I
Ek sou waarskynlik ook met werk oor dekonstruksie en die postmodernisme vir Harold Bloom tot die School of Resentment behoort het.
Maar sy invloed op my werk as digter en teoretikus is enorm. The anxiety of influence en A map of misreading is twee tekste waarin ek by herhaling terugkeer. Die hele kwessie van misreading en hoe die digter teen die vaderdigter ‘n eie ruimte moet open.
Sy seminare aan Yale Universiteit was ‘n belewenis. Eweneens is sy studie oor die Westerse kanon ‘n baken, al verskil hierdie leser met van sy stellings. Sy beroemdste (vir ons altans) studente was natuurlik Camille Paglia (Sexual Personae: Art and Decadence from Nefertiti to Emily Dickinson, 1990) en Naomi Wolf.
II
Hy is die mees gerekende skrywer en teoretikus oor Wallace Stevens en dit is die mening o.a. van Frank Kermode.
Wallace Stevens eerder as T.S. Eliot vir Harold Bloom.
Bloom gebruik die terme precursor en ephebe om die gesprek tussen die voorganger en die jonger digter uit te wys. Wallace Stevens, volgens Bloom is veral beïnvloed deur Wordsworth, Shelley, Keats, Emerson en Walt Whitman.
Die sogenaamde “anxiety of influence” waarmee alle digters worstel, het Bloom vir my helder oopgemaak.
III
Wallace Stevens aan Elsie: ‘n ongeposte brief
Geliefde Bo-peep,
muse, leser:
vergeef my die versending van my verse.
Ek weet jy voel
dat die verse net aan ons behoort,
dat ek hierdeur,
met die uitstuur van die verse na ander oë
die heilige kommunie van ons liefde óphef.
Hierdie proses – soos ‘n poskaart van die vulkaan –
is self-kommunie, self-gesprek, self-verloëning.
Ek is sakeman én digter, kibbelaar én knoeier;
tog weet niemand van hierdie bedryf
wanneer eise oor ongelukke en versekering
op my finale oordeel, beslissing wag.
Hoe word die glasstukke van ‘n ongeluk
nie in ‘n derdeparty-eis weggeskryf nie? Hoe
breekbaar ‘n lewe, hoe grusaam die noodlot?
Poësie, ‘n gekibbel met die self, kry net lewe
wanneer dit gelees, beoordeel, selfs veroordeel
word deur letterkundige eksekuteurs, weet ek,
‘n naweek-digter, ‘n wandelaar verby ‘n huis
waar iemand toonlere oefen, ‘n swart voël sing
in die berkebome. Niks wat nie daar is nie,
en wat ook daar is. Die eenvoud van die alledaagse.
Nie eenmaal nie, maar dertien keer sal ek inkyk,
afloer, opteken, skrap in die winterlandskap
wanneer versreëls soos sneeuvlokkies val,
die ys soos ‘n lang baard aan die junipers hang.
Eens het ek daagliks my gedigte na jou gestuur,
net na jou, jou oorgewen, jou deel van my gemaak
in klein linne-kladboeke vol bottende oureole.
Nou wag ons op Harmonium, op beoordeling,
op die uitbetaling van ‘n andersoortige polis:
ek plaas my gedig soos ‘n fles in Tennessee
op ‘n heuwel sonder singende voëls …
Hierdie gedig, ‘n gekibbel met die self, tree in gesprek met vele gedigte van Stevens.
Op ‘n Sondag (koue winter in Kaapstad, Julie 2024) ‘n terugblik na my ervaring van die koudste winter beleef in Connecticut. Einde 1984.
In ‘n huis vir besoekers uit ander ruimtes en toe die eerste ervaring van sneeu.
Nog net een maal
Vir my moeder
Nog net eenmaal wil ek soos ‘n kind
kleiner kleiner kleinste kyk:
sneeuvlokkies opvang in ‘n hulsel
van plastiek verwonderd toekyk
hoe Vader Krismis vlugvoets op ‘n slee
deur spatsels sneeu van blink
kan ry
dan ook die dordroë barste
in die grond van my jeug onthou
bekyk dit kraak
weerbarstig oop; niks sal weer
volkome heel kan wees
die kerktoring die dorpsplein
bowenal die kerkhof langs ons huis
Nog een maal wil ek soos ‘n kind
die vensters ondergronds van die Katolieke Kerk
sien
en weet: dis onherroepelik
behou
New York 19 Desember 1984
Die vers is begin in NY en voltooi in New Haven. ‘n Navorsingsrespyt te Yale.
My angs van beïnvloeding so verwoord: Wallace Stevens via Bloom via die koue landskap van New Haven waar my eerste gedigte in die begin tagtigs ontstaan het.
‘n Landskap waarheen ek by herhaling terugkeer: in herinnering en by die lees van studies geskryf deur geleerdes in New Haven.
Waarom skryf vrouens meer briewe as wat gepos word? Die gedig as brief, as versending …
(‘n Vraag van Dorian Leader, die Britse Lacaniaan oor seksuele begeerte.)
Dikwels word ‘n gedig verkeerd vertolk of dalk kom dit laat by die bestemming aan …
Of word die gedig eers by nabaat reg verstaan? Dat jy ver moet reis om terug te keer na jou beginpunt?
Die ewige sirkelgang van skryf en begeerte.
Joan Hambidge
14 Julie 2024
Kaapstad
Bronne:
Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New Haven: Yale University Press.
– 1977. Wallace Stevens: The Poems of our Climate. Ithaca, N.Y., and London: Cornell University. Press.
Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.
Hambidge, Joan. 1985. Hartskrif. Kaapstad: Human & Rousseau.
– 2005. En skielik is dit aand. Pretoria: Protea.