ʼn skildery van Picasso uit die hoogtepunt van analitiese kubisme as tema waarin die menslike vorm gedissekteerd en gefragmenteerd uitgebeeld word en waarin verskillende invalshoeke oorvleuel – “Le Poete”, olie op linne. Die suggestie is dat die waarheid of die realiteit nie eenduidig agterhaal kan word nie en selfs dat die werklikheid (ons bestaan) verskillende dimensies het waarvan dagdrome deel sou kon wees, en dat dit uiteenlopend geïnterpreteer kan word:
dubbelmond diagonaal
vergete pyp spiraal
vermaarde pyp rook
die Sondagmiddaglig
dié opiumdroom is werklik
dis konkreet en abstrak
dit steel by Braque die oker
dit rig die waansin swart
(…)
(p. 9)
Dit behoort na aanleiding van die bostaande uiteensetting duidelik te wees dat die voorwerk of metateks van die bundel nie buite rekening gelaat kan word by interpretasie van die teks nie.
II
Die eerste afdeling van die bundel fokus veral op jeugherinneringe en -verhoudings. Die eerste gedig in dié afdeling, “unbewusst” (p. 13) lui die tema van psigoanalise in (Freud het die eerste keer die term “Onbewuste” gebruik!):
unbewusst
vermorsel pappa met ʼn klip
verfomfaai mamma, let rip
pasiënte is wrede sfinkse
bure altoos soos vampiere
die driebeendier desmoers
raai-raai en immer van koers
kyf die eerste psigoanalis,
dokter Sigaar, aldus
Die verwysings na Freud en sy teorie oor die (brutale) verhouding van die seun met sy vader lê hier voor die hand en is rigtingaanduidend ten opsigte van die Oedipale tema wat as cantus firmus in die bundel voorkom. Hierdie gedig verwys waarskynlik na die seun se vrees dat sy vader hom sal “verskeur” of kastreer (in terme van die droom van die Wolf-Man) en die seun se voorsorg deur die vader eerste te “vermorsel … met ʼn klip”. Die gedigte “jeugfoto” (p. 14), “huisbesoek” (p. 15), “fokus met Freek” (p. 16), “o, my geliefde Spanjaard” (p. 17) en “soos ek dit onthou” (p. 18) wat die res van die afdeling uitmaak, roep die dood of verlies van vriende op en het ʼn elegiese ondertoon. Die eerste vyf gedigte in die eerste afdeling het strukturele ooreenkomste met mekaar, byvoorbeeld dat dit een of twee sterk slotreëls bevat wat in sommige gedigte gelees kan word as afleiding of gevolg voortvloeiend uit ʼn voorafgaande uiteensetting, soos in “huisbesoek” waarin die dood van ʼn vriend wat kort tevore nog die digter se asters gesnoei het, die tema is:
ʼn aster is allesbehalwe ʼn ster
en ek loop weer in my slaap.
III
In die tweede bundelafdeling word die soeke na identiteit voortgesit en verbind met plekke en ruimtes. Die gedig “Seroquel 50 mg” (p. 22) roep weer eens die ambivalente en onstandvastige aard van identiteit op. Seroquel is ʼn antipsigotiese middel wat soms vir depressie, skisofrenie en bipolêre versteuring voorgeskryf word. In die openingsreël staan die spreker “bakhand gewapen met 30 milligram mirtazapien” (ʼn depressie-middel). Wanneer hy wakker word, staan hy “in die oog van ʼn naald” en voel hy:
ek is nie wat ek eens was en nie meer is nie
en ek is miskien, net miskien, wat ek sou gewees het
as ek, godweet, net vandag kan bly staan
“Odusseus ontgeld dit” (p. 24) het elemente van die (outo)biografie. Weer eens is ruimte ʼn belangrike (ironiese) faktor in die analitiese proses – ʼn proses wat Jung individuasie sou noem. Ek haal die tweede en derde strofes aan:
die bedroefde skipbreukelinge verdrink en beland
in Robinson Crusoe maar geen goeie Vrydag
staan op geen Robbeneiland
vir hom reusagtig en wag nie
die seegod skiet net by die stormkaap
sand in die bloedbelope blou fletsoë
van Odusseus die probeerder
en so verloor hy wie hy is, wat hy glo
Identifikasie met die soekende “Odusseus die probeerder” resoneer met die psigoanalitiese proses van identiteitsoeke wat die bundel onderlê, ʼn proses wat deur konstante probeerslae, nederlae en verdere probeerslae gekenmerk word en nooit eindig terwyl die individu leef nie.
