vroegherfs in die noorde
die jaar word oud in vlamrooi amberbloei
in buksus wat verbruin & gryser lug
waardeur die wind woedend waai & sug
’n lae son stry teen korter dae paddastoele groei
gretig tot selfs die traagstes & die laaste blare val
so suutjies in die goue bos & laan
dat die takke van die hoë berkebome pal
teen elke donker oggend witter staan
o Heer laat dié trae dae heilig word
laat alles val wat groen was & afsydig
of jonk & trots kon pronk – laat word dit ysig
laat als stol Heer bedaar die wind – laat stort
ons waan & laat ons van hoogmoed ontdaan volstaan
met hoe sinloos alles soms glorieus kan vergaan
© Carina van der Walt
Tilburg, Nederland
Oktober 2019, laaste bygewerk 19 Januarie 2024
ek het ’n huisie in die bos
ek het ’n huisie in die bos – dis dag
ek hoor aaneen die denne kraak & kreun
rondom my huisie waar dit suis & dreun
met al die wind se woeste krag
ek hoor die boskraaie se kga-kga klag
soos nonne steun oor hoe donker die dood
al dwalend na grafte tussen eekhorinkiesbrood
fladder hul rustelose oogopslag
my koffie kook my lampie gee sy lig
ek hoor hoe loei die storm daarbuite
ek hoor hoe ruk die winde aan my luike
hierbinne is dit veilig warm & dig
kom dag – na weer & wind & kranke waan
dit is die bos waarin my huisie staan
© Carina van der Walt
Tilburg, Nederland
Januarie 2021, laaste bygewerk 21 Januarie 2024
Carina van der Walt skryf uit Tilburg, Nederland:
Ek trek die stoute skoene aan deur te speel met die literêre term “pastiche” in ‘n gedig van H.A. Fagan en van N.P. van Wyk Louw.
Ek verskaf graag die volgende kontekstualisering:
In Afrikaans:
A.P. Grové het nie baie positief oor die pastiche geskryf in sy Letterkundige Sakwoordeboek vir Afrikaans nie. Sy woorde “sameflansing” en “onoordeelkundige ontleding / ontlening” stuit my nogal teen die bors en “musikale allegaartjie” is nie in my aanbod van toepassing nie. Ek probeer ook nie ‘n satiriese effek hiermee bereik nie. In die HAT, 6de uitgawe (2015) ATKV Gedenkuitgawe word die woord “doelbewuste nabootsing” gebruik en dit pas beter, want ek het dit inderdaad doelbewus gedoen.
In Nederlands: Op die Nederlandse dbnl staan die volgende
pastiche-1
Etym: Fr. nabootsing < It. pasticcio = pastei, mengelmoes. “Oorspronkelijk een kunstwerk, een muziekstuk of een literair werk dat bestaat uit een ‘mengelmoes’ van fragmenten uit andere werken.”
(Nee. Ek het geen “fragmenten uit andere werken” gebruik nie, maar net uit één spesifieke gedig van die twee verskillende digters.)
pastiche-2
Etym: Fr. nabootsing < It. pasticcio = pastei, mengelmoes.
“Los van de oorspronkelijke, etymologische betekenis duidt de term pastiche meestal op een kunstwerk, vooral literair, waarin de stijl en de thema’s van een auteur of van een bepaalde generatie of periode worden nagebootst: het werk kan (bijna) gelezen worden alsof het echt van de hand van de gepasticheerde auteur of uit de gepasticheerde periode kwam. Daarbij worden wel eens originele fragmenten ingelast (zie pastiche-1). Dergelijke stijlnabootsingen kunnen onbewust tot stand komen, bijv. vanuit een gebrek aan inspiratie of persoonlijkheid of vanuit overdreven bewondering voor een auteur.”
(Nee, geen van die genoemde elemente [“gebrek aan inspiratie of persoonlijkheid of… overdreven bewondering”] was van toepassing by die skryf van hierdie pastiches nie.)
“Maar meestal wordt met pastiche een bewust toegepaste en stilistische virtuositeit vergende poëtische techniek bedoeld.“
(Hiermee kan ek saamstem.)
“Soms beschouwen pasticheurs hun werk zelfs positief als een vorm van ‘toegepaste’ literaire kritiek of als een stijloefening…”
(Ek dink ook so daaroor. Positief. Maar dan was die idee van my styloefeninge om ander parallelle seisoene in ander tipes landskappe te betrek, omdat ek aan die anderkant van die wêreld die seisoene en landskappe intens beleef en in staat is om so daaroor te kán skryf.)
“In de moderne Nederlandse literatuur zijn Kees Stip en Paul Claes (bijv. Mimicry, 1994) bedreven pasticheurs.”
Tot slot:
Ek het my twee bewerkings van Vroegherfs en Ek het ‘n huisie by die see deeglik onderwerp aan wat pastisches volgens verskillende literêre jargons uit twee sustertale is. Vir my persoonlik is dit wat ek daarmee gedoen het tog net bietjie anders. Ek het tussen drie en vyf jaar aan die twee tekste gewerk. Die herfs in ‘n Tilburgse bos soos die Oude Warande het my hart gesteel. En ja, ek droom van ‘n huisie, maar dis meestal ‘n verwarrende droom. Daarin kruis ‘n huisie aan Valsbaai se kus ‘n huisie in Knysna se bosse. Of is dit tog weer die Oude Warande?
