Nag
Ek onthou jou anders as wat ek gedink het ek sou.
Die nag dra ’n swart manel
en vlerk ’n wêreld donkerte oop anders as onthou.
Watervalle anders as trane.
Mane anders as oë.
Ek onthou jou anders as wat ek gedink het ek sou.
Wolke wel in my oë
want ek wil huil oor jy weg is.
Vreugde
’n Lint fladder teen die hemel op
en val met stadige beweging
na die grond.
Ek tel die fladdering van woorde op
en bring dit na my mond
en eet die skoonheid aan flarde.
Vry
Jy streel die herfs met jou tong
en spoel dit rond in jou kieste,
mond my woorde rond
en steel ’n dag wat eintlik net vir my
’n dag was.
Hoe klein die nag is
Hoe klein is die nag waarin al ons drome begrawe
lê in die onbewustelike vashou
aan mekaar se lywe vol drome wat begrawe
lê in woorde wat ons
vir mekaar sê
die volgende môre vol blou lug en ruimte
en genade.
© Alwyn Roux, 2024
” en eet die skoonheid aan flarde”
gedigte wat praat
pragtig!
Vreugde en vry is vir my lieflik en lekker.