Die gedig “Spanje, Auden” (p. 27) verwys na Auden se gedig “Spain” (1937) wat hy geskryf het na sy verblyf in Spanje tydens die Burgeroorlog. Auden wou eintlik ʼn ambulansman word, maar is aangestel as propagandaskrywer. Die gedig is een van ʼn handvol ars poëtikale gedigte en eindig só:
die meester het Spanje opgeskryf, 1937 gedokumenteer
maar hy’t geweet om poësie te skryf ís nie ambulansdryf
want dis gister, vandag en môre in een
dit snel te hulp, maar demp nie die bloed nie
dit mop op, maar laai nie in nie, nee
dis helende wond en oop graf
dis die skitter van dooie sterre en absoluut onaf.
Weer eens opmerklik is die veelvlakkigheid van die individuele belewenis, van taal, betekenis en van interpretasie.
IV
Afdeling III bestaan uit 9 gedigte, waarvan 8 ekfrastiese gedigte is waarin die digter met ander digters en visuele kunstenaars in gesprek tree terwyl hy kommenaar lewer oor intieme verhoudings tussen ʼn “ek” en ʼn “jy”. Dit is ʼn fassinerende afdeling wat nie in ʼn kort bespreking tot sy reg kan kom nie.
“& Union” (p. 32) met die subtitel “na Ted Hughes” is ʼn soort “Die Sterre Voorspel” vir ʼn paartjie. Dit is bekend dat Ted Hughes astrologie as ʼn ernstige tydverdryf beoefen het en hierdie gedig verwys onder andere na dié aktiwiteit:
maar daardie oggend
het Ted Hughes my sterre voorspel,
my Venus en jou Saturnus kosmies gespoor (…)
Venus staan tipies vir liefde, skoonheid en kreatiwiteit, terwyl Saturnus dissipline, verantwoordelikheid en klem op aardse besittings verteenwoordig. As dié twee planete belyn is, verteenwoordig die konstellasie ʼn balans tussen die materiële en spirituele aspekte in ʼn indiwidu of ʼn paartjie. Soeke na balans en die versoening van uiteenlopende pole (veral die konkrete en die abstrakte), hetsy in ʼn verhouding of in die individu, staan hier weereens voorop.
Die volgende gedig, “Sylvia Plath praat terug”, het verskeie intertekste, onder andere Ted Hughes se gedig oor Sylvia Plath “You hated Spain” in sy bundel Birthday letters en The Unabridged Journals of Sylvia Plath waarin sy die volgende opmerking oor mans maak wat ʼn ironiese variasie is op die Oedipus-tema:
I hated men because they didn’t stay around and love me like a father: I could prick holes in them & show they were no father-material. I made them propose and then showed them they hadn’t a chance. I hated men because they didn’t have to suffer like a woman did. They could die or go to Spain. They could have fun while a woman had birth pangs. They could gamble while a woman skimped on the butter on the bread. Men, nasty lousy men.(Sien by https://www.goodreads.com/quotes/139059-i-hated-men-because-they-didn-t-stay-around-and-love )
Die digter transponeer hier Hughes se derdepersoon verteller na die eerstepersoon van Plath.
