Die ses woorde van die Sigeuner: Gedigte van Kostis Palamas.. Uit Grieks vertaal deur Louise Cilliers. 2024, Naledi.
Resensent: Marius Crous
I
Ek moet erken, ek het nog nooit van die Griekse sigeunerdigter Kostis Palamas gehoor nie, totdat ek hierdie vertaalde gedigte deur Louise Cilliers gelees het. Louise Cilliers is bekend as klassikus en is veral bekend vir haar omvangryke teks oor Aristoteles se Ars Poëtika in Afrikaans.
‘n Mens hoef nie te veel oor die digter te google nie, want Cilliers sorg vir ‘n omvattende inleiding oor sy lewensverhaal, sy werke, sy taalbenadering en selfs oor die sigeuners, oor wie daar die stereotipe beeld bestaan van “die onafhanklike, vryheidsliewende” (17) swerwers met hulle kleurvolle karavane. Deesdae is hulle ’n minderheid en word daar “veral wat betref werk en behuising” teen hulle gediskrimineer. Televisiekykers ken sigeuners as liefhebbers van uitspattige bruidsrokke en oordadige troues. Ewe interessant is die opmerking deur Cilliers dat daar ongeveer 10 000 Sigeuners in Suid-Afrika is (18).
In die inleiding word die struktuur van Palamas se “klein epos” verduidelik en waarmee elk van die ses woorde in die titel geassosieer word. Die gedig voer die leser terug na Konstantinopel en beeld ’n verhaal uit oor konflik met die Turke, asketiese geleerdes, Sigeuners met hulle liefde vir musiek en eindig met ’n enigmatiese toekomsvisioen. Die slotvers van die gedig herinner trouens aan die ekokritiese versugting in die era van die Antroposeen:
Dan sal die hele Natuur, Mens en dier,
denkende en nie-denkende wesens,
soos die blaamvrye bome leef
in die groot groen woudlandskap.
Laat jy die eerste wees om met ons
daardie laaste verhewe lotsbestemming te deel –
sigeuner, leef in daardie wêreld
soos jou viool voorspel het. (114)
Die viool waarna hier verwys word, vorm die grondslag van die Vyfde Woord en het eens aan ’n kluisenaar behoort (98). Dié magiese instrument (“weergalose viool”) moet as’t ware aanbid word. Die musiek wat op die viool gemaak word, ontlok egter kritiek:
Wie is hierdie mal man met sy viool
wat nie ons harte streel nie,
Maar probeer om ons te irriteer,
ons woede en haat aan te blaas?
Wie is hierdie skobbejak, hierdie vuilbek frats
wie se viool praat as hy dit aanraak,
wat nie sien wat ons sien nie,
wat met alles spot wat vir ons dierbaar is? (103-4)
In die Derde Woord (53-74) word die Kavakafees, wat saam met die Meifees gehou is, beskryf en wat hierdie gedeelte uniek maak, is die beskrywing van die verskillende Sigeunergroepe. Daar heers groot opwagting oor die koms van die Sigeuners; self diegene wat “vermeng het met vreemdelinge”(55), die hooggeborenes (56), die geleerde Sigeuners (57) die mistici en selfs die Sigeuners wat “hul lewens slyt in tente”(59). In een van die liedere wat die Sigeunervroue sing word ook die weersin wat die Sigeuners by ander ontlok, so verwoord:
Vervloek is julle, O swerwende Sigeuners,
want nooit kry julle ’n haardvuur aan die brand nie;
geen tuiste of vaderland het julle
om blydskap te toon by jul terugkeer nie (63)
Die fees word onderbreek deur ’n herout van die keiser wat die Sigeuners versoek om “’n einde te maak / aan jul omswerwinge van land na land.” (65)
Papadellis verwys in sy blog ShinyGreece.com (sic) na Palamas se teks en noem dat die digter se virtuositeit blyk uit sy vermenging van liriek en sosiale kommentaar. Cilliers slaag myns insiens uitstekend daarin om die liriese inslag te vertaal, want ten tye het ek die gedigte nogal retories oordrewe gevind. Toegegee, dit kom uit die vroeë-1900’s en illustreer ’n nuwe digterlike inslag in die Moderne Griekse letterkunde.
II
Naas hierdie epiese gedig, word daar in die Addendum gedigte opgeneem van moderne Sigeunerdigters, naamlik Bronislawa Wajs en Raine Geoghegan. Eersgenoemde digter het bekendheid verwerf in die patriargale Sigeunergemeenskap van Pole en sy is selfs beskuldig daarvan dat sy met die Poolse regering saamwerk.
Wajs se gedig “Hongersnood” nooi Sigeuners van oral om na haar te luister en op haar woorde te reageer. ‘n Besonder dramatiese reël uit die gedig lui soos volg:
Hoeveel hare, hoeveel vlegsels
is in die nag deur takke uit ons koppe geskeur!
Raine Geoghegan se gedig “Om ’n Romani te wees” (121) waarin sy vertel van die ou dae en hoe die Sigeuners teenoor mekaar opgetree het. Nadat sy al die goeie herinneringe opgenoem het, sluit sy af:
Ek sê vir jou hoe dit was in die ou tyd.
Dit was deksels wonderlik. (122)
Die gedig “Net een kamer” (122) skets vir ons Alf en Amy se ervaring wanneer hulle in ’n nuwe plek intrek, en sy dan tot die besef kom dat die kamer so groot was dat hulle hele Sigeunerwa in die een vertrek kan inpas. Die beknopte lewe in die wa word gekontrasteer met die moderne bestaan, asook die kulturele verskille. Terwyl daar in die kombuis van die nuwe plek net een “wit keramiek opwasbak” was, is sy gewoond aan vier bakke in die wa; elkeen vir ‘n aparte doel.
III
Lesers sal Louise Cilliers ewig dankbaar wees vir die blootstelling aan die moderne Griekse digkuns. Wie sou kon dink dat Sigeunerdigters so digterlik kan klink in Afrikaans. Onlangs is sy ook met die UJ Vertaalprys bekroon vir haar vertaling van Kavafis se gedigte in Afrikaans as Van Alexandrië na Ithaka. Wie is volgende?
Baie interessant omdat ek vandag die eerste keer “iets van Sigeuners” gelees het.
Ek sal graag meer wou hoor.
Lydia Pretorius
Palamas was nie self ‘n Sigeuner nie.
Baie dankie, Marius. Louise Cilliers is ‘n uiters produktiewe vertaler uit Grieks, en sy ken die brontaal baie goed. Op jou vraag aan die einde, ek hoop sy oorweeg Elytis.