Môrespieël
Dis ek, net ek
omgedop in die glas
beendere vel en ʼn lagie spek.
Ou kadawergevreet
hoekom wil jy nie vrek nie?
Al gaan jy in angs lê skop en slaan
die sekondegroot miertjies
bly kom nog opeenvolgend aan
en vreet jou gestadig weg.
Ek maak die medisynekassie oop
en al is my pankopbeeld
met sy vergeelde, afgeslyte tande nie meer
in die weerkaatsende lig gevang nie
bly die dowwe klop
en kry ek tussen die botteltjies
geen elikser wat die hoofpyn kan stop nie.
ʼn Koue wind ril oor my kop.
Net toe ek met bottel in die hand
die venster toe wil trek,
sien ek in
my liefste witkoppie wat laggend speel,
opkyk uit die moddersloot
na sy vlieër in die blou daarbo,
wys daar’s meer aan die lewe
as die benouende vrees vir die dood.
© Dietloff van der Berg, 2024.
