Sand skiagram
(vir Lorraine)
jy het jou lyfafdruk vir my
in die sagte sand laat bly
waar jy grasieus op jou sarong
in die son en die wind
lê en bruinbrand het
soos in die song:
tanned and young and lovely
soos ’n kind wat met
sy vinger dotjie tot dotjie verbind
trek ek jou sand-silhoeët
se buitelyne ekspressief
sodat ek jou steeds terwyl jy weg is
nog hier kan behoed
maar die wind se wasem
en winternag dou
het dit dommelig weggespoel
en slegs in my brein se laserskyf,
lewe jou uit-geëtste cool
beeld – jou gesig, jou lyf – nog
tot jy terugkeer
en ek kan loer
om al my dotjies tog
regoor jou weer saam te snoer
© Meyer van Rensburg, 2024