Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
15 July 202415 July 2024

Joan Hambidge. Wallace Stevens (V)

 

I

Ek sou waarskynlik ook met werk oor dekonstruksie en die postmodernisme vir Harold Bloom tot die School of Resentment behoort het.

Maar sy invloed op my werk as digter en teoretikus is enorm. The anxiety of influence en A map of misreading is twee tekste waarin ek by herhaling terugkeer. Die hele kwessie van misreading en hoe die digter teen die vaderdigter ‘n eie ruimte moet open.

Sy seminare aan Yale Universiteit was ‘n belewenis. Eweneens is sy studie oor die Westerse kanon ‘n baken, al verskil hierdie leser met van sy stellings. Sy beroemdste (vir ons altans) studente was natuurlik Camille Paglia (Sexual Personae: Art and Decadence from Nefertiti to Emily Dickinson, 1990) en Naomi Wolf.

 

II

Hy is die mees gerekende skrywer en teoretikus oor Wallace Stevens en dit is die mening o.a. van Frank Kermode.

Wallace Stevens eerder as T.S. Eliot vir Harold Bloom.

Bloom gebruik die terme precursor en ephebe om die gesprek tussen die voorganger en die jonger digter uit te wys. Wallace Stevens, volgens Bloom is veral beïnvloed deur Wordsworth, Shelley, Keats, Emerson en Walt Whitman.

Die sogenaamde “anxiety of influence” waarmee alle digters worstel, het Bloom vir my helder oopgemaak.

 

III

 

Wallace Stevens aan Elsie: ‘n ongeposte brief

 

Geliefde Bo-peep,

muse, leser:

vergeef my die versending van my verse.

Ek weet jy voel

dat die verse net aan ons behoort,

dat ek hierdeur,

met die uitstuur van die verse na ander oë

die heilige kommunie van ons liefde óphef.

Hierdie proses – soos ‘n poskaart van die vulkaan –

is self-kommunie, self-gesprek, self-verloëning.

Ek is sakeman én digter, kibbelaar én knoeier;

tog weet niemand van hierdie bedryf

wanneer eise oor ongelukke en versekering

op my finale oordeel, beslissing wag.

Hoe word die glasstukke van ‘n ongeluk

nie in ‘n derdeparty-eis weggeskryf nie?  Hoe

breekbaar ‘n lewe, hoe grusaam die noodlot?

Poësie, ‘n gekibbel met die self, kry net lewe

wanneer dit gelees, beoordeel, selfs veroordeel

word deur letterkundige eksekuteurs, weet ek,

‘n naweek-digter, ‘n wandelaar verby ‘n huis

waar iemand toonlere oefen, ‘n swart voël sing

in die berkebome. Niks wat nie daar is nie,

en wat ook daar is.  Die eenvoud van die alledaagse.

Nie eenmaal nie, maar dertien keer sal ek inkyk,

afloer, opteken, skrap in die winterlandskap

wanneer versreëls soos sneeuvlokkies val,

die ys soos ‘n lang baard aan die junipers hang.

Eens het ek daagliks my gedigte na jou gestuur,

net na jou, jou oorgewen, jou deel van my gemaak

in klein linne-kladboeke vol bottende oureole.

Nou wag ons op Harmonium, op beoordeling,

op die uitbetaling van ‘n andersoortige polis:

ek plaas my gedig soos ‘n fles in Tennessee

op ‘n heuwel sonder singende voëls …

 

Hierdie gedig, ‘n gekibbel met die self, tree in gesprek met vele gedigte van Stevens.

Op ‘n Sondag (koue winter in Kaapstad, Julie 2024) ‘n terugblik na my ervaring van die koudste winter beleef in Connecticut. Einde 1984.

In ‘n huis vir besoekers uit ander ruimtes en toe die eerste ervaring van sneeu.

 

Nog net een maal

 

Vir my moeder

 

Nog net eenmaal wil ek soos ‘n kind

kleiner kleiner kleinste kyk:

 

sneeuvlokkies opvang in ‘n hulsel

van plastiek                verwonderd toekyk

hoe Vader Krismis vlugvoets op ‘n slee

deur spatsels sneeu van blink

kan ry

 

dan ook die dordroë barste

in die grond van my jeug onthou

bekyk dit kraak

weerbarstig oop; niks sal weer

volkome heel kan wees

 

die kerktoring die dorpsplein

bowenal die kerkhof langs ons huis

 

Nog een maal wil ek soos ‘n kind

die vensters ondergronds van die Katolieke Kerk

sien

en weet: dis onherroepelik

behou

 

New York 19 Desember 1984

 

Die vers is begin in NY en voltooi in New Haven. ‘n Navorsingsrespyt te Yale.

My angs van beïnvloeding so verwoord: Wallace Stevens via Bloom via die koue landskap van New Haven waar my eerste gedigte in die begin tagtigs ontstaan het.

‘n Landskap waarheen ek by herhaling terugkeer: in herinnering en by die lees van studies geskryf deur geleerdes in New Haven.

Waarom skryf vrouens meer briewe as wat gepos word? Die gedig as brief, as versending …

(‘n Vraag van Dorian Leader, die Britse Lacaniaan oor seksuele begeerte.)

Dikwels word ‘n gedig verkeerd vertolk of dalk kom dit laat by die bestemming aan …

Of word die gedig eers by nabaat reg verstaan? Dat jy ver moet reis om terug te keer na jou beginpunt?

Die ewige sirkelgang van skryf en begeerte.

Joan Hambidge

 

14 Julie 2024

Kaapstad

 

Bronne:

 

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.

– 1977. Wallace Stevens: The Poems of our Climate. Ithaca, N.Y., and London: Cornell University. Press.

Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.

Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.

Hambidge, Joan. 1985. Hartskrif. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

– 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.

 

 

 

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Wallace Stevens (IV)
Joan Hambidge. Wallace Stevens en J. Hillis Miller →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • Elisma van Zyl. Tydloos
  • Paul Kloppers. hemelrog
  • ND Cronjé. navigasie
  • Digtersprofiel: Vincent Oliphant
  • ND Cronjé. wiskunde

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d