Ashoop
Moeilik beweeglik en bekwaal
skud die musiek van jare her
weer ons verlangens vertikaal.
Lankmoedig soos die papier, my lief,
raak alles in die dowwe lig
by uitstek skimmersag gewiek …
Ten spyte van huidige jagtersblok
– iets Hemingways moes destyds
afgevryf het op my jeug –
kan ek die stappies van ‘n matador
as myne waan, kan ek die bul
by die horings pak, die skare
gaande. Weet ek jy sal die wyn
waarin die see sy pêrels week
voorsit vir die heg én die versuim.
Wals die see sy pêrels algar vals
en begin woorde in ons ore gons,
ons lippe hard soos hars,
vlam die lyf wat ek na jou toe bring
nog op, weerspreek dit die blus, konsuis
uit my uit voor die ontroering van die as.
© Pirow Bekker, 2024
