Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
27 March 20242 April 2024

Aangenaam! Onderhoud met Pirow Bekker

 

 

Hierdie is die eerste onderhoud in ʼn reeks wat Marlies Taljard met Afrikaanse digters beplan. Ons wil graag elke week of elke twee weke vir die volgende paar maande so ʼn onderhoud op Versindaba plaas. Sien ook die aankondiging by hierdie skakel:

https://versindaba.co.za/2024/03/25/nuwe-projek-onderhoude-met-digters/

 

Marlies Taljard (MT)

Pirow Bekker, baie dankie dat jy bereid was om die ys te breek en per e-pos met my te praat. Dankie ook vir jou eerlike en deurdagte antwoorde.

 

Waar kom jy vandaan? Vertel asseblief iets van jou jeug en jou kleintyd. Wat het jou gemaak wat jy nou is?

 Pirow Bekker (PB)

Ek is ‘n boorling van die Suidoos-Vrystaat, spesifiek die plaas Suidoostebank op die grens tussen Reddersburg en Smithfield, maar het ‘n deel van my jeug deurgebring in die Oos-Kaapse bergwêreld waar my ma se mense gewoon het. Die plaas Draaifontein was ons tuiste met aangrensend Klipfontein waar my Ouma-hulle gevestig was, sowel as Rietfontein waar ek skoolgegaan het – die baie “fontein” in die name moet iets sê van die behoefte aan water in die streek, allerweë bekend as Die Moot, gevorm deur die Groot- en Kleinwinterhoekberge. Daar het ek skoolgegaan tot standerd ses (graad agt) waar die verdeling tussen laer- en hoërskool destyds was. My voorland was Kirkwood in die Sondagsriviervallei vir verdere skoolgang, maar my pa het ernstig siek geword en hy wou terug Vrystaat toe. So bevind ons ons op Smithfield met die skooljaar reeds ‘n paar weke gevorderd. My pa sterf op 1 Maart 1950 op 52-jarige ouderdom. Ek het pas veertien geword.

(Oor dit alles het ek uitgebreid geskryf in my romoir Beurtelinge wat in 2021 by Hemel en See Boeke verskyn het.)

 

MT

Watter beroep beoefen jy en het jou beroep ʼn invloed op jou skryfwerk – die temas, die ondervinding wat jy opgedoen het, die onderliggende teorie …?

 PB

Ná digterlike bevliegings van heel vroeg af – ek het in die laerskool selfs ‘n speurverhaal aangedurf, maar min gevorder en ná ‘n bladsy of twee tou opgegooi – tree ek, as algemene verslaggewer aanvanklik vakansietye en ná B.A. permanent toe tot die redaksie van Die Volksblad. Oor die invloed van die joernalistiek op my digwerk kan ek nouliks ‘n dispuut verklaar. Getuienis daarvan word duidelik gelewer in ‘n deurwinterde koerantman  Hennie van Deventer se boek Laatoes. Onder die opskrif “Pynlike peins” waar hy een van my eerste gedigte “Peins oor ‘n plakkaat” bespreek, vind hy blyke dat bo die neus van die nuushond daar ook die pyn van peins oor wêreldgebeure skuilgaan. Hy vind dit “die beste koerantgedig in Afrikaans” wat vir dié ou penstoter aandui dat dit nie gemorste ink uit die vulpen was nie, want soos ek dit in die hitte van die stryd neergeskryf het, het dit bly staan.

 

 

MT

Hoe sien jy jouself as mens en as digter? Het jy in jou lewe en skryfwerk gegroei?

 PB

As digter moet ek mensliewend wees en as mens digterlik. Dikwels word die digter deur menslike dinge na die pen gedryf, en verby die mooi woord. Elders het ek gesê dat skryf die voortdurende onvrede met die tevredenheid is. Die onvrede duur omdat die stof nie tot in die laaste woord ontplooi is nie. Dan kyk jy die ding so en twyfel: Is dit waarvoor jy gevra het? Wanneer jy oud geword het soos ek, leer jy die ontevredenheid met verdraagsaamheid temper. Maar die rus bly dikwels elders steek.

Deur die woord beleef die digter nie net een keer die gegewe nie. Hy herbeleef en herbeleef. En dit is nie noodwendig pynlik nie. Jy word soms die ekstase gegun van iets buitengewoons in die taal laat gebeur het en waarvan die bewuswording eers later volg – dat daar ‘n  moment van sluiting soos van ‘n sweisvlam plaasgevind het.

