I
Shakespeare se beroemde Romeo and Juliet is gebaseer op The Tragicall Historye of Romeus and Juliet, ‘n lang verhalende gedig uit 1562, geskryf deur Arthur Brooke. Sy gedig leen weer by die Italiaanse skrywer, ene Matteo Bandello.
Die begin van H.J. Pieterse se Reinaard die Vos lui soos volg:
Willem, wat baie boeke geskrywe het,
waaroor hy dikwels wakker gebly het,
was so erg daaroor gepla
dat die verhaal van Reinaard
in Diets onvoltooid gebly het
(en wat Willem nie volledig beskrywe het nie),
dat hy die lewensverhaal van Reinaard gesoek het
en hy dit toe na die Franse boeke
in Diets soos volg onderneem het –
mag God ons sy hulp verleen!
Nou het ek my besin
dat ek hier aan die begin
elke onbeskaafde sowel as dwase dorpenaar
versoek: Indien hulle dalk kom waar
hulle hierdie versreëls hoor van ‘n digwerk
wat hulle beskou as totaal onnuttig,
dat hulle dit maar onveranderd laat bly.
Dit laat hulle alte veel soos die rawe lyk
wat altyd net so waanwys is:
Hulle vervals talle versreëls
waarvan hulle niks meer weet
nie as wat ék weet hoe die mense heet
wat nou in Babilonië lewe (55, 56).
*
Op versoek van ‘n sekere Dame is hierdie teks dan geskrywe.
‘n Gekskeerdery met die tradisie van die Hoofse teks?
Optelgoed is vatgoed?
Bepaald ‘n spottery met die idee dat ‘n teks ooit volledig “oorspronklik” kan wees.
Deesdae gee skrywers endnote en bibliografiese notas om te verduidelik waar hulle aan ‘n idee of insig gekom het.
Vandag word die erkenning aan bronne dikwels ‘n nuwe studie wat die leser na ander tekste of boeke neem. In die modernistiese tyd was die verwysings “verhuld” en die leser se werk om iets uit te snuffel.
Wat het Eliot o.a. bedoel met:
Bin gar keine Russin, stamm’ aus Litauen, echt deutsch.
And when we were children, staying at the archduke’s,
https://www.poetryfoundation.org/poems/47311/the-waste-land Besoek 20 Januarie 2024
Ek is geen Rus nie, kom uit Litaue, eg Duits …
II
Jare gelede het ‘n Engelse kollega by UCT gemeen dat Uys Krige se Twaalfde nag vir hom beter klink as die oorspronklike teks. Oordrywing bepaald, maar goeie vertalings is altyd belangrik. Tale word verryk deur vertalings, ómdigtings, transportasies en die rasegte vertaler vergelyk altyd sy eie teks met ander vertalings.
Robert Schall se vertaling van die klassieke drama Faust is ‘n besondere teks. In 1966 het Eitemal hierdie komplekse teks vertaal. En in 2001 het A Posthuma se vertaling verskyn by Polak & Van Gennep in Amsterdam. Schall gee op bladsy 242 vir sy leser ‘n tabel met sogenaamde “steelgoed” wat vir die student in vertaalstudies van waarde sal wees. Net so gee hy aantekeninge vir die leser om versweë of ingebedde verwysings te snap, soos o.a. na Friedrich Nicolai (1733 – 1811) wat ‘n satire geskryf het op Goethe se Die Leiden des jungen Werthers en hier heerlik opgestuur word.
Die oorspronklike titel van Goethe in 1808 was Faust: Eine Tragödie.
III
Om hierdie drama te vertaal stel sy besondere eise, veral wat betref die rym. Schall verwys na die verskillende versvorme soos o.a. die madrigaalvers en die terza rima.
Die vertaler gee vir ons verwysings na sy bronne. En besonder leersaam vir my was die aantekeninge met verduidelikings soos adepter wat ‘n volgeling is in die alchemie. Die inkubus (kobold) wat ‘n verkragter is van slapende vroue. Selfs verwysings na Hooglied.
Die dies irae (dag van toorn) en ‘n verwysing na die Stabat mater dolorosa, ‘n Middeleeuse gedig.
Medusa en Perseus word eweneens verduidelik soos Xenien of gevleuldes. Of ‘n stafie breek: as teken dat die doodsvonnis uitgespreek is, breek die regter ‘n stafie in twee.