In “Las Meninas – Velasques” (p. 35) (sien o.a. by https://en.wikipedia.org/wiki/Las_Meninas) kom onder andere die opposisiepare waarheid – skyn; kunstenaar – objek; abstrak – konkreet weer onder die loep:
[die skilder] peins,
palet en kwas halfhartig:
móét hy ons hier uitbeeld?
let op die spieël, fluister jy:
die vae beeld van Felipe IV
en die koningin (wie was sy?).
jy praat oor Foucault, die sinspel
van Diego V – ʼn toeskouer en onderdaan
of voer dalk juis die mester mee.
ondanks die abstrakte spel
bly die beeld konkreet:
die infanta maak gereed
om ongehoord te tiekiedraai
(…)
Één verklaring vir die verwysing na Foucault is dat dit ʼn ars poëtikale greep is: skryf skep ʼn ruimte waarin die skrywende subjek gedekonstrueer word tot ʼn funksie van die skryfproses en die idee dat die skrywer die ontstaan van iets oorspronkliks is, verdwyn sodoende. Die gedig “praat” ook met ʼn gedig oor Foucault in die volgende afdeling waarin die klem val op die filosoof se queer-identiteit en sy dood aan HIV/VIGS – hier sien ons duidelik die onderlinge verband tussen gedigte en hoe temas oor afdelingsgrense by mekaar aansluit, mekaar belig, ondermyn en verdig. Die “familieverband” tussen hierdie twee gedigte speel ook op subtiele wyse in op die vraag: Is iemand se queer-identiteit ʼn belemmering vir aanvaarding in kringe soos die Akademie?
V
In Afdeling IV kom die persoonlike lewens van beroemde persone en revolusionêre figure onder die soeklig: Hannah Arendt, Simone de Beauvoir, Rosa Luxemburg, Freud, Friedrich Engels, Michel Foucault en Plato maak hulle verskyning. Die enigste fout wat ek in die digbundel kon raaklees, kom op p. 45 voor in die Hannah Arendt-gedig waarin Hannah sekerlik haar brief aan Karl Jaspers sou begin het met “lieber Karl” en nie “liebe Karl” (wat ʼn vroulike s.nw impliseer) nie. Nietemin, ʼn klein foutjie!
“Freud aan Fließ, 23 Maart 1900” (p. 51) is ʼn vrye vertaling van ʼn brief in Duits wat Freud aan sy vriend Wilhelm Fließ geskryf het. Daar is één veelseggende afwyking. Die oorspronklike passasie lui:
Ich bin innerlich tief verarmt, mußte meine
sämtlichen Luftschlösser demolieren, und gerade eben faßte ich
etwas Mut, sie wieder aufzubauen.
(Sien by https://jamanetwork.com/journals/jama/article-abstract/307998 )
Direk vertaal: “Ek is innerlik diep verarm, ek moes al my lugkastele sloop en ek het nou pas eers die moed bymekaargeskraap om hulle weer op te bou.”
In Barnard-Naude se gedig word “Spanje” egter ingevoeg om met die bundeltitel te resoneer. My vraag is: wat was die doel met die invoeging? My insig is dat die “Spanje”-tema en die uitdrukking “kastele in Spanje” reeds genoegsaam in die bundel voorkom om die titel te regverdig.
“(…)
ek voel ontsaglik armoedig, ek moes ál my kastele
in Spanje sloop en het nou flussies eers weer die moed
bymekaargeskraap om hulle van voor af op te bou.”
Die gedig “Michel Foucault 1980” (p. 53) fokus, soos ek hierbo aangevoer het, op die bekende filosoof se dood aan komplikasies van HIV/VIGS – ʼn aansluiting by die queer-tema wat veral in die volgende afdelings van die bundel sterk figureer én ʼn terugverwysing na die vorige afdeling.
VI
ʼn Gedig in Afdeling V wat inspeel op die slopingsproses is “Jaqueline du Pré se veelvuldige sklerose” (p. 58) waarin dié proses ʼn minder teoretiese en meer konkrete gesig kry. Ek haal die hele gedig aan:
dit begin asof niks daarvan waar is:
ʼn enkele noot in blitssnel passasie
misgevat op die nek
van die 1712 Davidov Stradivarius
dit versprei asof die snare brand:
die reikwydte in Brahms is te ver
dubbelstoppe in Haydn
jou strykstok gestrand
en voor jou klankbrein die weiering
van senuweepunte omhein
verloor jou vingers
ook Elgar se pleitende lyn
die sloping is ʼn amputasie
van wat jy geweet het was
jou suiwer tweede stem
jou mooiste ledemaat
Die res van die afdeling bevat veral liefdesgedigte waarvan sommiges eksplisiet na queer-verhoudings verwys, maar ʼn gedig soos “J’ai perdu mon Euridice – Gluck” (p. 65) is bloot ʼn mooi liefdesgedig wat na geen spesifieke seksuele oriëntasie verwys nie.
