Breek
Jammer, moet ek vanmôre bieg,
dat ek jou breek geval het,
bedtafeltjie, my nagtelike metgesel,
jou stinkhoutpote moeg;
jy wat voorkamerbestem moes wees
bedoel om kaas te staan
met hoogstens ‘n glasie wyn
op jou blad,
lê nou ineengedoke, plat.
Hierdie naguil het hom vasgevlieg
teen ‘n kragdraad, en neergetuimel
op ‘n boek vol ryke dwaashede,
‘n lamp in duisend splintertjies laat spat.
Ek sal die staander regsien, die kap
vir bedlig in posisie maneuvreer
om voort te gaan met pantser – ek
hoeka ‘n Covid-geknoude
naelskraap amper beswykte,
deur ‘n dokter met ledekantmaniere
as ‘n yster
summier bestempel.
Die menslikheid van ‘n Rex Ferrus
alias Danie Marais,
getroud met Sannie van Eensgevonden –
die Van Zyls se plaas op Viervoetvassteekberg
digby Modderpoort –
vir die oomblik buite orde.
Algou laat jongeheer hom met staal nie onbetuig,
speel van kleins af klaar met sesduimspykers,
sou glo die laaste spyker in die doodskis
tussen een hand se vingers buig.
Met ‘n skamel mens so ‘n yster
het die wêreld se medisynes
algar vervaldatum bereik,
kan ek laat gaan, kom wat wil.
Laat alles val wat nog kan val.
© Pirow Bekker, 2024