Slegte nuus van my uroloog
‘n Toegewyde voëlkyker is my spesialis:
Vrydae na werk as hy daardie gevreesde vinger
vir oulaas uit die Latexhandskoen trek,
kom geveerde spesies klein en groot
deur sy langlens-Canon onder skoot.
En nou met my jaarlikse ondersoek,
diagnoseer hy my in ‘n metafoor
soos sekerlik nooit aan hom gedoseer
in al daardie jare op mediese-skool:
Meneer, kom ek stel dit so,
u kan maar u kortbeksuikerbekkie
bly blou pilletjies voer
tot elke stertveer
stokstyf rys,
so ‘n verkrimpte tinktinkie
gaan nimmer ooit
as gekroonde neushoring
in enige gerespekteerde
voëlboek pryk.
© Hennie Nortjé 2024
Pikant en spitsvondig!
Pittig en op die man af!
Dit is histeries snaaks en parmantig, kordaat (kort-draad).
Wonderlike self-spot. Hoogs genotvol.
Lekker humor.