Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
22 January 2024

Joan Hambidge. Myne of dyne?

 

I

Shakespeare se beroemde Romeo and Juliet is gebaseer op The Tragicall Historye of Romeus and Juliet, ‘n lang verhalende gedig uit 1562, geskryf deur Arthur Brooke. Sy gedig leen weer by die Italiaanse skrywer, ene Matteo Bandello.

Die begin van H.J. Pieterse se Reinaard die Vos lui soos volg:

 

Willem, wat baie boeke geskrywe het,

waaroor hy dikwels wakker gebly het,

was so erg daaroor gepla

dat die verhaal van Reinaard

in Diets onvoltooid gebly het

(en wat Willem nie volledig beskrywe het nie),

dat hy die lewensverhaal van Reinaard gesoek het

en hy dit toe na die Franse boeke

in Diets soos volg onderneem het –

mag God ons sy hulp verleen!

Nou het ek my besin

dat ek hier aan die begin

elke onbeskaafde sowel as dwase dorpenaar

versoek: Indien hulle dalk kom waar

hulle hierdie versreëls hoor van ‘n digwerk

wat hulle beskou as totaal onnuttig,

dat hulle dit maar onveranderd laat bly.

Dit laat hulle alte veel soos die rawe lyk

wat altyd net so waanwys is:

Hulle vervals talle versreëls

waarvan hulle niks meer weet

nie as wat ék weet hoe die mense heet

wat nou in Babilonië lewe (55, 56).

*

Op versoek van ‘n sekere Dame is hierdie teks dan geskrywe.

‘n Gekskeerdery met die tradisie van die Hoofse teks?

Optelgoed is vatgoed?

Bepaald ‘n spottery met die idee dat ‘n teks ooit volledig “oorspronklik” kan wees.

Deesdae gee skrywers endnote en bibliografiese notas om te verduidelik waar hulle aan ‘n idee of insig gekom het.

Vandag word die erkenning aan bronne dikwels ‘n nuwe studie wat die leser na ander tekste of boeke neem. In die modernistiese tyd was die verwysings “verhuld” en die leser se werk om iets uit te snuffel.

Wat het Eliot o.a. bedoel met:

 

 

Bin gar keine Russin, stamm’ aus Litauen, echt deutsch.

And when we were children, staying at the archduke’s,

 

https://www.poetryfoundation.org/poems/47311/the-waste-land  Besoek 20 Januarie 2024

Ek is geen Rus nie, kom uit Litaue, eg Duits …

 

II

Jare gelede het ‘n Engelse kollega by UCT gemeen dat Uys Krige se Twaalfde nag vir hom beter klink as die oorspronklike teks. Oordrywing bepaald, maar goeie vertalings is altyd belangrik. Tale word verryk deur vertalings, ómdigtings, transportasies en die rasegte vertaler vergelyk altyd sy eie teks met ander vertalings.

Robert Schall se vertaling van die klassieke drama Faust is ‘n besondere teks. In 1966 het Eitemal hierdie komplekse teks vertaal. En in 2001 het A Posthuma se vertaling verskyn by Polak & Van Gennep in Amsterdam. Schall gee op bladsy 242 vir sy leser ‘n tabel met sogenaamde “steelgoed” wat vir die student in vertaalstudies van waarde sal wees. Net so gee hy aantekeninge vir die leser om versweë of ingebedde verwysings te snap, soos o.a. na Friedrich Nicolai (1733 – 1811) wat ‘n satire geskryf het op Goethe se Die Leiden des jungen Werthers en hier heerlik opgestuur word.

Die oorspronklike titel van Goethe in 1808 was Faust: Eine Tragödie.

 

III

Om hierdie drama te vertaal stel sy besondere eise, veral wat betref die rym. Schall verwys na die verskillende versvorme soos o.a. die madrigaalvers en die terza rima.

Die vertaler gee vir ons verwysings na sy bronne. En besonder leersaam vir my was die aantekeninge met verduidelikings soos adepter wat ‘n volgeling is in die alchemie. Die inkubus (kobold) wat ‘n verkragter is van slapende vroue. Selfs verwysings na Hooglied.

Die dies irae (dag van toorn) en ‘n verwysing na die Stabat mater dolorosa, ‘n Middeleeuse gedig.

Medusa en Perseus word eweneens verduidelik soos Xenien of gevleuldes. Of ‘n stafie breek: as teken dat die doodsvonnis uitgespreek is, breek die regter ‘n stafie in twee.

Om iets van die ou tyd op te vang, gebruik die vertaler woorde soos toentertye of bombastiese gesketter; koeterwaals en droesem. Of subiet.

Die vertaling het heerlike momente soos:

 

Ek voel met al die goed so dwaas,

asof in my skedel ‘n meulwiel raas.

(89)

 

Of:

Wyn groei aan die wingerdstok;

horings aan die ram en bok.

(108)

 

IV

Schall het die Duitse digter Jan Wagner vertaal Wat ek van klippe weet in 2021. Dit was op die kortlyste van die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk en vir die UJ Prize for Literary Translation.

Met hierdie vertaling sal hy waarskynlik weer raakgesien word. Hy bedank o.a. vir Marlies Taljard, Hildegard Klein, Francois Smith en Henning Pieterse. Bernard Odendaal, ‘n kundige digter en vertaler, het die laaste weergawe gelees.

