Versindaba kondig met trots aan die wenner van die Augustus-kompetisie waarin digters kon skryf oor vroue, mans of kinders: TC Bosfoff wen met ‘n aangrypende gedig “Twee kante van skuldig”.
Sal die digter asseblief met Versindaba kontak maak om die kontantprys van R1 000 op te eis: taljard.marlies@gmail.com
Twee kante van skuldig
Lyfie sag, lyfie klein,
lyfie wat nou eina pyn,
pappa was weer baie kwaad,
mamma sê hy was weer laat.
As mamma huil kan sy nie kyk
hoe die einas op my lyfie lyk,
daarom wag ek baie stil
want hier drink sy net nog ‘n pil.
Vanaand sal pappa met blomme kom,
koop vir mamma met soentjies om
en as die tannie oor my merke vra,
sal mamma my alleen die skuld laat dra.
Ek het geval, my kop gestamp,
vasgeloop in die groot staanlamp
want mamma sal hare toe kan smeer
en niks ooit op pappa blameer.
