I
Fanie Olivier debuteer in 1971 met Gom uit die sipres (bekroon met die Reina Prinsen-Geerligs-prys). Om alleen te reis (1973), Paradysrigting van die wind (1976), Skimmellig (1978) en verklarings 1967 – 1987 (1988). Hierna volg Apostroof (2010). In 2020 is daar ou laaie en inmiddels het die digter as ‘n belangrike én bekroonde vertaler na vore getree. As bloemleser is veral sy samestelling van die (heel) mooiste Afrikaanse liefdesgedigte ‘n baken. Dit het al verskeie edisies beleef en Afrikaans het ‘n lang lys van boeiende liefdesdigters.
http://joanhambidge.blogspot.com/2016/02/fanie-olivier-samest-die-heel-mooiste.html Besoek 6 April 2024
Olivier is een van die digters wat ‘n bepalende invloed op my gehad het as jong digter. In my eksemplaar van sy debuut het ek ‘n koerantfoto ingeplak as jong skoolkind. Hy is ‘n onderskatte en miskende digter. Veral Apostroof is ‘n belangrike baken in ons digkuns.
Ek haal aan uit my bespreking indertyd:
Die apostroof, volgens Alex Preminger (red.) se klassieke ensiklopedie, is ‘n stylfiguur waarin die afwesige persoon aangespreek word. Ons vind hierdie aanspreekvorm – wat sterk verband hou met personifikasie – dikwels by Shakespeare met die Oh! Of in ander tekste met die versugting (A!). Die apostroof (‘) is ook waar letters weggelaat word: ‘n in Afrikaans vir een, ensomeer.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=apostroof Besoek 6 April 2024
II
Fanie Olivier
Roulynolie
Fanie Olivier
die bloedende praktyk het jy vroeg gedistilleer
dit daarna dekadeslank ruimskoots gereduseer
tot on- en uitgeskrewe teorie van rym en ritme
getregter, opgevang in teer en seer en weer
5 Desember 2007
Die roulynolie verwys na die gedig van die seun wat versoek dat sy moeder nie die roulynolie vir sy krieketkolf moet vergeet nie.
… Daar golf
geen skoner jambes in my moedertaal
as roulynolie vir my krieketkolf!
https://gesellig.co.za/t/18993-%22_Tersiene_%22__deur__ELISABETH__EYBERS/ Besoek 6 April 2024
Die bloedende praktyk by Eybers is die spel tussen tegniek en ervaring. (“Woordeskat”)
https://maroelamedia.co.za/afrikaans/gedigte/gedig-woordeskat/ Besoek 6 April 2024
Die tregter verwys na die gedig waar die wind alles tregter. (“Nagwandeling”)
‘n Vloed getregter uit die pool …
https://www.dbnl.org/tekst/_gid001196301_01/_gid001196301_01_0065.php Besoek 6 April 2024
III
Olivier distilleer Eybers in ‘n kwatryn. Gedistilleer en gereduseer.
Hy verwys ook by implikasie na Hein Viljoen se artikel:
on- en uitgeskrewe teorie van rym en ritme
https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/1138/1608 Besoek 2 April 2024
Eybers, weet ons, dink na oor die teorie van gedigte maak. Oor die verskil tussen prosodie en posodinie (die vermoë om pyn of verdriet te ervaar).
Eers teorie, dan bloeiende praktyk …
Die digkuns is immers die vak van degensluk!
Joan Hambidge
7 April 2024
Degensluk
Vir Fanie Olivier
Kortliks sluk ek deesdae woorde
broksgewys, stikkend (etend aan
my Dasein) en onthou jou akkoorde
die digter as towenaar, jou aan-
praat van al ons digters in ‘n krieketspan:
Wie sal eerste boul? Of tweede kolf?
En die roulynolie plaas op hierdie krieketkolf?
Dit moet glo jambies vloei, rymskoorts gaan.
Joan Hambidge
Bronne:
Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.
– 1973/1975. The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.
Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.
De Lange, Johann. 1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau / Tafelberg (saam met Antjie Krog).
Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rouseau. Tafelberg.
Olivier, Fanie. 1992. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.
Het hy nie by Pennington gebly nie? Dis duidelik hy kan skryf.