I
Die dood van die skrywer is die geboorte van die leser.
Die literatuurteorie fokus in die 19e eeu op die skrywer; hierna met die strukturalisme in al sy gedaantes, word die teks die uitgangspunt en in die sestigerjare word die leser die fokuspunt in die resepsie-estetika of reader response theory. Vandag is daar ‘n samehang tussen teks, leser en skrywer. Onderhoude met skrywers kan onbewustelik of onbedoeld die intensie van die skrywer aktiveer of verduidelik.
In Barthes se Roland Barthes par Roland Barthes skryf hy ‘n outobiografie in die derdepersoon. Oor sy lewe en teoretiese standpunte. Alles moet gelees word asof dit ‘n karakter in ‘n roman is wat hier aan die woord is. Lesers betrek al sy ander tekste in hierdie komplekse geskrif.
Hier illustreer hy presies wat hy bedoel het met die dood van die skrywer en die leser se gesag. Die teks is ‘n versameling van aanhalings (“tissue (or) fabric of quotations” uit verskillende kulture (sisteme) en bepaald nie net uit een persoon se ervaring nie. Hierom is die teks se eenheid nie verbind aan die skrywer of sy inspirasie nie, maar lê dit eerder by die leser. Die outeur of skrywer is net ‘n “scriptor”.
Ná sy dood het Jacques Derrida ‘n artikel geskryf wat heet:”The deaths of Roland Barthes” met verwysing na die verskillende teoretiese standpunte wat hy telkens ingeneem het.
II
Die dood van die ingeligte leser is die geboorte van chaos, kan ‘n mens byvoeg. Lesers wat nie boeke lees nie, maar tóg ‘n oordeel uitspreek, gegrond op ander se besprekings, sou Barthes gegru het.
(Of ‘n siening dat belangrike verwysings in die teks nie nagespeur hoef te word nie.)
Die “ek”, wat ‘n teks oopmaak, is alreeds ‘n versameling van ander tekste.
“The “I” that approaches the text is already a plurality of other texts, of codes which are infinite …” skryf hy in S/Z (16-17). Oorspronklik in Frans gepubliseer in 1970 en vertaal in 1974. Jonathan Culler het ‘n uitstekende boek geskryf oor Roland Barthes, soos Philip Thody en Annette Lavers, o.a.
Die begrip doxa, oftewel ‘n populistiese opinie, is dit waarvan die leser hom- of haarself moet bevry. ‘n Sterk teks kan die leser manipuleer en intimideer
Hierdie kritiese anatagonis, soos Wayne Booth hom genoem het, was ‘n idiosinkratiese leser, maar ook ‘n opgeleide linguis.
Writerly (scriptible) en readerly (lisible). Telkens homself vernuut: enersyds ‘n semioloog, andersyds ‘n sibariet wat op reise gaan na Japan, skryf oor die dood van sy moeder; en selfs modeverskynsels gelees as ‘n taalsisteem.
“To unwrite the world”, som Culler dit goed op op bladsy 57 met verwysing na Barthes se lesings van Sollers se tekste. Goeie skrywers is logothetes of skeppers van ‘n eie taalsisteem (1983: 49).
Ek keer by herhaling terug na Barthes om letterkundige tekste en verskynsels te verstaan.
Joan Hambidge
Kaapstad
14 September 2024
Bronne:
Barthes, Roland. 1988. “The death of the author” in David Lodge (red.) Modern criticism and theory – a Reader. Londen: Longman.
– Roland Barthes. Londen: MacMillan. Vertaal deur Richard Howard.
– 1970/1974. S/Z: An Essay. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Miller.
– 1973/1975. The pleasure of the text. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Miller.
– 1971/1976. Sade/Fourier/Loyola. New York: Farrar, Straus and Giroux. Vertaal deur Richard Miller.
– 1953/1967. Writing degree zero. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Annette Lavers en Colin Smith.
Culler, Jonathan. 1983. Roland Barthes. Londen: Fontana.
Derrida, Jacques. 1988. “The Deaths of Roland Barthes”. https://philpapers.org/rec/DERTDO-2 Besoek 14 September 2024
Lavers, Annette. 1982. Roland Barthes: Structuralism and After. Londen: Methuen.
Thody, Philip. 1977. Roland Barthes: a Conservative Estimate. Londen: MacMillan.
Roland Barthes
Linkshandig skryf jy
teen die doxas van jou tyd
in én op reis in Japan is jou
L’Empire des signes dié gids vir my
ten einde ‘n land, verhul in kodes,
oop te maak. Veral hoe jy
opstand en rusies sien as
‘n kanker van taal: tuberkulose
agtervolg jou lewenslank; dog die plesier
van musiek, soos skryf, verlos jou
uit die monsters van totaliteit: vir my
L’amour et la Folie. En La Chambre claire.
Die grein van jou stem bekoor en verplaas
nes die éraflures wat jy stilweg oor alles plaas.
© Joan Hambidge

Met groot plesier gelees. Meesterlik en inspirerend.