Buikdanseres
Uit die misrook op die verhoog
kom jy met jou arms deinend na voor
mistiek gerig op die afwagtende gehoor
terwyl jou lenige lyf en beurende borskas
wieg op die hartseer maat
met die ritmies klinkende munte
wat keer op keer
om jou heupe val
en opwip
as jy Leila se smartlike verlange interpreteer.
Ek vang jou oog en wens ek kan
jou vlugtigheid vir ewig opgedam
in my arms styf teen my bors vashou
in plaas van in ons tweegang
soveel maal seer op jou te trap
want die lewe het al klaar
kankerend gedans met jou.
Ons kan aanskou hoe jy grasieus oorkom
want met jou grootse gees kan jy
byna gewigloos teen swaartekrag
se klou oor groot en kleinlikhede sweef
en mastektomiese hartseer oomblikke
betowerend tot dansende herinnering verweef.
© Dietloff van der Berg, 2024.