I
Die digter Lucas Malan het ‘n studie geskryf, gebaseer op sy doktorale studie, Paradoks en Parabool: ‘n studie oor Ernst van Heerden se latere poësie.
In 1978 behaal hy ’n M.A.-graad aan die Universiteit van die Witwatersrand met ’n verhandeling oor die digter Barnard Gilliland se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Gilliland is oorlede op 25 Augustus 1962 in ‘n motorongeluk. Veral sy bundel Veelhoek (1962) was belofteryk. Malan was ook kritikus vir De Kat oor die digkuns in die laat tagtiger- en negentiger jare.
Malan is in 2010 oorlede.
II
Lucas Malan (1946 – 2010)
Afspraak
Lucas Malan
Die uurwerk het haar enkel taak
weer stip volbring. Op ’n wintersdag
om kwart oor tien, op die tweede vlak
aan ’n kade, het die klok gestaak.
Kort tevore het die laaste uur geslaan.
Terstond het die merels buite verstom,
lont geruik en vervaard uitgeflap
na die Vondelpark. Daar, met krom
nek geboë in rougebaar, dryf nóg
so vorstelik, eenkant, ’n swaan.
3 Desember 2007
Hierdie gedig is geskryf enkele dae ná haar dood. Uurwerk, klok, laaste uur verwys na tyd en haar afspraak met die dood.
‘n Afspraak impliseer immers altyd ‘n bepaalde tyd. Malan het eweneens ‘n bundel gelewer met die titel Tydspoor.
En die swaan aktiveer “Twee kleuters in die Vondelpark”, ‘n klassieke Eybers-vers. Smetloos geteken dryf daardie dubbelswaan …
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-twee-kleuters-in-vondelpark/ Besoek 17 Maart 2024
“Die enkel taak” (met die bekende reël: wreder molog van die woord) opgeneem in Onderdak (1968) betrek ook Lina Spies se studie oor Eybers en Emily Dickinson wat heet Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson.
Hierdie gedig van Malan is ‘n decima of dizain (10 rls). Die sogenaamde “stand-alone” stanza.
Is hierdie gedig ook ‘n voorspelling van sy eie afspraak met die dood? ‘n Soort voorafwete of regmaak vir sy eie afspraak?
Die eerste Afrikaanse gedig oor Emily Dickinson is dié van Elisabeth Eybers, opgeneem in Gedigte 1936-1958.
Emily Dickinson
Haar wete, ons vir ons gepuur uit pyn,
kon sy nie opweeg teen die wysheid wat
verhandelbaar en goedkoop is en glad:
later het sy nie meer op straat verskyn.
Die jare het niks van buite af ingebring;
die smal, intense liefde van ‘n vrou
waarvoor geen afset was het sy behou:
wonder, verlatenheid en duiseling.
Haar eensaamheid was geen verskansing maar
in stygende stoutmoedigheid ‘n swewe
om deur die raamwerk van die heelal te staar;
deur donker skagte het sy afgedaal
tot diepverborge bronne om die lewe
kristalsgewyse, helder, op te haal.
Malan se vers aktiveer vele verse van Eybers en die “diepverborge bronne” van intertekste en verwysings. Die digkuns as ‘n spel van paradoks en parabool. Of ‘n veelhoek. Of veral ‘n dubbelspel wat Eybers se swaan oproep.
En die gedig as rougebaar.
Bronne:
Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Malan, Lucas. 1992. Paradoks en Parabool: ‘n studie oor Ernst van Heerden se latere poësie. Pretoria: HAUM-Literêr.
Malan se oeuvre:
- ’n Bark vir die Ontheemdes, Tafelberg, Kaapstad (1981)
- Tydspoor, Tafelberg, Kaapstad (1985)
- Edenboom, HAUM-Literêr, Pretoria (1987)
- Kaartehuis, HAUM-Literêr, Pretoria (1990)
- Hongergrond, Human & Rousseau, Kaapstad (1994)
- Afstande, Protea Boekhuis, Pretoria (2002)
- Vermanings, Protea Boekhuis, Pretoria :(2008)
Spies, Lina.1995. Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Kaapstad: Queillerie.