Voltooide tuin
Toe ek in die gesig gevat is
deur ‘n onrustige karsinoom
en ek uit die mos oorgroeide bank
van name
die regte een moes breek,
vierkantig onder oë moet sien,
het ek ontdek dat selfs so laat
as my origens “perdfris en gesond”
mooi broodjies vir die misbaksel
van ‘n kanker gebruik kon word:
let- en swelsel, groeisel en gewas.
Ek moes deur die vervalsings dring
om by die oorsprong uit te kom,
woord en beeld verbind –
eintlik voor die hand:
Vir die Grieke is “karkinos” ‘n krap,
hiervan is kanker afgelei: karkinoma –
die tentakels verdraai,
metameer gesprei.
Toe ek ‘n bundel oor die son
as onderhouer en tegelyk verwoester
van lewe, moes betitel
het ek dit sterk oorweeg
om dit Krap uit die son te doop,
maar toe besluit op Rasuur –
meer beknop, met die son
steeds die heersende figuur.
Met groter vryheid, ook van die taal
het ek weer aan my pa gedink.
Deur sy hele Jabbokstryd
is hy in die duisternis gehou
oor sy opponent – dié se identiteit
is selfs nie aan sy vrou verklap nie.
Tot met sy dood is sy uit puur genade
dié besonderheid gespaar.
Dat hy oorly het aan ‘n ongeneeslike kwaal
was destyds ver genoeg geopenbaar.
Skuld as ondermyner is uiteindelik gepak
op ‘n mindere inwoner:
skalks aan obskuriteit ontrukte
lewerslak.
Die trae dood is dus verklaar
met suggesties van ‘n tuin, ‘n paradys –
hy’t inderdaad op dorre Draaifontein,
van nuuts af tuis
met water uit ‘n boorgat
brak, ‘n tuin begin
en dié het alte mooi gedy
tot lokaas op die vlak –
opgelos die dood se raaisel,
kersie op die koek.
© Pirow Bekker, 2024
