Bevry die Spreukevrou
moet my nie besing
by die stadspoorte nie
moet nie op my steun
om my vrugte te pluk nie
moet my nie meet
aan edelstene nie
moet my nie besing
as my lamp nog brand in die nag
moet my nie besing
as ek ons kinders voed en klee
moet my nie besing
laat mý toe om te sing
op my eie akkoord
laat my toe
om te dans as dit reën
gun my om vrou te wees
onbevrees
laat my toe
om te sing
laat mý sing
© Elisma van Zyl, 2024