Noodshulp
Wees jy, woord, nog my neutekraker,
nie los van as nie, nie lomp
betrekkend, oordrewe
peanutbevarker –
dis alles nie jou styl nie.
Jy wil juis die kans aangryp
om jou staal ten toon te stel.
Eers het ek gespeel,
want neute bied hul aan vir spel
en die heiligheid van kleur:
amandelboom maak die hemel groen
totdat die vrugte bruin aarde word
mak soos die trosse bome, opgeërd,
bevry word van die grond.
Hoe onkreukbaar lyk die neut:
uitdagend gedresseerde leiklip
wat nou koel in my hand kom nestel,
sonder voorgee, sonder verraad,
net deur die son en reën mishandel.
Hy haak gesellig aan by mensename,
soos met Okker wat twee toebroodjies bestel
terwyl hy dalk “okkerneute kraak” –
geen toets egter nie vir neutekraker.
Met vroue raak die uitspattigheid baldadig,
laat die jong ramme snuif en eenkant nies:
Akadamia is van inbors dame
en Pekan koppel skoonheid
aan die grasie van ‘n eend.
Ernstiger van allure raak die bedryf
met varkies in die bone
en die verskuilde kasjoe
as klanknabootsbaar, kindertrooster.
Al die voorgaande egter dowe neute
as dit kom by die ware toets, my kraker.
Alles wat ver gehou was, is nou hier, gestroop
tot “‘n harde neut om nog te kraak”,
en nie net netelig nie vir jou wat gebou is
vir enkel greep. Jy moet uit my gereedskapkis
voorbeeld trek uit kraaibek se haaktandvat,
die rondomtalieskroef van krokodil.
Ek haal jou oor, my makker. Met woord en daad
sal ons die glipglad bliksem van ‘n neut
neerlê in die plek
waar klein voëltjies nog waaghalsig pik
aan kossies op die krokodil se kaak.
© Pirow Bekker, 2024
