This book consists of what I do not know: the unconscious and ideology, things which utter themselves only by the voices of others.
Roland Barthes is gebore op 12 November 1915 in Cherbourg. Sy vader, Louis sterf tydens die Eerste Wêreldoorlog voor sy eerste verjaarsdag.
Hy word op die platteland groot op Urt en in Bayonne by familie, maar hy en sy moeder woon later in Parys.
Sy MA-verhandeling het oor die Griekse tragedie gehandel.
Weens Barthes se swak gesondheid weens tuberkulose besoek hy dikwels sanatoriums. Hierom is hy vrygeskeld van militêre diensplig tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Barthes sterf in 1980 toe ‘n wasgoedlorrie hom raakry.
I
In 1980 skaf ek die outobiografiese-biografie van Barthes aan. Hardeband. Teen R19.05. Netjies oorgetrek met plastiek. Vol kanttekeninge, krabbels en aanwysings. > en *. Net in potlood geskryf.
Die skrywer wat die dood van die outeur aangekondig het, neem dan homself, die skrywer Roland Barthes onder die loep. ‘n Paradoks. Die boek dekonstrueer die konvensionele biografie: ‘n outobiografiese-biografie waar hy na homself in die derdepersoon verwys, maar ook as ‘n ek wat aan die woord gestel word. (Opvallend dat hy as “ek” praat oor siekte.)
Disparate projekte, skryf Culler tereg in die slot van sy studie oor die oeuvre Van Barthes (1983: 124). Dít wat gekritiseer (“denigrated”) is, word herbesoek. En hierin is die plesier opgesluit. In haar Barthes Reader (1982) gee Sontag ‘n versameling van wat sý as relevant ag.
Roland Barthes deur Roland Barthes begin met die volgende woorde:
It must all be considered as if spoken by a character in a novel.
Tout cici doit être considéré comme dit par un personnage de roman.
Op bladsy 136 in die afdeling Odeurs ~ Odors
(I recall odors with a certain mad intensity: because I am growing old.)
By Proust is daar drie uit die vyf sintuie wat herinnering bepaal.
Op bladsy 162 in die afdeling La seiche et son encre ~ The cuttlefish and its ink
Barthes wys daarop dat hy homself beskerm deur die skryfproses, maar is ook ‘n offer van die self:
I tie up my image-system (in order to protect myself and at the same time to offer myself).
II
Op bladsy 152 in La récession ~ Recession:
“This book consists of what I do not know: the unconscious and ideology, things which utter themselves only by the voices of others.”
Alles beweeg deur hom; hy is / het ‘n “blind spot”. Al wat aan hom behoort is sy “image-repertoire: “my phantasmatics: whence this book”. Wat hy gebruik van psigoanalise en politieke kritiek, word hy soos Orfeus, maar sonder om terug te kyk: “… declaring them (or so little: just enough to restore my interpretation to the course of the image-system).” En dan verderaan: alles gebeur deur die Moeder, langs die spieël (1980: 153).
Hier sien hierdie leser ‘n verwysing na Camera Lucida, wat twee maande voor sy dood verskyn het, as La Chambre Claire.
Die dood van sy moeder, Henriette word véral aangrypend in hierdie teks beskryf. En die hele kwessie van punctum en studium kom aan bod.
Studium as die linguistiese aspek van die foto wat ingebed is binne ‘n bepaalde kulturele en politieke konteks teenoor die punctum of die persoonlike reaksie op die foto.
Die foto’s in Roland Barthes is eweneens tersaaklik: een waar hy rook met ‘n jas aan; die regterhand is in die jassak. Met die linkerhand wat die sigaret aansteek. En drie foto’s in verskillende werkkamers: ”My body is free of its image-repertoire only when it established its work space. The space is the same everywhere, patiently adapted to the pleasure of painting, writing, sorting.”
Elke vinjet of rubriek in Roland Barthes sluit aan by sy volledige oeuvre. The Pleasure of the Text (1975) met die opposisie tussen plesier en jouissance. Jouissance as ‘n ervaring van tekstase wat buite woorde lê en on-verwoordbaar is.
Die foto van die jong kind – ongeveer 8, 9 jaar – in die arms van die moeder: “The demand for love”.
Hier ‘n verwysing na A Lover’s Discourse (1977 /1979) met die sub-titel: Fragments.
‘n Kartering van liefde en liefdesobsessies met voorletters van denkers (geliefdes) in die kantlyn.
Veral Goethe se Die Leiden des Jungen Werthers is opvallend in hierdie teks met toespelings op musiek: Schubert. Hoe die geliefde jou hele universum word: jy wag, jy wag …
In Roland Barthes is daar verwysings na die afwesige vader (hy het gesterf in die oorlog) en die versorgende moeder. En hy verwys na sy ennui as kind. Is verveling dalk sy vorm van histerie?, vra hy.
Migraines en siekte. Doxa en paradoxa. In die eggokamer van skryf.
Altyd opposisies by Barthes: lisible teenoor scriptible.
Altyd Le frisson du sens (The thrill of meaning) teenoor Fautes de frappe (Typos) wat ‘n betekenis het uit die onbewuste. Die goeie sekretaresse maak geen foute nie, skryf hy speels, want sy het geen onbewuste nie! (1977: 97).
III
Die teks as liggaam. Barthes weens siekte bly deurentyd bewus van liggaamlikheid. Racine en Balzac soos Robbe-Grillet het hy geanaliseer.
Sy gunsteling bly Proust.
Ons sal verder ingaan op Roland Barthes se uitsonderlike tekste.
Joan Hambidge
27 September 2024
Bronne:
Barthes, Roland. 1973/1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Miller.
– 1975/1977. Roland Barthes. Londen: MacMillan. Vertaal deur Richard Howard.
– 1977/1979. A Lover’s Discourse: Fragments. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Howard.
– 1980/1981. Camera Lucida. New York: Hill and Wang. Vertaal deur Richard Howard.
Culler, Jonathan. 1983. Roland Barthes. Londen: Fontana.
Sontag, Susan (red.) 1982. A Barthes Reader. New York: Hill and Wang.
La seiche et son encre
JdL
In Roland Barthes deur homself,
lees ek op oor die inkvis: behorend
tot die orde van Coleoidea.
Ek onthou ‘n seekat
in jou sitkamer in Seepunt,
wat snags stilletjies glip
uit een tenk en soggens
in die tweede een alleen
aangetref word.
Hoe hierdie outjie,
‘n platgesmeerde blits
van kleur kon verander;
boonop sy mantel draai
soos dit pas, verduidelik jy.
Later in ‘n akwarium,
(nes ons besoeke aan ‘n dieretuin)
weet ek Barthes had gelyk:
singe entre les signes …
as jy nie ‘n bekende taal besit nie,
steel een soos alle digters doen:
altyd immer voortdurend
in ballingskap, verbanning
of ‘n interne verhuising.
Met potlood of swart ink,
on le sait, ‘n amfibioloog.
© Joan Hambidge