Ek wil duiwe hoor
Hebban olla vogala …
Volle waarneming draal –
‘n tortel kon landing waag
in die bedoringde koorsbome
en jou stem, lief, opgewek het
tot môre sê, want ek weet
jy wil ook duiwe hoor
as dit by die laaste heenwys kom.
Duiwe het die program bespreek
wanneer ons huis opgee.
Duiwe sal bly woel en koenkel
sodat hulle nie agter raak
met ons weggaan nie.
Terwyl ons hulle hoor
sal daar nie ‘n afgrond wees nie,
hulle het altoos oorgeneem
waar die blare van die populierbos
op die plaas ophou klap, verdof.
Hy hou steeds nie water nie:
‘n skilpaddop van ‘n brug,
gegiet oor ‘n ry konkas
laat die water onderdeur vloei,
sonder ‘n tyd om te swig,
suig alle geluide in.
Seekant toe sal die water kabbel –
die stroompie het ‘n rivier geword
tot rasende vloede, watervalle
tewens in my eie lyf vertak.
Maar ek wil weer duiwe hoor.
Luister mooi, my lief, verby die jare
het selfs die opdrifsels
tussen die wrakke van die rivier
stem gekry in namakwaduifies
wat voor die broeiseisoen
daar sit en stokkies draai.
© Pirow Bekker, 2024
