raaisel
toe ek haar in my arms hou,
die wasigheid van fyn wimpers inneem,
en met my vinger die delikate Kupidoboog van die soekende bekkie volg,
die pinkienaels – brose, deursigtige speldekoppies, so volmaak, Here –
het ek geweet dat God liefde is
toe ek in die week van Pa se afsterwe,
voel hoe ‘n hand op my skouer rus,
hoe mý hand hipnoties, onverklaarbaar gelei word, amper tasbaar,
en my sus laat weet sy is gedra, gekoester, bomenslik gelig –
het ek besef dat God alomteenwoordig is
toe ek vanoggend oor die radio hoor
van Allison wat weer om haar lewe veg,
van die sesjarige lykie gevind:
verkrag, vermink;
en dink aan die kinders van Oekraïne; weggeraap –
het ek (weereens) getwyfel of God almagtig is
© Maritha Broschk, 2024
