Die papie roer en ek word digter. Met ’n inleiding deur Louise Viljoen. Ingrid Jonker, onder redaksie van Joan-Mari Barendse. Protea Boekhuis, 2023. ISBN: 978-1-4853-1541-4
Resensent: Alwyn Roux
Die heruitgawe van Ingrid Jonker se versamelde gedigte deur Protea Boekhuis het opnuut waardering vir haar werk gewek. Wat hierdie herwaardering besonders maak, is dat die redakteur, Joan-Mari Barendse, poog om so na as moontlik aan Jonker se oorspronklike publikasies van haar bundels te bly. Daarbenewens is die bundel besonder elegant uitgegee, met twee treffende swart-en-wit foto’s van Jonker op die voor- en agterplat. Die voorplatfoto, geneem uit die Jack Cope-versameling met die vergunning van die Amazwi-letterkundemuseum (dank aan Lynne Grant), en die agterplatfoto, deur Buck Jones met vergunning aan NALN, met spesiale dank aan Lacia Viljoen en Annelien Diedericks, is opvallend.
Op die voorplat staar Jonker byna intens voor haar uit, met halfgeopende mond, teen ’n boomryke agtergrond. Op die agterplat sit sy effens verwese, met ’n boek in die hand, kruisbeen in ’n langmouhemp voor ’n boekrak en lees. Hierdie beelde wek onmiddellike fassinasie met die digterlike figuur wat binne ’n internasionale tradisie haar plek gevind het, naas beroemde vrouedigters soos Sylvia Plath, Anne Sexton, en Marina Tsvetaeva, wat ook hulle eie lewens geneem het (Viljoen in Jonker, 2023:13). Alhoewel hierdie kwessie van selfdood in die algemeen in die voorgrond staan wanneer oor Jonker gepraat word (“sy is mos die digter wat in die see ingeloop het?” vra Jan Alleman gereeld), stuur emeritus professor Louise Viljoen weg van hierdie gegewe om opnuut die fokus op haar digkuns te sentreer, en nie haar lewensverhaal nie. Die titel van die bundel is van Viljoen se uitgangspunt ook ’n getuienis. Die bundel heet Die papie roer en ek word digter, met as onderskrif, Jonker se drie bundels: Ontvlugting (1956), Rook en oker (1962), en Kantelson (postuum in 1966).
Die titelkeuse van die bloemlesing word weerspieël in die interpretasie van die gedig “Vyf lewens”. Hierin gebruik die digterspreker die inname van alkohol om hom- of haarself as verskeie karakters voor te stel – van ’n Renaissance-kunstenaar soos Leonardo da Vinci, tot ’n vermaerde monnik in die Karmeliete-kluisenaarsorde, ’n sirkusakrobaat wat op ’n koord dans of met sweefstokke optree, en selfs ’n verhongerde man. Dit is egter na die drink van die vyfde drankie dat die spreker hul ware identiteit as digter erken, uitgedruk in die versreël: “Die papie roer en ek word digter…” (Viljoen in Jonker, 2023:11).
Primêr tot die inleiding is die argument teen die algemene neiging om Jonker se werk en persoon te verskraal en te seksualiseer. Viljoen beklemtoon hierin dat Jonker nie bloot ’n impulsiewe digter was nie, maar veel eerder ’n selfbewuste digter met ’n sterk politieke en feministiese vooropstelling. Met ander woorde, Jonker word voorgestel as ’n baanbreker in die Afrikaanse literêre tradisie, waarin sy Jonker se gedigte herwaardeer met ’n fokus op hul intrinsieke waarde, eerder as om dit bloot as ’n weerspieëling van haar lewe te sien.
Die fokus van Viljoen se lesing word eerstens onder die noemer van die herlees van Jonker se werk staangemaak, waarin sy onder die subopskrif, “Die verhouding tussen lewe en werk” kapsie maak: “Teen hierdie agtergrond wil ek vervolgens kortliks in gesprek tree met sommige van die bekende opvattings oor Jonker en haar werk, naamlik die idee dat sy ’n impulsiewe eerder as selfbewuste digter was, dat haar werk as gevolg van sekere elemente kinderlik was en dat sy nie werklik ’n politieke digter was nie” (Viljoen in Jonker, 2023:9). Dié bloudruk word dan op ’n sistematiese wyse verken en op ’n onderhoudende wyse beargumenteer onder die volgende opskrifte: “Die selfbewuste digter” (bl. 9-15), “Die stereotipe van die kinderlike digter” (bl. 15-21) en “Die politieke digter” (bl. 22-32). Die slot is getitel “Hierdie uitgawe” (bl. 32-34).
Die bespreking van die gedig “Ontnugtering” in Ontvlugting, waarin Jonker slegs drie en twintig jaar oud was, wys Viljoen in die afdeling “Die selfbewuste digter” daarop hoe Jonker reeds op ’n jong leeftyd ’n afsku gehad het in konformiteit: “Sy [die spreker] het dus probeer inval by die samelewing se verwagting van vroue, naamlik dat hulle mooi, gedienstig, nie-denkend en manipuleerbaar moet wees. In teenstelling met haar voorneme om die wêreld te fop, gebeur die teendeel op byna organiese wyse sonder dat sy dit kan keer: ‘Die dag roer uit sy papie / Die kuiken uit sy dop / Die slaap roer uit my wese’ – beelde wat ’n soort geboorte of ontwaking suggereer” (Viljoen in Jonker, 2023: 12). Hierdie dan as illustrasie van die wyse waarop Viljoen se lesing Jonker se poësie herwaardeer met ’n fokus op die gedigte eerder as die lewe van die digter self.
