Nóg ’n kind
(1988)
Dit was ’n Maandagmiddag.
Die son was dodelik in die blou lug.
Meteens klief gille soos ’n mes deur murg
en been in ons klein meenthuiskompleks.
Ek is die enigste een tuis. Al die ander
Inwoners is nog by die werk.
Deur die venster sien ek ’n huishulp
op die gemeenskaplike gras.
Sy hou haar kop vas en
weeklaag, “Die kind. Die kind,”
Hoeveel tree kan ’n peuter van die
kombuis na hulle swembad gee?
Die huishulp was gou na die kafee.
Die agtjarige boetie was besig
om kinderprogramme te kyk.
Die agterdeur was nie op knip nie.
Die beskermengel het probeer, maar
sy vlerk het aan die deurknop vasgehaak.
Die son het verbleek.
Die middag het yskoud geraak.
©Marthé McLoud, 2024