 

MT

Waar kom jou liefde vir woorde vandaan?

 PB

Boeke was maar yl gesaai in my vroeë jeug, maar alles waarop ek my hande kon lê, het ek gelees. Op ‘n kol, in die laerskool nog, het ek kennis gemaak met Pär Lagerkvist se Nobelpryswenner boek Barabas wat my gesterk het in die idee dat die eenvoudigste woorde veel kan vermag. Toe ek jare later op ‘n sypaadjie in Pretoria die vertaling in Afrikaans van Hymne Weiss weer raakloop, het ek dit dadelik gekoop.

 

MT

Hoe skryf jy? Kom jou gedigte volledig by jou aan? Dink jy lank voordat jy iets skryf? Hoe lank en hoe intensief werk jy aan ʼn gedig?

 PB

In ‘n visuele spel met agterhaalbare ligruspers ag ek myself gelukkig wanneer ‘n gedig reeds iewers voor of bo my bestaan en dit my taak is om hom net op papier vas te pen. Plaas hom in leestekens, m.a.w. kry hom nou te lese. Van plekke waar daar ‘n sluiting was soos met ‘n sweisvlam kom die bewuswording dalk eers veel later. Behou die geloof in die onbewuste.

 

MT

Watter temas lê jou na aan die hart? Waaroor voel jy sterk? Wat maak jou gelukkig?

 PB

Deur alles bly die hunkering na die volgemaakte, nie noodwendig volmaakte nie. Daar kom ‘n boerebeeld op uit die verre verlede. Deur die tuit van die ou dorsmasjien stroom die koring voluit in die mudsak in. Ek vang ‘n handvol pitte op, ruik dit, proe daaraan. Dis die oes. Dis klaar. Waarmee, dink ek, het jy tot hier gekom. Die hooftema deurgaans was liefde. Dis klaar. Dis verby. Maar is dit waarlik verby? Is die saad in jou hand nie voldoende oortuiging van lewe wat wag om ontsluit te word nie?

 

MT

Is daar iemand wat jou inspireer om te skryf, iemand wie se werk jy bewonder of iemand wat vir jou ʼn klankbord is?

 PB

Oomblikke van blote oormoedigheid word my ook gegun sodat ek voortvarend glo in my latente vermoëns; ek voel my op die drempel daarvan om ‘n gedig te skryf waar in dié se wêreld elke woord ‘n planeet word. Deur die klankborde wat ek vroeg reeds gehad het, word dié siening, naas die bemoedigende seine, egter erg ondermyn. In standerd agt wen ek ‘n redenaarskompetisie en kry as prys FEJ Malherbe, toe hoogleraar in letterkunde op Stellenbosch, se lywige Wending en inkeer. Dis ‘n persoonlike wending vir my, en ek begin uit Smithfield gedigte aan FEJ Malherbe, die letterkundige bekend as Fransie Malherbe, pos. Hy vind net twee reëls in ‘n langerige natuurgedig gangbaar, maar dis oorgenoeg aanmoediging vir my om voort te woeker. By die laaste gedig in my matriekjaar, ‘n sonnet oor die Bybelfiguur Petrus, veroorloof hy hom om van “groot vordering” gewag te maak. Op universiteit kruis nog ‘n Frans my pad: FIJ van Rensburg wat die inspirasie agter my verdere studie en bemoeienis met die letterkunde word. Hy doseer taalkunde, maar nagraads ook stilistiek. Hy is in dié tyd juis betrokke by ‘n polemiek oor die nuwe dissipline – die vraag of die stilistiek by die taal- of die letterkunde hoort. Van Rensburg is in sy hart ‘n literator. Dit is ook die tyd van die enkelgedigproefskrifte waarin die gedig tot op die been oopgevlek word – wat nie sê nie dat meelopende ander werke genegeer word. Juis mag hulle saampraat, maar nie los en vas nie. Gehalte hang volgens die bekende uitspraak van Wellek en Warren saam met die “amount and diversity of material integrated”. Die goeie gedig deurstaan enige toets. Die wonder bly.

Ek voltooi die M-graad met ‘n verhandeling oor die kwatryn, maar die studieveld wat deur titels in die poësie geopen word, fassineer my al sterker: As sub by die koerant skryf ek daagliks opskrifte en raak bewus van die wêrelde agter die opskrifte. Vandaar “Peins oor ‘n plakkaat” en my proefskrif onder leiding van Van Rensburg: Die titel in die poësie. Die groot lekkerte was die boek wat ek daarvan kon maak en wat in 1970 verskyn het.

