Onder koepels van ‘n Vredefort
Hoe word ‘n planeet tot rimpeling geslaan, so vol?
Het dit wat weggevreet is, in strome los bly hang
voor ‘n witwolkwind hul teruggestoot het, saam gestol
sodat die wond bedek kon word, koepels dit oorspan?
In die voorwêreldse verwarring is die hoofrivier genoop
tot vertak in tydelike sakke, verlegging van die loop.
Die swelsel rondom het in werwels rug gemaak, geril,
maar gedeeltelik op laer vlak geskik waar edelstene, goud,
met sediment oorspoel word en ‘n diep ravyn verstil.
Die vrede wat hier was, is langsamerhand herwin –
die tortels koer die nuwe aarde oud en piet-my-vrou
roep bloot na sonkynkwaste ná die skuifelreën.
Die rivier jaag nog soms teen riwwe vas, lê oorhoop
omdat ‘n leierloot die deurmekaarhoutbos ontknoop.
© Pirow Bekker, 2024