Timor mortis conturbat me
Vir 49 dae bly jy in die bardo
tussen lewe en dood,
na die oorgang tot Dharmatā.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
My vader in ‘n pak klere met ‘n das
in SAFFAS se besoekkamer;
dan die krematorium om te veras.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
My moeder in die staatshospitaal
se stem yl, bykans onhoorbaar,
toe ek haar telefonies groet: vir oulaas.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
My vriend in die ICU op ‘n ventilator
se hart en longe gee onrustig in;
kort ná die twaalfuurkanon glo.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
In Varanasi word die lyke voor
sonsopkoms ritualisties verbrand,
wyl die waters spreekwoordelik vloei.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
‘n Vriendin verdrink in haar wegvlug
voor die dood se mespunt
iewers iewers iewers lankal terug.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
My swaer, op die keper beskou,
versorg deur ‘n helper opgelei,
vergeet die antoniem vir lewe.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
Tussen droom en meditasie
van hier tot daar, die bardo’s
uitgespel in die Bardo Thodol.
‘n Lykskleed het nie sakke nie.
Herinneringe en gedeelde vlugte
ingepas in elke memento mori:
jy was ‘n mens, eenmalig, ‘n lyf.
©Joan Hambidge, 2023