Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
9 April 202411 April 2024

Aangenaam! Onderhoud met Ilse van Staden

 

 

Marlies Taljard (MT)

Ilse van Staden, baie welkom op Versindaba en dankie dat jy bereid was om per e-pos vanuit New South Wales (Australië) ʼn onderhoud toe te staan.

 

Waar kom jy vandaan? Vertel asseblief iets van jou jeug en jou kleintyd. Wat het jou gemaak wat jy nou is?

 

Ilse van Staden (IvS)

Ek het grootgeword in die Waterberge, eers op die plaas Donkerkloof in die Palaladistrik en later Kwarriehoek in Melkrivierdistrik. My kinderdae op die plaas is van my beste herinneringe – naby aan die natuur, maar terselfdertyd omring deur boeke, kuns, musiek. Dit is die grond en water waaruit my skryfwerk ontstaan het. My pa was veearts en boer, my ma kunstenaar. Albei my laerskole (Elandsbosch en Melkrivier) bestaan lankal nie meer nie. Vir hoërskool moes ons noodwendig koshuis toe en ek is Pretoria toe na wat destyds die Kuns-, Musiek- en Balletskool was (later Pro Arte Alphen Park). Veral my eerste hoërskool- en koshuisjaar was vir my swaar en ek het elke skoolpouse met my kop in ʼn boek deurgebring. Ek het die kunsrigting gevolg en buitemuurs musieklesse geneem, maar altyd geweet dat ek dit nie as beroep sal volg nie.

 

MT

Wat doen jy deesdae? Watter beroep beoefen jy, waar woon jy, wat doen jy in jou vrye tyd? Met wie deel jy jou lewe?

 

IvS

Ná ʼn laagtepunt kort na ons emigrasie na Australië in 2012 en vier jaar se harde arbeid as tuinarbeider, het ek in 2017 teruggekeer na my beroep as veearts en werk sedertdien in ʼn multi-veearts praktyk (met o.a. drie ander Suid-Afrikaanse veeartse). Ek en my man Eugene bly tans in Lake Munmorah, NSW, ongeveer twee ure noord van Sydney. Dit is weer grond en water – see, mere, berge, bos – maar weer eens met voldoende toegang tot kunsgalerye, biblioteke en teaters.

 

MT

Het jou beroep ʼn invloed op jou skryfwerk – die temas, die ondervinding wat jy opgedoen het, die onderliggende teorie …?

 

IvS

Kritici het sedert Watervlerk al beweer my beroep beïnvloed my poësie, maar ek stem nie saam nie. Dis dalk eerder my kennis van en bewussyn van die natuur en natuurlike prosesse wat ʼn invloed het. Ek skryf selde gedigte met ʼn direkte veeartsenykundige verbintenis.

 

 

MT

Hoe sien jy jouself as mens en as digter? Het jy in jou lewe en skryfwerk gegroei?

 

IvS

Ek sien myself as ʼn esteet, iemand wat tot in my fynste nerwe geroer word deur mooi dinge. Water, bome, blomme, klippe, kleure, klank. Dis vir my ʼn ewige frustrasie dat ek dit nie kan vasvang nie, nie in my kuns nie en ook nie in my skryfwerk nie. Want die wéérgee van die estetiese vereis meer as realisme of mooiskrywery. Die naaste wat ek daaraan kan kom, is om met taal en ritme om te gaan.

 

MT

Waar kom jou liefde vir woorde vandaan? Hoe lank skryf jy al en wat skryf jy alles?

 

IvS

So ver terug as wat ek kan onthou, wou ek al “digteres” word. In die jaar voor ek skool toe is, het my ma my leer skryf, en my eerste rympie het ek vroeg die volgende jaar neergepen. Wat my ma, met hoë verwagtinge, geïnspireer het om daardie Kersfees vir my die Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers present te gee! Sy en haar pa (my veearts-oupa) was die grootste kulturele invloed op my ontwikkeling in terme van blootstelling aan letterkunde. Ek skryf hoofsaaklik poësie en romans.

 

MT

Is jy ʼn leser, en wat lees jy? Watter teks(te) het jou die meeste aangegryp?

 

IvS

As kind het ek alles verorber wat oor my pad gekom het, maar nou verkies ek boeke (beide fiksie en nie-fiksie) wat méér bied as net vaardige sinskonstruksie en goeie storielyn. Ek het ʼn paar jaar gelede begin luister na die History of Literature podcast, wat my moet-lees-lysie aansienlik uitgebrei het. Ongelukkig lees ek deesdae eintlik net Engels, want ek kan eenvoudig nie prosa lees op ʼn skerm nie en posgeld uit Suid-Afrika is ontsettend duur. Vir Afrikaanse poësie is ek afhanklik van die internet of die eens-in-ʼn-skrikkeljaar besoeke aan die vaderland.

