Prematuur (1991)
(Vir Lina)
Daar was iets heiligs aan daardie aand
toe ons motor in die lug tol
en in die bosse aan die ander kant
van die snelweg op sy wiele land.
Die veiligheidsgordel het my wind
uitgeruk, maar my man
het blitsvinnig oor my gebuk
om lewe in my terug te blaas
en toe plekke met ’n vreemde vrou
(dalk ’n engel) geruil. Ek het
toe-oë onder haar kombers
in die hande van die heelal gelê.
“My baba is dood,” het ek gesê
“Ek bloei,” en haar hand stywer
Vasgegryp. By ongevalle het die bloed
in gebreekte water verander.
Tydens die voornag is ek ingespuit
om tyd te koop vir die longetjies
om ryp te raak. Die volgende middag
het ’n engel neergedaal en die klip weggerol.
Die kind het met ’n oorwinningskreet
uit die dal van doodskaduwee
gekom en teen my bors kom skuil.
©Marthé McLoud, 2024