VII
Die laaste afdeling (Afdeling VI) is die afdeling waarop tot dusver sterk gefokus is en wat ook in die advertensie van die teks voorrang geniet. Hierdie gedigte het almal ʼn psigoanalitiese inslag en fokus sterk op die sloping of ontluistering van gevestigde norme, waardes, verwagtinge en drome binne ʼn hoofsaaklik konserwatiewe, heteroseksuele samelewing. ʼn Mens sou gemaklik kon aandui dat die sprekende “ek” intieme kennis het van Freudiaanse psigoanalise en aktief deelneem aan die analitiese proses. Die feit dat baie gedigte handel oor gewelddadige vaders en die (gay) seun se skeefgetrekte verhouding met die Vader (en in hierdie geval ook die moeder), asook die klem op geweld in die huislike situasie, beteken dat hy bewus is van wat die terapeutiese proses behels, waarna die terapeut tipies in ʼn sessie sou oplet en die tipe inligting wat vir die terapeut van belang is om ʼn diagnose te maak. Dit verleen ʼn eiesoortige karakter aan hierdie bundel.
In die eerste gedig binne die afdeling, “U eie keuse, Radio Suid-Afrika, 1989” (p. 69) word seks, opera en huismoles op ironiese wyse verweef:
(…)
Joan Sutherland
sing Gilda en die desperate bel canto wiggel
die moord, Pa donner al weer vir Ma in die kamer
die Saterdagaand-ritueel van ʼn vuis
die aanbieder, ek onthou nie wie
speel Dame Joan in die waansintoneel van Lucia
en edel Amina in La sonnambula
Pa neuk al weer met Ma in die kamer
die Saterdagaand-ritueel van naai
en U eie keuse duur maar ʼn uur
die nag oneindig en die trane kom
omdat dit wat voorspel word
kóm, kom soos die reëlmaat van La Stupenda
Ons weet dat Freud in die geval van die Wolf-Man kastrasievrees toeskryf aan die trauma wat die jong seun beleef wanneer hy sien hoe sy ouers intiem verkeer. Op subtiele wyse speel hierdie gedig dus in op die psigoanalitiese proses en suggereer dit die oorsaak van die seun se vrees vir sy vader wat in die res van die afdeling in verskeie gedigte aan bod kom.
Sprokies verleen, volgens Jung, toegang tot die mens se Kollektiewe Onbewuste. Sprokies is nié kinderstories nie. In hulle oorspronklike vorm is hulle gewelddadig en seksueel eksplisiet. Twee gedigte in die slotafdeling van die bundel fokus sterk op sprokies. In “oordrag” (p. 71) is die gruwelike aspek van sprokies die tema:
Moeder, jy het ons niks gespaar nie,
nie met Gulliver’s Travels, die gebroeders Grimm,
Andersen of ander wolhaarstories nie (…)
(…)
nie dat iemand ooit lank en gelukkig in jou stories
kon saamwoon nie (…)
Ook vele van die Wolf-Man se neuroses skryf Freud toe aan sy vrees vir wolwe en ander diere wat in Grimm se sprokies voorkom. Sprokies beeld altyd liminale prosesse uit en die verwysing na sprokies in hierdie gedig en “Jakob worstel met die engele” (p. 73) waarin na Doringrosie verwys word, dui dus onder andere op ʼn proses van transformasie, sloping en metamorfose.
