ʼn Gedig vir my begrafnis
Na aanleiding Mozart se “Dies Irae” in sy “Requiem”
Ek sien die uitspansel skeur,
ek sien berge ontplof.
Ek sien oseane kook,
ek sien wat was ontword.
Ek sien ruimte en tyd
word deur vuur verteer;
swael wat reën, skarlaken stof,
siele wat friemel in vlammende rook.
Wraak word willekeurig uitgestort.
Dáár roep ʼn engel galmend uit:
“In hierdie dag van ewige nag
moet miljoene siele sidderend hoor:
‘Wat sóék julle hier, besmette gespuis?’ “
ʼn Trompet weerklink en ruk grafte oop;
ʼn groot gekerm lê hartseer bloot.
Weerlig blits, daar’s ʼn donderslag,
miljoene siele dreun in ʼn koor:
“Kyk, die glimmende Man op die kruis –
die Een in die middel, ons is met bloed gedoop;
Hy’t getriomfeer oor wraak en die dood.”
© Jannie Pretrorius, 2024