Docere
vir my narkose leermeesters van weleer…
Stuk vir stuk word ‘n skip gebou;
boeg en spriet en takelwerk,
elke grein perfek in plek
om op ‘n windstil dag te water te laat,
hande kneukelwit op die roer
met een oog op die kim,
die ander op die seil wat bollend beur.
Die skip eers regs dan links laveer
alvorens jy op onstuimiger waters waag
waar branders oor die boeg mag breek,
die wind soutsproei in jou oë waai
met mas wat kraak en seil wat dreig
om los te skeur eer jy plotseling
die hawe binnevaar, vasmeer teen die kaai.
Dan uitgestrek op ‘n beskutte strand,
hande agter die kop gevou
lê en kyk hoe vlaswit wolke
verbydryf teen die blou,
teen die blou.
© Hendrik J Botha 03/2024
Ek hoop dat jou leermeesters van weleer hierdie eerbetoon na behore sal waardeer.
Lieflik wiegend en hopenlik net die voorspel( pre-medikasie?)tot die volgende meevoerende bundel?
Uitstekend verbeeld. Ek hou veral van die woorde wat nie algemeen gebruik word nie en hier ‘n baie sterk beeld skep… boeg, spriet, takelwerk,grein, kreukelwerk, bollend, laveer en soutsproei.