 

MT

In hoeverre steur jy jou aan kritiek?

 PB

In die lig van my komvandaan en die geskiedenis verbaas dit seker nie dat die akademie nie die enigste pad is wat ek wou volg nie. Parallel daarmee het die komponeerdery in taal, om dit maar so uit te druk, geloop. Daar ek immer vir myself opwinding in my skryfwerk gevind het, het kritiek my nie soveel geraak dat ek gestuit kon word nie. Ek het gedink aan Boris Pasternak se troos aan ‘n vriend. Gaan maar net voort om mooi goed te maak.

Ek het amper nege jaar letterkunde aan Unisa doseer. Daarna was ek meer as ses jaar by die RGN. Afgesien van kortverhale, romans en ander publikasies het tien “volwasse” digbundels van my hand verskyn. Op die oomblik is nog ‘n solo-digbundel nie in die weer nie en is ek dankbaar dat Versindaba nog in my skryfsels belang stel.

 

MT

Deel asseblief met ons een gedig in jou oeuvre waarvan jy baie hou.

 PB

My keuse van ‘n gedig wat my steeds boei, is een uit die jare her. Dit is een van dié waaroor ek soms voel dat dit ‘n gemiste kans verteenwoordig, dat ek dit nou as ek penregop sou gaan sit, waarskynlik beter sou kon skryf.  Daar is buitendien iets byna voorspelbaars daaraan omdat dit verband hou met die latere tema in my werk van die son wat nie net voed nie, maar ook byt. Die gedig dra die opskrif “Vir die mense van Kanete” en het verskyn in die bundel Definisies deur die bloed in 1978. Ek sou kon besluit dat die voltrekking van die soektog na ‘n wonderbaarlike gifding anders moet geskied. Ek sou byvoorbeeld “hoër” allure daaraan kon gee deur nadrukliker ooreenkoms met die koperslang wat in die woestyn verhef is en sterwende mense by die aanskoue daarvan kon genees. Die legende van my slang is deur my skoonpa, ‘n boorling en boer van die Noordweste, soos die deel van Kaapland destyds bekend was, vertel: As enige krieseltjie van die dooie slang, bekend as die nghobba, in ‘n bytplek ingesny en met die bloed gemeng word, bring dit onmiddellike verligting. Nie alleen word die pyn weggesyfer nie, volkome genesing volg daarop. Ek kan die reis en soektog van die jongman herskryf.  Maar dan weet ek weer: Veel van die aardsheid sou dan dalk verlore gaan.

 

Pirow Bekker se eerste perskaart

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Kompetisiewenners
Nuwe Bundel. Pirow Bekker: Die bloei van blomme →

1e kommentaar op “Aangenaam! Onderhoud met Pirow Bekker”

  1. Joan Hambidge says:
    27 March 2024 at 13:31

    Ware vakman. Kyk hoe hanteer hy die parodie. En die gesprek met Leipoldt en vele ander.
    http://joanhambidge.blogspot.com/2017/04/pirow-bekker-voor-ek-my-kom-kry-2017.html
    Dankie vir hierdie insigryke onderhoud.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Gerard Scharn. het was verschrikkelijk
  • Nuwe Bundel. Margaret Cordier-Biermann: Spiraal
  • Nuwe Bundel. Carina van der Walt: Frankofiel
  • Nuwe Bundel. Daniel Hugo: Vers & Kapittel III
  • Nuwe Bundel. Jeanne Henning Els: Vlerke is vir vlieg

Nuutste kommentaar

  1. Marieta McGrath on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie31 August 2026

    Ek hou hiervan.

  2. Johan Coetzee on Joan Hambidge. Om die hemel te dekonstrueer30 August 2026

    Die hemel... of hel is opgedollie.

  3. DIETLOFF VAN DER BERG on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)28 August 2026

    Soekie, ja, ek stemsaam. Van 'Boondoks' tot 'Gelykenis' is daar net soveel wat mens tref en weer wil herlees.

  4. Soekie Vogel on Resensie: “In memoriam, Johann de Lange” (Johann Lodewyk Marais en Joan Hambidge)27 August 2026

    Hambidge het haarself oortref in haar digsiklus oor De Lange. Aangrypend.

  5. Daniel Hugo on Ilse van Staden. Die Dans25 August 2026

    'n Wonderlike huldeblyk aan die digter se moeder en Van Wyk Louw.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d