 

MT

Hoe skryf jy? Kom jou gedigte volledig by jou aan? Dink jy lank voordat jy iets skryf? Hoe lank en hoe intensief werk jy aan ʼn gedig?

 

IvS

Gedigte skryf ek met potlood op papier. Die meeste gedigte groei soos ʼn saad wat jy optel in die bos en in ʼn bedding indruk. Soms steek dit uiteindelik kop uit ná weke se watergee en mediteer en toorwoorde mompel. Dan kan dit óf skielik rypword met minimum redigering óf nog ʼn week of twee se skaafwerk verg. Of oornag vrek van wortelvrot.

 

 

MT

Watter temas lê jou na aan die hart? Waaroor voel jy sterk? Wat maak jou gelukkig? Wat stem jou onrustig? Wat haat jy? Waaroor droom jy?

 

IvS

Skoonheid, stilte. Vryheid – as ek ooit ingehok moet word, fisies of geestelik, sal ek doodgaan soos ʼn vis in ʼn voëlkou.

 

MT

Is daar iemand wat jou inspireer om te skryf, iemand wie se werk jy bewonder of iemand wat vir jou ʼn klankbord is?

 

IvS

Skrywers wat vaardig en vernuftig met die taal omgaan, wat inhoud én vorm belangrik ag. In Afrikaans TT Cloete, Eybers, Breytenbach. In Engels Seamus Heaney. En een van my gunsteling Afrikaanse romans bly Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat – miskien oor die woorde? In Engels Pip Williams se The Dictionary of Lost Words. A, die taal en die woorde!

 

MT

In hoeverre steur jy jou aan kritiek?

 

IvS

Ek luister daarna, maar dit steur my nie meer soveel soos vroeër nie. Mens het self opinies oor ander se skryfwerk, nie altyd geldig nie. Soms word die bordjies verhang.

 

MT

Watter raad sou jy graag aan aspirant-digters gee?

 

IvS

Lees en skryf. Lees gedigte en letterkunde en boekresensies, soveel soorte as jy kan in soveel tale as wat jy magtig is. En skryf dan, sonder grense; word vaardig met jou taal soos ʼn vakman met sy gereedskap.

 

MT

Deel asseblief met ons een gedig in jou oeuvre (of ook meer as een) waarvan jy baie hou.

 

IvS

 

bou jou skip

bou jou skip van drome, jou vlot van taal

om deur die silwer vloed te vaar,

jou skuit uit ysterhout gekerf,

die ark waarmee jy veertig jaar

deur vloede en droogtes moet dryf

met aan boord die beendere

die vel en weefsels in botteltjies bewaar –

 

gerugte van eenhorings, fenikse en selakant,

drake en dinosourusse, basilisk en narwaltand

 

bou jou boot van beenwit woorde

laat sak jou hoek vir die droomvis

wat jy van nou af daagliks op moet dis.

 

(uit waar die oog van stil word)

 

 

 

palawa kani

“milaythina nika milaythina-mana”

(hierdie land is my land)

 

woorde lê soos slapende honde

om die warm as van die mond

droom in rukfyn tjankies

van dae toe dit wyd kon draf

deur lutruwita se woude en gras

maar hier wás nooit dingo’s nie

net maar miskien

die streepskadu van ‘n buidelwolf

uitgestorwe thylacine

 

die mens

het hier alleen geloop

gedraf, gevlug

geskuil en uitgeroep

in klinkende taal teen die afsterf van die lig

tot selfs die wasem van woorde

in die nanag wegsluip en verdwyn

 

na jare hoor jy weer geluide en gerugte

en snuif iets by die wortels van papierbasbome

‘n taal se hare staan orent

en daar is halfonthoude spore in die sand

in lutruwita se ruigtes roep iets:

my land my land my land

 

* palawa kani is die enigste Aborigenetaal in Tasmanië (lutruwita). Dit is gerekonstrueer uit tale wat uitgesterf  het weens kolonialisering en volksmoord.

 

(uit verveertaal)

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Wenners van Plek / Landskap & Somer-gedigkompetisie
Yves T’Sjoen. Cahier van een lezer [21] – Vraaggesprekken met literaire agenten (4) →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d