In die afdeling “Die stereotipe van die kinderlike digter” argumenteer Viljoen (2023: 15) dat ’n deeglike lees van die gedigte toon dat Jonker se liedjies, kinderverse, popbeelde, en verkleinwoorde dikwels ’n donker ondertoon en emosionele kompleksiteit bevat wat die idee van kinderlikheid weerspieël. Aan die hand van onder andere “Kabouterliefde”, “Toemaar die donker man” en “Korreltjie sand” illustreer Viljoen (2023: 17-21) hierdie argument met welslae. Oor “Korreltjie sand” skryf Viljoen (2023: 21) byvoorbeeld dat “verkleinwoorde niks te doen het met ’n kinderlik-naïewe stelling nie, maar veel eerder op gesofistikeerde wyse gebruik word om te dui op die proses waardeur moontlik traumatiese gebeure psigies verwerk word tot iets hanteerbaars en vandaar tot woorde wat die dood kan oorleef.”
Wat my verder bybly van die inleiding, is twee dinge, wat onder die opskrif van “Die politieke digter” sorteer. Eerstens, die voortdurende gesprek wat digters met Jonker voer, boei my. ’n Voorbeeld hiervan is Ronelda Kamfer se skerp digterlike reaksie op Jonker, soos vervat in een van haar gedigte in Chinatown (2019): “ketting hulle vas daar waar hulle hoort / Eybers in haar Vondelpark / Jonker aan die boom waarteen sy swastikas kerf” (Kamfer, 2019: 29). Hierdeur noop Viljoen (2023:14) die leser om Jonker se werk opnuut, met verwysing na die nuwe stemme wat bemoeienis met haar maak in beskouing te bring. Hierdie intertekstuele gesprekke wat digters met Jonker voer bevestig Jonker se relevansie in die Suid-Afrikaanse literatuur.
Tweedens, die tragiese verhaal van die Suid-Afrikaanse joernalis, Nat Nakasa. Nakasa het die Nieman-beurs ontvang om by Harvard te studeer, maar het tragies op 14 Julie 1965 sy eie lewe geneem deur van ’n gebou in New York af te spring. Soos die toeval dit wou hê, het Jonker vyf dae ná Nakasa selfmoord gepleeg, op 19 Julie 1965. Oor die swaarwigtigheid van hierdie tragiese lotsgevalle, skryf Viljoen (in Jonker, 2023:31) soos volg:
Meerdere Suid-Afrikaanse skrywers het die selfmoord van Nakasa en Jonker met mekaar verbind en die onsimpatieke politieke bestel die skuld daarvoor gegee. Athol Fugard (1966) het in ’n artikel geïmpliseer dat dit Suid-Afrika (“that profligate spender of human lives”) was wat hulle lewens geëis het. Die Suid-Afrikaanse digter en vertaler van Jonker se werk, William Plomer (1973:248-50), skryf ’n gedig “A taste of the fruit”, waarin hy afsluit met die woorde dat die bloed van beide Nakasa en Jonker die wortels van ’n boom voed, wat uiteindelik vrugte sal dra in “bough-bending plenty”. Ook Wilma Stockenström (1990: 15) skryf ’n gedig ter herinnering aan Jonker en Nakasa, getitel “By die selfmoord van jong skrywers”, waarin sy impliseer dat Suid-Afrika ’n land is wat jong en kritiese skrywers dryf na hul dood.
President Nelson Mandela lees by die opening van die parlement in 1994 “Die kind” van Ingrid Jonker voor, en sodoende word William Plomer se profetiese woorde bewaarheid.
Louise Viljoen kry dit reg om die stereotipe van Jonker as kinderlike en impulsiewe digter te ontluister en te wys hoe Jonker komplekse denke ten toon stel en ’n sterk feministiese digter was in die tradisie van ’n grootliks manlike erfenis. Dit val my ook op in die deurlees van die verse, watter groei Jonker ten toon stel in haar digterlike oeuvre, van Ontvlugting, Rook en oker en Kantelson. Mens kan alleen maar wonder watter nalatenskap Jonker sou gemaak het in die Suid-Afrikaanse literêre wêreld sou dit nie gewees het vir haar vroeë uitvaart op vyf en dertig jarige leeftyd nie.
Ja wat. Dis so min ‘n resensie vd bundel se inhoud soos die mannetjie op die maan. Mens verwag ‘n vars kyk na van die gedigte deur die resensent?
Nicolaas, dalk moet jy eers die boek koop en die doel van die publikasie in Viljoen se Inleiding gaan lees voordat jy die resensent kritiseer. Hierdie is ‘n goeie resensie, presies wat die ingeligte leser sou verwag.