Uiters belangrike raadgewers as lesers en kenners van Duits.

Lees dit gerus: Mefistofeles en Faust. Die hoofkarakter se begeerte na onbeperkte kennis, mag en aardse genot wat sy siel aan die duiwel verpand, bly ‘n belangrike bakenteks.

V

Vertalings, herdigtings, berymings, vervalsings, omdigtings, transportasies, palinodes, parodieë en pastiches bewys:

Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te haal. 1. In hierdie verband is Louise Viljoen se artikel oor digterlike gesprekke met N.P. van Wyk Louw relevant.

En die oplewing nou met vertalings van klassieke tekste is uiters tersaaklik.

‘n Reaksie op ‘n gevoel dat ons moet terugkyk na ons wortels in ‘n tyd waar die oppervlakkige kitsboeke dalk te veel aandag geniet?

Umberto Eco se beroemde uitspraak: wantrou die skrywer wat meen hy of sy is “oorspronklik”.

Ons sal vervolgens kyk na hierdie semiotikus se uitsprake oor lees en Die naam van die roos (1980) betrek.

Dit speel af in 1327 in Italië in ‘n abdy. Simbole en manuskripte met kodes. 7 moorde.

Wat is die rol van William of Baskerville?

Is hierdie roman ‘n korrekte interpretasie van die Middeleeue? Boonop in 1986 verfilm deur Jean-Jacques Annaud, met Sean Connery in die hoofrol.

Wat ons weer neem na The role of the reader.

http://joanhambidge.blogspot.com/2013/04/louis-de-villiers-kaapstad-karma.html Besoek 21 Januarie 2024

Om iets te verstaan van die ”nome della rosa”.

 

Joan Hambidge

22 Januarie 2024

 

Bronne:

 

Eco, Umberto. 1980. The name of the rose. Londen: Vintage.

–  The role of the reader. Explorations in the semiotics of texts. Londen: Hutchinson

Pieterse, H.J. 2023. Reinaard die vos. Pretoria: Protea.

Schall, Robert. 2023. Faust. Gansbaai: Naledi.

Viljoen, Louise. https://versindaba.co.za/2011/08/18/louise-viljoen-digterlike-gesprekke-met-np-van-wyk-louw/

Besoek 20 Januarie 2024

 

Endnoot:

  1. Ars poetica

Vir Wytze

 

Uit die gevormde literatuur

is nooit weer poësie te maak nie,

uit die ongevormde wél:

heuning uit die blomsap

– om te illustreer

en uit die heuning self, glo nog;

maar nie meer uit die seshoek-sel.

Op die temas van die dwase,

en van die nie-dwaas heiliges

is dit moontlik om variasies

en besuinigings, selfs palinodes

te versin, maar dis onmoontlik

om te speel-selfs met die spél:

of groot te doen of te misdoen

in die skoene van die grotes.

Eintlik was ‘n fluit nodig,

wat, terwyl jy blaas: trompet word;

en ná trompet: ‘n stad;

én, waar die stád verwilder:

dat dit bloeiende maankraters

word wat uitblom in

bloed en vuurpyl

en afgly na die suiwer syfer

en die beginnende uitsypeling

en die begin.

Maar: omdat geen fluit voorhande is nie,

moet ons in die weefsels van

(o) van ons dink-histologie

soek: om lug en kraakbeen,

brein-sel, vleis en slymvlies

sonder slymerigheid van ons historiesen

geweefde denke te bespie;

sódat en ópdat ons in woorde, wat

maar klank en teken is,

in ná-geskape skeppinge

die skepping van die god

déúr-dink, déúr-praat.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Joan Hambidge. Timor mortis conturbat me
Joan Hambidge. Nomenklatuur →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard

Nuutste bydraes

  • Wenners van die kompetisie: “Die gees van die avontuur”
  • Stefanus S. Vivier. Reisiger
  • Uitnodiging na die ATKV-digskool 27 – 29 Maart 2026
  • Yves T’Sjoen. Postumiteiten voor Breyten
  • Uitnodiging: ATKV-digskool, 27 – 29 Maart

Nuutste kommentaar

  1. Hein Viljoen on Joan Hambidge. George Steiner en Gerrit Kouwenaar20 January 2026

    Joan Jy skryf: "By Kouwenaar: die maan en die perse word één". Die hele ryk Persiese wêreld - Babilon, spykerskrif,…

  2. Versindaba on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)16 January 2026

    Van die kant van die Redaksie: Baie dankie Bernard Odendaal en Robert Schall dat Versindaba hierdie skitterende vertalings kon plaas.…

  3. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Hierom dan dat George Steiner sy Poetry of thought aan hierdie manjifieke digter opgedra het. Ek (her)lees tans Steiner se…

  4. Joan Hambidge on 100 Duitse Bestes: Durs Grünbein (1962-)15 January 2026

    Dank. Die gedig as smoelneuker. Goed vertaal.

  5. Jacobus Swart on Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk14 January 2026

    Die digkuns is distillasie. Die taal is verhewig. Dit vereis dat die leser sy sokkies sal optrek. Want die digter…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d