onoorwonne kaper
onopereerbare, vlesige massa
so groot soos ‘n gholfbal
omhelser van die optiese senuwee
(dié ooglidverlammer met die ongoddelike aanslag)
verteerder van die frontale lob
aanvaller van die amigdala
woordslukker, geheuewisser
aanhitser van koorsagtige inkopietogte
en deurnagpartytjies
versaker van boeke, houtsneewerk en rekeninge
van geliefde opera-langspeelplate
en die al digter klimop
wat die ligkolle op die kombuistafel
al kleiner laat krimp
opstoker van onvanpastheid
en bipolêre ontploffings
en hy, al meer ‘n vreemdeling,
al meer aan die wegskram
van my aanraking
maar dan –
die onversadigbare word ‘n stootskraper,
stu sy verswakte lyf weer terug in my arms,
steel die laaste skrefie sig
wat selfs ore blind kan laat
– buiten vir die stem wat nét hy kan hoor –
en ek weet die gejaagde asemteue
sein dis tyd vir my om die knie te buig
voor U, Almagtige Breingewas
wegraper van vredigheid
skepper van God se stem in sy kop
en eindelik die onoorwonne kaper
van hom wat eens teen mý genestel was
wat eens herkenbaar was
wat eens myne was
© Maritha Broschk 2024