Om iets van die ou tyd op te vang, gebruik die vertaler woorde soos toentertye of bombastiese gesketter; koeterwaals en droesem. Of subiet.
Die vertaling het heerlike momente soos:
Ek voel met al die goed so dwaas,
asof in my skedel ‘n meulwiel raas.
(89)
Of:
Wyn groei aan die wingerdstok;
horings aan die ram en bok.
(108)
IV
Schall het die Duitse digter Jan Wagner vertaal Wat ek van klippe weet in 2021. Dit was op die kortlyste van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk en vir die UJ Prize for Literary Translation.
Met hierdie vertaling sal hy waarskynlik weer raakgesien word. Hy bedank o.a. vir Marlies Taljard, Hildegard Klein, Francois Smith en Henning Pieterse. Bernard Odendaal, ‘n kundige digter en vertaler, het die laaste weergawe gelees.
Uiters belangrike raadgewers as lesers en kenners van Duits.
Lees dit gerus: Mefistofeles en Faust. Die hoofkarakter se begeerte na onbeperkte kennis, mag en aardse genot wat sy siel aan die duiwel verpand, bly ‘n belangrike bakenteks.
V
Vertalings, herdigtings, berymings, vervalsings, omdigtings, transportasies, palinodes, parodieë en pastiches bewys:
Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te haal. 1. In hierdie verband is Louise Viljoen se artikel oor digterlike gesprekke met N.P. van Wyk Louw relevant.
En die oplewing nou met vertalings van klassieke tekste is uiters tersaaklik.
‘n Reaksie op ‘n gevoel dat ons moet terugkyk na ons wortels in ‘n tyd waar die oppervlakkige kitsboeke dalk te veel aandag geniet?
Umberto Eco se beroemde uitspraak: wantrou die skrywer wat meen hy of sy is “oorspronklik”.
Ons sal vervolgens kyk na hierdie semiotikus se uitsprake oor lees en Die naam van die roos (1980) betrek.
Dit speel af in 1327 in Italië in ‘n abdy. Simbole en manuskripte met kodes. 7 moorde.
Wat is die rol van William of Baskerville?
Is hierdie roman ‘n korrekte interpretasie van die Middeleeue? Boonop in 1986 verfilm deur Jean-Jacques Annaud, met Sean Connery in die hoofrol.
Wat ons weer neem na The role of the reader.
Om iets te verstaan van die ”nome della rosa”.
Joan Hambidge
22 Januarie 2024
Bronne:
Eco, Umberto. 1980. The name of the rose. Londen: Vintage.
– The role of the reader. Explorations in the semiotics of texts. Londen: Hutchinson
Pieterse, H.J. 2023. Reinaard die vos. Pretoria: Protea.
Schall, Robert. 2023. Faust. Gansbaai: Naledi.
Viljoen, Louise. https://versindaba.co.za/2011/08/18/louise-viljoen-digterlike-gesprekke-met-np-van-wyk-louw/
Besoek 20 Januarie 2024
Endnoot:
- Ars poetica
Vir Wytze
Uit die gevormde literatuur
is nooit weer poësie te maak nie,
uit die ongevormde wél:
heuning uit die blomsap
– om te illustreer
en uit die heuning self, glo nog;
maar nie meer uit die seshoek-sel.
Op die temas van die dwase,
en van die nie-dwaas heiliges
is dit moontlik om variasies
en besuinigings, selfs palinodes
te versin, maar dis onmoontlik
om te speel-selfs met die spél:
of groot te doen of te misdoen
in die skoene van die grotes.
Eintlik was ‘n fluit nodig,
wat, terwyl jy blaas: trompet word;
en ná trompet: ‘n stad;
én, waar die stád verwilder:
dat dit bloeiende maankraters
word wat uitblom in
bloed en vuurpyl
en afgly na die suiwer syfer
en die beginnende uitsypeling
en die begin.
Maar: omdat geen fluit voorhande is nie,
moet ons in die weefsels van
(o) van ons dink-histologie
soek: om lug en kraakbeen,
brein-sel, vleis en slymvlies
sonder slymerigheid van ons historiesen
geweefde denke te bespie;
sódat en ópdat ons in woorde, wat
maar klank en teken is,
in ná-geskape skeppinge
die skepping van die god
déúr-dink, déúr-praat.