Die Oedipale moord op die Vader vind gestalte in “sekwense aan my pa” waarin die digter inderdaad karaktermoord op sy pa pleeg. Die slot suggereer egter “vordering” met die slopingsproses en dekonstrueer die gevestigde Freudiaanse interpretasie van die Oedipus-kompleks. Die tema van die gedig is die onbegrip van ʼn konserwatiewe, patriargale, rassistiese, heteroseksueel-verstokte vader met sy “Bosoorlog-hersenskim” vir ʼn gay seun wat konkreet én besinnend-teoreties binne die Freudiaanse tradisie uitgebeeld word. Dat die digter aktief met die analitiese proses besig is, word gestaaf deur reëls soos “die stryd met die simboliese en reële Pa” en “veertig jaar later sit ek met ʼn opgeswelde voet / en ʼn drankprobleem in ʼn spreekkamer / Freudiaans en kla dat ʼn pyp partymaal nie net ʼn pyp is nie / en dat my onbewuste oor iets Oedipaals protesteer”. (Die pyp verwys terug na die motto-gedig en dit is ook bekend dat Freud ʼn pyproker was.)
Dat die terapeutiese proses, die sloping en rekonstruksie van ʼn bedorwe identiteit, vrugte afwerp, word deur die slot van die gedig gesuggereer:
Pa
ek skat elke huis het sy kruis en niemand is onfeilbaar nie
maar die Here weet, jy met jou bokserige Volkswagen Jetta
jy met jou posttraumatiese stres, jy met jou polisiekoffie
jy was nie niemand nie
jy was my pa
Die volgende gedig brei uit op die idee van vordering:
ʼn nuwe begin beur deur veranderde slotte
onstuitbaar, onredbaar, ondanks
en dus op die keper beskou
verander selfs minder as niks
wanneer alles opeens handomkeer
en asof weens noodsaak metamorfoseer
(p. 81)
Maar:
Ocean Vuong sê hy het baie mites gelees en sy eies opgemaak
maar ek dink nie hy hou rekening met Friedrich Nietsche nie
want alles wat was sal weer wees, oor en oor, die Aarde is rond
(…)
(p. 78)
Die liminale proses – metamorfose – is nooit afgehandel nie. Die slotgedig, “Freud-museum, Londen” (p. 83) stel dat dit selfs dikwels in trurat gaan: “van Überich na Ich tot Id”. Hierdie uitspraak resoneer met die emosionele stryd van die Wolf-Man wat uit sy grootheidswaan (dat hy die opvolger van Charlemagne is) moes ontsnap en tot versoening moes kom met sy onvolmaakte menslike natuur, sy mislukkings, verwerping én sy neuroses wat hom tot aan die einde van sy lewe ʼn normale bestaan ontsê het.
VIII
Die bundel as geheel gee die indruk van ʼn goed afgewerkte en weldeurdagte teks waarin ʼn minimale narratologiese lyn ʼn samebindende faktor is. Op intertekstuele en intratekstuele wyse integreer die digter poëtiese tekste uit uiteenlopende kulture en tale – dikwels het die leser spesialiskennis nodig om alles raak te lees. Die bundel sluit aan by ander Afrikaanse queer-poësie soos dié van Johann de Lange, Koos Prinsloo, Fourie Botha, Loftus Marais en Franco Colin en word gekenmerk deur die betrokkenheid en aktiewe meewerking van die sprekende “ek” by die psigoanalitiese proses ten einde ʼn nuwe identiteit uit die as van die verlede te probeer opbou. Die gedigte is struktureel bevredigend en die digter hou hoofsaaklik by klassieke vorme en/of streng gestruktureerde vrye vorme. Enkelgedigte en die bundel as eenheidsteks word gekenmerk deur ʼn sterk retoriese onderbou, waarmee ek nié wil sê dat “telling” belangriker as “showing” is nie, maar dat die onderliggende “plan” logies gestruktureer is. Myns insiens is die queer-aspek van die bundel belangrik, maar ander aspekte behoort nie daarom buite rekening gelaat te word nie. Ernstige poësielesers sal veel plesier uit dié bundel put.
Las Meninas: Spanning geslaagd in die slot daargestel.
Mens voel daardie enkeltjies lig onder die barok swier!